Die klein kat is uit die asblik en van 'n seker dood gered deur Eddie. Hierdie is die eerste fotos wat Sandra geneem het die eerste aand. 
Kyk hoe klein en broos en pragtig is sy. Ek was so bang om aan te bied om die dingetjie te probeer grootmaak, ingeval sy dit nie maak nie.... maar Sandra het haar deur die eerste nag gekry en toe besluit ek en Riza ons sal haar neem.
Hier hou Riza haar vas vir die eerste keer en sukkel om haar te kry om die bottel, wat op daardie stadium net so groot soos sy was, te drink.
Met groot vasbyt en baie liefde en geduld het Riza haar deur die eerste paar dae gekry. Didi het mamma gespeel en die nodige lekwerk gedoen ....ai was ons bly daaroor... die blasie en magie het goed gewerk op die S26 .
Kyk net die ontwikkeling ....hier kou sy aan haar eerste been..... o ja, haar naam is Zibi... julle onthou nog van die Zibi can? 'n Naam wat Niel vir haar gekies het toe hy hoor waar ons haar gekry het.
Sy probeer 'n fancy Italiaanse koekie uit die mooi blik steel.
Sy en Taffee het intussen lekker maatjies gemaak. Hy is soos 'n regte oom...wou niks van haar weet toe daar nog gelek moes word nie, maar noudat sy self haar sandboks gebruik, is sy 'n lekker maatjie.
Die laaste fototjie sit sy op haar ma, Riza....en dit maak my natuurlik ouma... se knie en hou die twee honde dop.
Hier is die drie ander seuns in die huis, Taffee en Didi, so pragtig soos altyd en Dee wat soos 'n wafferse prins op my stoelleuning le.
Hy ruik aan Zibi...gee sulke neussoentjies, maar op die stadium vermy die twee katte mekaar sover moontlik.
Ons sal die ontwikkeling van die verhouding fyn dophou en terugvoer gee... Dis die lekkerste gevoel dat 'n klein lewetjie gespaar is. Alle lewe kom van ons Hemelse Vader...die klein hartklop en asem in die longetjies... hoe kan enige iemand dit oor hulle harte kry om te weg te neem. Ons is so bly sy het dit gemaak...sy verskaf soveel vreugde. En sy is mal oor haar bottel hoor! Hoe kry mens haar nou weer af?

