Monday, June 30, 2008

Hannes en Angela is weer bymekaar

Dit was maar 'n lange drie maande so sonder mekaar en Hannes was so opgewonde dat sy meisies moet kom Hy het die aand voor hy hulle op die lughawe gaan haal het hier oorgeslaap en ons het lekker gesing terwyl hy kitaarspeel... soos lank terug..Saterdag het Hannes Angela gebring vir 'n kuier. Ek het dit goed gedink om hulle na Al Dafra .. die Arabiese restaurant by die Abu Dhabi port te neem en hulle het dit so mooi gemaak binne dat ek amper gedink het ons is by die verkeerde plek toe ons instap. Dis altyd 'n heerlike eet-ervaring. Angela was beindruk met die smaak van die Arabiese kosse. Na die ete het ek vir Angela gaan wys waar die "eetboot" vasgemeer staan en sy vra ons moet haar net waarsku voor ons haar op die boot neem dat sy kan pille drink vir seesiek raak. Ek dink dis 'n goeie idee... veral as eet eintlik die hoofding vir die "bootreis" is. Die "eetboot" is 'n Al Dafra restaurant op die water met dieselfde tipe kosse. Ons sal nog eendag gaan ... dink ek. Die boot gaan eers laat uit... iets soos agtuur of nege uur die aand. Dis mos nie 'n goeie tyd vir aaandete nie?? Welkom in die UAE Angela en Alessia. Ons is bly julle is hier.

Friday, June 27, 2008

Mooie meisies

As ek skryf oor die diereseuns, dan moet ek ook vertel van ons mensemeisies. Elma stuur die mooi foto van Amica, Ilke en Xenia an kyk net hoe groot word Xeni. Sy kruip en begin praat. Voeltjies is tjies-ties en sy kan Tikkie se... dis die groot hond se naam. Sy se ook Dadda.. En het sy nie die mooiste twee ousussies nie. Elma se die oumading is WONDERLIK... ek glo haar en ek is so jaloers. Intussen geniet ek klein Alessia wat nou saam met mamma Angela gekom het om by Hannes, wat al van einde Maart hier is, aan te sluit. Sy speel peek a boo en het vir haarself 'n sleutelspeletjie ontwerp. Sy maak so bromgeluidjie as sy die sleutel in haar hand het, dan laat sy dit val en bly tjoepstil... dan kom die handjie in die lug.. regte Italiaanse gebaar en mens kan haar stukkend druk. Hannes laai haar in die kar en sy maak seker haar ma kom ook. Ek hou so lekker vas aan die babalyfie. SOOO lekker om sulke ou kleintjies in die familie te he.

Tuesday, June 24, 2008

Dis jou verjaasdag!!

Baie geluk met jou verjaarsdag Riza. Dis heerlik om jou hier by my te he. Mag dit 'n baie spesiale dag en wonderlike jaar wees. Jy is baie kosbaar vir ons.


Liefde


Mam


Vir almal... Riza het sommer al haar eerste kersie doodgeblaas by die Noodle House. So voor verjaarsdag enetjie.

Friday, June 20, 2008

En wat van die diere seuns hier in Abu Dhabi?

Ek en die diere seuns het 'n wonderlike tyd saam hier en ons geniet mekaar vreeslik. Dee drink steeds sy koffie uit die kraan. Didi en Taffee speel in die sonnetjie voor die venster. Dee slaap op die kussing en die ander twee by my in die bed. Ek besluit dis tyd om Didi en Taffee te laat reg maak en is skoon hartseer dat hulle die aand voor die tyd so vrolik is en speel ... Didi, het julle mos gelees se Riza, is 'n skaam enetjie. Hier is die twee uitgespeel en elkeen kry 'n slaapplek .. Ek het die twee gister oggend veearts toe geneem met so seer hart en bietjie skuldgevoelens. Hulle gaan nie net gesteriliseer word nie, maar ook tande trek. Altwee het 'n melktand of twee wat nie uitgval het nie en dit moet ook uit en terwyl hulle slaap, gaan die toonnaeltjies ook sommer geknip word. Alles verloop baie goed maar die veearts se as hulle lek moet hulle "lampskerms" kry. Veral Taffee moet net lek en ek keer, maar besef ek sal nie dwarsdeur die nag kan keer nie... so terug veearts toe. Dee verstaan glad nie wat ek met hulle aangevang het nie... Ai ouens.. kan hierdie gesig nie mens se hart breek nie... Ek het toe maar die skerms weer afgehaal dat hulle kan eet... sagte kos vir so paar dae tot die bekkies beter is, maar Taffee begrawe die sagte kos onder sy kombers en seer bek of te nie... eet hy sy pellets. Ag oor twee of drie dae is alles vergete... ek is seker.. ek sal laat weet. Anders pak hulle dalkies hulle tasse en gaan saam met Riza terug huis toe..:--)

Wednesday, June 18, 2008

Agteros kom ook in die kraal

Ek weet die Dolfyne kuier is lank lank reeds in die anale van die geskiedenis, maar ek moet nogtans my storie vertel... ook vir die eendag se "vuurmaakhout" van herinneringe as mens nie te veel ander kan doen nie. Die Dolphinarium is 'n ongelooflike ervaring vir oud en jonk en ek het trane in my oe gehad oor die kragtige soepel visse... diere se uitbundige kapperjolle. Ons ontvang 'n mail van Vicky van 'n artikel in die koerant oor hoe reg dit is om diere so vir vermaak te gebruik en hoe gevaarlik dolfyne is en dat hulle aangehou word vir die vermaak en nie vir opvoedkundige redes nie ... ja ja ja... dis alles waar, maar dan het mense diere mak gemaak en heers oor hulle vir so lank as die aarde oud is. As die dolhinarium moet toemaak en die dolfyne terug gestuur word na die oopsee... wat dan van al die diere in dieretuine en navorsings institute en plase? Hoe dit ookal sy en aan wie se kant mens staan, was ek diep onder die indruk van die skoonheid en grootheid van Vader se Skepping. Die rit op die bootjie in die tenk was 'n onbeskryflike ervaring. Ek weet nie of die Dolfyne kan lees en elke keer nr een vang nie, maar ek was so gebless dat dit die keer my beurt was. Ek sal weer en weer na die dolfyne gaan kyk... en almal vir wie ek lief is saamsleep om die groot vreugde te deel... soos ek altyd die dieretuine in Pretoria en Johnnesburg gaan besoek en elke keer geestelik soveel ryker daarvan afkom. As ons God soveel aandag aan detail gee in die dinge en diere en plante en blomme wat deel van Sy skepping uitmaak... hoeveel te meer aan ons wat die kroon van Sy skepping is en aan wie hy die mag gegee het om oor al hierdie amazing dinge te heers. Vir almal wat nog nie die video gesin het nie, klik op die volgende link... http://tussen-die-duine.blogspot.com/2007/06/dolfyne-in-dubai.html Sandra is altyd so oulik om haar kamera byderhand te he. Ek probeer nog onthou om my kamera oral saam te neem..:-)

Monday, June 16, 2008

Ons is braaf

Die vrouens van ons vrouegroep begin ook nou so een vir een regmaak vir vakansie en vakansie beteken Suid Afrika toe. Ons neem so in paaimente afskeid van mekaar en so is ek en Corinne, Sandra en Amelia na die Blou Souk in Sjarjah en dis nogal een plek wat sy naam gestand doen in my kop... om hom te "soek". Ek is in beheer van ons daar kry en my "claim to fame" is dat ek een keer soontoe verdwaal het en weer daarna 'n keer my kroos geneem het met die verdwaalpad saam. Dis omtrent soos Rooikappie... daar is 'n kort pad deur Dubai en 'n langpad deur Sjarjah en dis soos vinkel en koljander... die een soos die ander. Die kort pad is gepak met verkeer en dan moet mens weet watter paaie bestaan nog en watter nie... en die langpad gaan deur Sjarjah se industriële area. Daarvan het Amelia gesê dat sy nooit weer sal dink Soutrivier in die Kaap is 'n vreeslike plek nie. Daar is paar definisies wat verander in die land, onder andere verkeer, chaos en hitte.. maar ons vind die souk en die ou gevoel van wat koop mens en wat los mens kom weer terug. Ek verstom my altyd aan die dinge wat mens skielik so nodig het as mens so deur die tientalle matte-, juwele, klere en antieke winkeltjies dwaal. Daar is pragtige mantels soos die een wat ek by Nepal in die Gobal Village gekoop het en die allermooiste Pashminas... van egte handgeweefde fynste kashmir vir sowat R1700 tot "100% pashmina vir R150... wat dit ookal mag beteken. Die dag as ek R1700 so oor my skouers kan hang sal ek vir julle skryf en het aangekom... of my skip het aangekom... of iets. Dan sal ek ook seker 'n R75,000 se "sy op sy 800 knoop" Persiese mat uit Iran kan koop, of R30,000 vir 'n Kelim uit Marokko kan betaal. Soos altyd is dit baie moeilik om deur die erewag van winkeleienaars en verkoopsmanne te kom en my standaard verweer teen die "aanval" is om te glimlag en te sê dis mooi en ek sal dalk weer kom.. en soms bedoel ek dit regtig... die weerkom deel praat ek van, maar as mens deur die gange en oor die brue is en mens se voete pyn dan raak die "weer teuggaan" al hoe onwaarskynliker. Ek sal dalk eendag 'n mat gaan koop, maar as ek dink aan die hondjies wat dalkies op die dure mat mag piepie, dan kry ek koue rillings. Mens wil eintlik ook nie op die matte loop nie. Dan sê my kop vir my ... waarvoor wil jy dan soveel vir 'n mat betaal. Dan gaan ek huis toe met 'n Indies geborduurde katoen top vir minder as Dhs 100 en ses pragtige sygeborduurde, baie bont coasters teen Dhs10 stuk en ek voel soooo ryk. Mens kan met die oë koop en voel asof mens 'n huis vol Persiese matte het weet ek nou.

Tuesday, June 10, 2008

Die kindergroep sluit af

Die tyd van die jaar in die land is die einde van die skooljaar en eksamentyd. Tyd vir afsluit met die kindergroep... vir drie maande se somervakansie.... en elke jaar die tyd dink ek hoe gelukkig ek is dat ek nooit in die posisie was om kinders vir drie maande lank besig te hou by die huis nie... drie weke het te lank en duur geraak. Dis al baie warm hier... selfs wanneer die son onder is. Om julle 'n idee te gee, die weervoorspelling sê "minimum van 30 en maksimum van 44/45 " . Ons besluit nogtans op 'n piekniek vir die kinders en ek neem sommer vir Taffee en Didi saam. Die twee manne laat toe dat die kinders hulle vashou en so aan, maar as hulle hulle neersit, dan is dit soos opwen diertjies reguit na my toe. Didi kruip sommer onder my bloes in. Ek dog die twee sal speel en rondhol, maar hulle is "oumens" hondjies :-) . Nie dat ek omgee nie. Dis tog te lekker dat hulle so baie van my hou. Die kinders staan tou om in die bome te klim... ons bly maar Suid Afrikaners nê.. ek onthou hoe baie ek van boomklim gehou het en hoe besitlik ek was oor my plek in die boom. Tot Emma, wat drie is, moet in die boom wees. Henry hou haar vas Sandra neem fotos en mamma Ruanda hou 'n wakende ogie... Drie van die groep dogters is by my in die groep en hier sit Daleen, wat ook by die Afrikaanse kinderkerk inskakel en by my kitaar neem... arme kind kry regtig 'n oordosis van tannie Charmaine. Sy wys sy het 'n groot blok sjokolade gekry en vertel vir my sy moet dit ook gaan wegsteek, want haar pa is heeltemal te lief vir sjokolade. Die ouers hou saam piekniek. Daleen en Rikus se ouers is onderwysers by Cambridge. Dis die pappa wat so baie van sjokolade hou. Nog 'n Abu Dhabi skooljaar is verby. Dis so voorreg om met hierdie kosbare kinders wat so belangrik is vir God se Koninkryk, te werk.

Friday, June 6, 2008

Die hondebabas

Daar is darem nou 'n groot familie hondebabas waaroor mens moet vertel. In Suid Afrika word die nuwe vier babas pragtig groot. Ek kan nou oor 'n paar stadiums vir julle vertel... Ek het nie bygehou met die foto's nie, maar liewer nou as nooit...

Hier is die goetertjies se ogies besig om oop te gaan. Hulle het ook naampies. Die oudste is Cowboy, die tweede 'n dogtertjie... en die een se naam is om te bly want Riza gaan haar hou... Bella Coco... is dit nie mooi nie... dan Diablo en dan Chief. Elkeen sy eie persoonlikheid... Riza sms dat hulle begin eet en dat dit iets is om te sien. Hulle klim "boots and all" in die kosbakkies en alles is vol kos, voetjies ook. Dan, so vertel Riza, lek hulle die kos van mekaar se gesiggies af. Ja... ag MOEDER!! Gister vertel Riza my hulle lyk nou soos regte hondjies. Cowboy is glo vreeslik oulik en altyd baie bly om sy ounooi te sien. Dan waai die stert en kry sy nat soentjies oor haar hele gesig. Diablo is soos sy naam sê... baie besig en woelig. Hy hou ook nie baie van foto sessies nie. Die meisie Bella Coco is 'n regte skoonheid, soos 'n meisie behoort te wees... en Chief is 'n vet teddy... so sê Wiehann, en sy tongetjie steek altyd uit... en hy glimlag graag... ja regtig. As Riza so sê dan glo ek haar. Riza sê sy sal hulle graag almal wil hou. Die Cowboy is DJ se favorite en ek sê hou hom maar en DJ sê hulle het klaar drie honde en dis te veel... en ek sê koop 'n groot huis. Maar DJ en Riza is baie trots op die pragtige babahonde en die oulike ouers wat troetel en liefies en skoonmaak en beskerm. Tavid is baie kwaai met enige iemand wat in die babakamer probeer inkom. DJ is trots op Tavid maar sê dit beteken nie hy moet permanent pa wees nie... o, dis hoe dit werk? :-)

Wednesday, June 4, 2008

Interessante Vrydag

Ek gebruik meeste naweke om bietjie in te haal met die huis skoonmaak en wasgoed was, kinderkerk hou, bietjie ladiesklub toe gaan en gaan fliek, as daar iets wys waarna mens kan gaan kyk, en rus en noudat die hondekinders in die huis is, sommer net op die bank te lê met die hondjies oor my en op my... tog te lekker. Maar die naweek wat verby is, het ons besluit om die Dophinarium in Dubai te gaan besoek. Dis 'n nuwe aantrekliheid wat onmiddelik baie besoekers trek en die gebrek aan foto's oor die gebeurlikheid het 'n baie goeie rede... ons ry vroeg uit Abu Dhabi en stop vir die gebruiklike koffie... en hou duim vas dat ons die pad gaan kry. Ag ouens, ek weet ek verveel julle dalk oor die beskrywing van die paaie in Dubai, maar glo my, as ek sê dis 'n nagmerrie dan is dit 'n eufemisme. Die mense gee nie eers vir mens aanwysings nie... hulle gee vir jou 'n landmerk. Die gesprek met die man van die dolfynplek het ongeveer so verloop.... weet jy waat die Hyatt hotel is.... ja, min of meer..., dis aan die agterkant van die hotel... net entjie verder op... o, jinne, ek hoop ek kry dit... ok dan, weet jy waar die Dubai wonderland is? .... nee nie eintlik nie... maar watter kant van die Creek is julle? Abu Dhabi se kant... so, volg Garhoud brug borde maar moenie oor die brug gaan nie... soek die afrit voor die brug. Wat sê die borde? Ek dink dit sê Dubai Creek, maar ook Hyatt, maar vra enige taxi as julle in Dubai is... of enige iemand. Hulle sal julle kan beduie... ja reg... hoe stop mens op die ses baan paaie as jy bv in die middelste baan is en vra 'n taxi aanwysings... Ag tog... ek sê maar dankie en Sandra besluit sy soek liewer 'n kaart. Die kaarte op die Internet waarsku sommer dadelik dat die kaart dalk nie meer heeltemal reg is nie.. en die kaart gee ook landmerke en blou paaie sonder nommers of name. Mens kan regtig nie uitmaak waar presies die afritte is nie... so ons pak dit maar so aan. Op die Garhoud brug pad sien ons die pad waar ons moet wees aan ons regterkant, maar ons is heeltemal glad nie op daardie pad nie en ons ry oor die brug... soos ons nie veronderstel was om te doen nie, vanwaar ons toe kon sien waarheen ons eintlik moet gaan... so ons maak 'n ingewikkelde "U Turn", want dis nie net vir omdraai nie... die pad terug maak allerhande krulle en draaie voor mens weer oor die brug gaan.... en van die anderkant af kry ons al die borde waarvan die dolfynman gepraat het. Baie verlig met omtrent tien minute voor die vertoning begin spring ek en Nelmari uit om solank in die tou te staan vir kaartjies en Sandra soek parkeerplek. Die tou is vir toegang tot die Dubai Creek park... of Wonderland, nie vir die Dophinarium nie.. Maar ons moet eers deur daardie hek en tou... Die son bak teen 40 grade C en die tou beweeg maar vrekstadig, net om by die man in die hekkamertjie te hoor die kaartjies vir die vertoning is lankal uitverkoop... ja ek weet KAN JY DIT GLO... nou wat?? Ek wil soos 'n kleintjie 'n tantrum gooi, maar dan weet mens mos dit gaan niks help nie. Sandra ry vir ons oor die "floating bridge" en skielik spring Dubai se City Center voor ons in. Ek was 5 jaar laas by die City Centre. Op 'n stadium was dit DIE mall in Dubai... dit was eintlik Dubai.. nou is dit net een van die malls en nie die een hoogste op die lys as mens wil mall crawling doen nie. Ons het eintlik heerlik rongeloop en gekuier en klein muffins en REUSE hamburgers geëet... dis nou bo en behalwe die goeters wat mens koop... soos nekkussings en swemklere en sepe en allerhande nikse en nonsense. Die kaartjies vir die dolfynevertoning sou baie goedkoper uitwerk.

Sunday, June 1, 2008

Die mense saam met wie ek werk

Die UAE is in een opsig baie soos Suid Afrika en dit is die baie verskillende bevolkingsgroepe wat hier saam leef en werk en elkeen het 'n interessante storie, of seer storie om te vertel. 90 % van die mense wat in die land werk, is van ander lande. Net so die een en ander oor die groep mense op die foto. Die baas van die afdeling, wat vir my die pakkie oorhandig, is al 20 jaar in die UAE en kom oorspronlik van Pakistan. Hy was lank in Al Ain die baas van die finansies afdeling en ry nog steeds elke dag tussen Al Ain en Abu Dhabi... en dis ver ouens. Sy kinders is in Al Ain in die skool en dis nie maklik om huis op te gee en in Abu Dbahi te kom woon nie, want die huispryse is dubbeld en meer vir dieselfde geriewe. Die baas wat op die "troon" sit, is die hoof van die Departement Finansies en is een van die aangenaamste mense in die Maatskappy. Hy het die hele atmosfeer van die Department verander van mense wat permanent onder vrees werk na mense wat positief gemotiveerd is om hulle alles te gee. Aan die ander kant van my, is 'n Irakese vrou wat naby 60 is... kan julle dit glo? Sy lyk nie 40 nie. Sy het Bagdad twintig jaar gelede verlaat vir Kanada en toe UAE toe gekom. Sy kry trane in haar oë as sy oor Irak praat en oor wat die oorlog aan haar land en mense gedoen het. Sy kan nooit weer teruggaan nie. Langs haar staan 'n Indiese vrou wat self al by die twintig jaar vir Etisalat werk en baie mense en base gesien kom en gaan het. Sy is 'n unieke Indiër vrou met die sagste hart en een van die min Indiërvroue in die land wat nie lang hare het nie. Maar sy trek so mooi aan. Langs haar is die geduldigste vriendelikste sekretaresse op die aarde... ook 'n Indiër ... met lang lang hare...wat meer as twintig jaar vir baie verskillende base gewerk het. Die mans wat aan die baas se regterhand staan, kom almal van of Indië of Pakistan en het dieselfde kommer oor hulle kinders as ons en wil ook nie dat die kinders in Engeland gaan swot nie, omdat hulle, maar net soos ons, nie seker is of die kinders se waardes sal kan staan teen die aanslae van die liberale nie. Dis baie duur om in die land te studeer en meeste van die Expats stuur hulle kinders terug na hulle eie lande... waar hulle sukkel om in te skakel weens die totale kulturele verskille van wat tradisioneel eie aan hulle is teenoor hoe hulle in die land grootgeword het. Die groep wat ek opgelei het bestaan uit 35 mense en die Arabiese vroue wat julle nie op die foto sien nie, mag nie afgeneem word nie, maar hulle was daar en het meegedoen aan die dankie sê. Kosbare mense wat veg vir behoud van hulle tradisionele waardes in 'n land wat al meer Verwesters en kosmopolitaans raak... ek bewonder hulle vir hulle vasskop. Hulle is lief vir hulle eie, net soos ons vir ons sin. Een van die Sosiologie professore op Universiteit het gehou daarvan om te sê.... ons is so verskillend... en so eenders.