Monday, October 27, 2008

Gitex Shopper

Gitex is een van die grootste ITC uitstallings in die wereld en Etisalat het die grootste "stand" gehad by Gulfcomms waar daar 3300 uitstallers was. Ek het probeer inligting kry maar behalwe vir klomp feite, is daar nie foto's nie. Ek was verlede week by die "shopper" deel van Gitex, en die verskil is dat waar ek was, kon mense koop. .. kameras, laptops, printers, DCR,s Blackberries, fone en allerhande sulke dinge. Hoewel ek al meer as ses jaar vir Etisalat werk was ek net eenkeer by Gitex se gulfcomms deel. Die rede daarvoor is verkeer... en skares. Dit is twee dinge hoog op my lys van dinge waarvan ek die minste hou. Die uitstalling van elektroniese en kommunikasie toerusting is die derde grootste van sy soort in die wereld.


Ek was betrokke by die opleiding van die promoters, studente van die Amerikaanse Universiteit van Sjarjah, wat in twee dae moes leer van ons maatskappy en die produkte. Ek het weer gesien hoe jeug in mens se guns tel, want hulle het so uitstekend gevaar. Ek was elke dag daar om seker te maak hulle behou die energie en goeie moraal. Hier is so paar fotos om die storie te help vertel.

Hier is Etislat se uitstalruimte... die maatskappy doen nogal niks op klein skaal nie. En dis 'n klein babatjie teen die masiewe uitstalruimte by Gulfcomms




Vroegoggend teken die studente die register en dan praat ons so bietjie oor die vorige dag en voorstelle wat hulle mag he om dit makliker te maak vir die dag wat voorle.Dan tel die dag spoed op en raak mens doof van al die harde musiek en aankondigings en gemaal. Ek het een middag gaan pleisters koop vir my voete en sulke nuttelose jellie-agtige "party feet spots". Dit het oral in die skoen rondgeskuif en plekke wat nog nie seer was nie ook seer gedruk.




Ons het 'n entertainment stalletjie ook gehad en ek het naderhand 'n student tussen die promoters gaan soek wat kan sing want jinne ouens... iemand oor 'n mikrofooon wat nie kan sing nie , is 'n pynlike ervaring. Ek het lekker in my mou gelag vir die tegnikus wat so onopsigtelik moontlik agter insluip om die volume sagter te stel. Een van die promoters het 21 geword en die studente het haar op die hande gedra. Hier word sy vrolik toegejuig




Ons sing " Happy Birthday" en sy sny haar roomyskoek


En ek kry die eerste happie... groot eer.





Die studente se terugvoer is dat hulle Gitex vreeslik geniet het en sommige van hulle wil aansoek doen om vir Etisalat te werk. Dit maak alles die moeite werd. Ek weet dit, maar ek weet nie hoeveel besigheid ons gedoen het of hoeveel Blackberries ons verkoop het nie. Daarom seker dat ek by die opleiding en nie by Sales is nie ne?







Friday, October 24, 2008

Lang blog stilte

Ek was die hele week by Gitex in Dubai. Sal so oor 'n dag of twee daarvan vertel. Ek so paar aande by Hannes en Angela oorgebly en Alessis LOOP. Toe ek een middag half dood by Angela aankom, was ek net betyds om saam te gaan vir swem. Swem in die middel van die dag beteken natuurlik die winter is oppad en mens kan dit buite waag. Alessia geniet die water vreeslik.

Sy ontdek die seekatjie en donkie in die water en begin dadelik soek na die eienaar daarvan. En sy gesels!! Ek kan die dingetjie opeet.
Op 'n stadium gly een van die seuntjies en stamp sy kop. Alessia is dadelik by om te troos. Die tannie wat nie eintlik goed is met die kamera nie was te laat vir 'n foto.
Angela moet net vashou want die klein meis is op haar eie ekspidisie.
Die lekkerste verassing van die kuier was dat die klein meis nou baie sterk stap. Sy staan op... gooi die handjies so in die lug en daar gaaan sy.

Saturday, October 18, 2008

Baie geluk my meisiekind

Ek kry gister 'n sms van Elriza: "Hey mam, ek is die nuwe worship leier vir die kollege vir 2009"

En ek spring amper uit my vel so trots is ek op haar. En die volgende oomblik dink ek "my arme kind... en ook die worship leader van die kerk... hoe gaan jy dit alles hanteer" en ek vra hoe sy daaroor voel.

Sy se: " Ek het vir Pappa gese dis in Sy hande toe ek genomineer is, so dit maak nie saak hoe ek voel nie, dis Pappa se wil mam."

En so leer ek weereens by my dogter.

Baie geluk meis, ons is baie trots op jou. Pappa sal jou vlerke gee oom hoog te vlieg.



Lief vir jou

Mam

Thursday, October 16, 2008

Lank lank gelede...

James laat weet daar word beplan aan 'n reunie vir Emily Hobhouse en stuur die mooi fotos en die mooi beskrywing: " Emily Hobhouse is the “youngest” junior residence, but one of the oldest residences on the campus. They tackle the future in the spirit of their predecessors, where “Every person counts” Die laaste stukkie datteer nie uit my dae nie. Ons was heeltemal te Afrikaans daaarvoor. Maar was dit nou lekker om te lees wat die kinders van vandag oor die predecessors te se het. Ek plak sommer die pluimpie namens ons almal.. Die voordeur van Huis Emily Hobhouse. Die formidabele vrou, Emily Hobhouse, nie die koshuis nie, het eintlik van my skooldae af 'n groot rol in ons opvoeding gespeel. As dogters in 'n meisieskool is ons gedurig daaraan herinner dat ons ons volk dra en dat ons 'n verskil kan maak ...soos die Engelse verpleegster wat vrou alleen kom werk en gaan pleit het by die regering in Engeland om die toestande waarin die Boerevroue en kinders geleef het in die konsentrasiekampe, te verbeter. Dit onderstreep nogal die leuse... "Everyone counts" Wanneer die skool verjaar het, het ons kranse gele by die Vrouemonument op die grafte van Emily Hobhouse en Pres Steyn, wat Oranje gestig het.
Hierdie foto is van die "agterdeur" maar mens sien regdeur tot by die voordeur uit. Daar was geen manier om "in te sluip" as mens bietjie laat terugkom van 'n stadsaand (uit aand) nie..



Die Gesellie .. anderste naam vir sitkamer... waar ons die jongmanne wat kom kuier het kom koffie gee. In my eerste jaar het een van die seniors vir ons "tips" gegee om die kuier meer gesellig te maak en voorgestel ons gee partykeer die manne sop of warm sjokolade. En so gaan koop ek 'n blik Franse uiesop... klink mos interessant en romanties. Die ding is dat ek toe die helfte van die kuiertyd staan en wag dat die sop warm word op die warmplaat in die kombuisie. Almal wat in die gang afgeloop het en een of ander opmerking gemaak... " jig...!!! wat ruik so" en "wat die hoenders is jy besig om te kook"... met 'n neus wat opgefrommel tussen hulle wenkbroue sit... en "jinne eerstejaar... wil jy die man die hasepad laat kies"... en "wie probeer jy uitstink eerstejaar"... ens ens .. nooit weer uiesop gekoop in my hele ganse lewe nie..

Die trap na die voordeur waar die manne in die portaal die meisies deurgekyk terwyl hulle by die trap "afgesweef" kom... en die meisies lank genoeg tyd gehad het om die manne deur te kyk. As dit 'n blind date was, het mens nog tyd gehad om van besluit te verander en by die agterdeur uit te glip "klas" toe of "bib" toe en te maak of dit nie jy is nie. Ek sien die predecessors se fotos is nou opgeplak. Dalk is ek ook op een van die fotos, maar om eerlik te wees lyk dit nie vir my na 33 jaar se versameling nie... jinne ouens ek is oud.!!


Ek kan nie glo die waskamer lyk presies soos dit 33 jaar gelede gelyk het nie. Die plek was altyd onder water. Tydens een huisvergadering het iemand vir die soveelste keer daaroor gekla, tot een van die huisbestuurlede opgemerk het " maar juffrou, jy kan mos swem" en net so vinnig kom die antwoord terug... " ja, maar nie in sulke diep water nie.."


In hierdie gange het ons soms gesit en kitaarspeel en sing... ja regtig, sommer so op die vloer. Iemand neem die inisiatief en dan kom almal wat wil saam sing by hulle kamerdeure uit vir gangsing.. Eenkeer het pynappelbier uit my kamermaat se kas by die deur en in die einste gang afgeloop om ons amper by die trap te ontmoet.Ek moet die storie vertel: ons was ses vriendinne wat in drie kamers langs mekaar gebly het en wanneer iemand van ons verjaar het, moes ons die ander verras met iets wat hulle nie verwag nie... nie koekies en koffie of sjokoladekoek nie. So het ons gebraaide varkworsies en tamatie en kaas broodjies en wafels en crumpets en ek weet nie wat alles gekry nie. My kamermaat Melody, wou ons met pynappelbier verras en die beste plek om dit in die geheim te brou, was haar klerekas Toe ons eendag by die agterdeur inkom waar ons ons fietse kon bere... merk ek op dat dit soos 'n brouery ruik... Melody se niks... sy kry net 'n bevlieging en storm die trappe drie drie op ... die pynappelbier het toe baie goed gegis... :-) en daardie aand het ons daarmee saam, roomkoek geeet.. kan jy glo. Die volgende dag staan daar op ons fyn blonde Engelse buurvrou uit Virginia se wereld se kamerdeur: " Please do not disturd. Seriously suffering from the after effects of Pine apple beer and cream cake. Gemeet aan hoe ek gevoel het, het ek op my tone by die kamerdeur verbygesluip om haar nie te steur nie. Lekker herinneringe. Ek dink ek moet maar plan maak om by die reunie uit te kom :-))))

Friday, October 10, 2008

Oktobermaand. Borskankermaand

Ek lees 'n blog van 'n goeie blogvriendin en 'n baie pragtige gedig as ode aan 'n skoonma wat die siekte nie oorleef het nie en ek voel ek wil graag met julle deel wat ek geleer het as 'n borskanker "survivor". Ek is vyf jaar gelede met borskanker gediagnoseer en dit nadat ek 18 maande voor dit wel 'n mammogram gehad het wat 'n klein gewassie gewys het wat op daardie stadium nie kwaadaardig was nie. Ek het dit heeltemal ignoreer en daarvan vergeet tot ek een oggend opgemerk het dat my tepel heeltemal ingetrek en verkleur was en toe voel ek die gewas... groterig. Die kanker het toe reeds na my limfkliere versprei en ek moes 'n mastektomie ondergaan, 8 chemo behandelings kry en 27 radiasies. Die kanker was in fase 3. Hier is ek in verskillende fases van geen hare... pruik hare... kort hare en ai, kyk hoe lekker maer was ek en lawwe rooi hare... net aangespuit. Ek is nie regtig so braaf nie:-) (Ek is self nie gespaar van die kamera nie)Ek is sederdien heeltemal skoon... Vader is goed vir my. Ek het geen kitskuur of raad vir kanker nie. Ek weet nie waarom sommige mense gesond word en ander nie. Wat ek nou gaan vertel is totaal my eie ervaring en staan nerens in 'n boek nie en sal ook nie noodwendig vir almal waar wees nie.

Ek weet nou:

1. Mens moet na jouself kyk en gereeld ondersoek en selfs vir die mammogram gaan... al is dit aaklig. Een voordeel van die mastektomie is dat ek nou net een bors het en net die helfte van die tyd moet staan en op my tande byt.. :-) Met my swak selfbeeld, het ek eerlik nie omgegee wat van my word nie. Daarom ook die agterlosigheid met gereelde ondersoeke.


2. Familie se ondersteuning is kosbaar en so belangrik. My sus was hier toe ek gediagnoseer is en het haar man en dogter by die huis gelos om by my te bly vir die biopsie en operasie. Sy het so swaar gekry omdat sy toe nie net twee jaar tevore haar seuntjie moes afstaan aan die dood weens kanker. Die feit dat dit so goed gegaan het met my na die operasie was vir haar op 'n manier genesend. Ek het na die sesde chemo eers my hare verloor. Elriza het die oggend van haar matriekafskeid by my op die bed gesit en die bondels hare wat ek uitgetrek het in haar hande gehou en my getroos. My ma het bygestaan met 'n lekker ontbyt en daarna is ek en Lorraine mall toe om te gaan pruik soek. Lorraine het die laaste klossies hare afgeskeer sodat ek nie so heeltemal soos daardie grillerige gogga van Lord of the Ring lyk nie.My ma het twee weke kom kuier en kon saamgaan vir een chemo behandeling en self sien dat die behandeling in die staatshospitaal uitstekend is. Sy is ook 'n borskanker survivor en ek dink net die feit dat die kanker haar nie gewen het nie, was vir my baie bemoedigend.
3. Ek het 'n wonderlike vriendin Sandra wat elke keer saam my gegaan het en tyd afgeneem het by die werk en later weer tyd moes inwerk om dit te kan doen. Sy het tree vir tree die pad met my geloop. Ek is doodbang vir naalde en die opsit van die drip was elke keer vir my 'n nagmerrie. Een so dag het Sandra gese ek moet vir haar 'n storie vertel terwyl die verpleegter krap vir 'n aar... en ek vra toe of ek die storie van Rooikappie moet vertel wat haar mond gebrand het toe sy aan die drie bere se pap geproe het en Sandra se ja, en van die deel toe die wolf haar huis probeer omblaas het en sy by die sewe dwergies in die bos gaan bly het ens ens ens ...en so het Chemo -en ander strontstories hulle ontstaan gekry en het ons die waarde van lagterapie ontdek.


4. Daarmee saam is dit nodig om lewe te dink en positief te wees en nie toe te laat dat die siekte 'n swart kombers oor mens trek nie. Ek het glad nie opgehou werk nie. Ek het steeds gaan fliek en "shop" en uitgeeet.


5.Ek het op daardie stadim 'n wonderlike man in my lewe gehad met wie ek die res van my lewe wou deel. Hy het my met sy liefde en gebed gedra. Ons sou trou in Desember, maar hy is net voor Kersfees en voor die troudatum aan 'n hartaanval dood. Dit was nogtans die mees vervullende tyd in my lewe.


6. Ek het geleer om Vader te vertrou... ook met my. Hy weet watter planne Hy vir my het en dit is nie planne om my te vernietig nie, maar vir lewe en 'n toekoms. Of die toekoms op die aarde of in die Ewigheid hierna is... Hy weet die beste.
6. Ek weet nou dat ek hier is omdat my werk op die aarde nie klaar is nie. As ek nie toelaat dat die ervaring my louter en sterker maak nie, kan ek maklik totaal mis wat Vader vir my vra om te doen. Soos Johannes die Doper die pad vir Jesus moes gelyk maak en soos Phillipus op die wa moes klim om vir die Ethiopier die waarheid oor die Evangelie te vertel, wil ek ook graag my deel vir God se koninkryk doen.


7. Daar staan nerens in die Bybel dat dit altyd met ons sal goed en voorspoedig gaan nie. Ons sal siek word en terugslae en teleurstelling en mislukkings verduur. As dit 'n geloofskrises word en ek twyfel in God se bestaan of Sy liefde of Soewereiniteit, mis ek die wonderlike geleentheid om gesuiwer te word totdat ander Vader in my kan sien.


8. Ek is bevoorreg dat Vader my uitkies om getoets te word. Hy sal ons nooit bo ons kragte toets nie. Hy het vir my 'n kruis gegee wat ek kan dra.


9. Ek het elke dag hotflashes van die hormoonbehandeling en pyn in my gewrigte van die medikasie wat ek nog steeds moet drink, maar ek het 'n keuse of dit my vreugde steel of nie.
10. Ek het leer vra dat Jesus vir ons sal bid soos Hy vir Petrus gebid het, dat die beproewinge wat op ons pad kom nie ons geloof sal laat wankel nie.

Lukas 22:32


"Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk."

Monday, October 6, 2008

Kaleidoskoop van kleur

Daar is mos soms tye wat daar temas is... soos toe ons die feetjie week gehad het. Nou is dit kleure en kreatiwiteit. Net waar ek lees, is iemand besig om te vertel en te wys watter wonderlike dinge daar geskep word. Sou dit nou die begin van lente wees wat almal so inspireer? En praat van inspirasie... die pragtige glaskolom en venster is in Wafi mall en kan maar inspirasie voorstel sou ek se.. of 'n droom. Mooi kleurvolle droom met geel vir son, goud en vreugde en blou vir gees en diep dink of diep delf tot mens kan uitstyg bo dit wat mens onderkry. Dan 'n koffieplek so langs die venster wat mens laat voel jy is in 'n kerk van soorte.. mens kan jou binneste oopmaak vir die mense saam met jou en kleurvol oor alles gesels. Spatsels onthoue en strepe planne met hier en daar rooi skaterlag om alles op te vrolik.


Wie het nou al ooit gehoor van 'n wit grot vol goud. Ek kan nie besluit of dit ys of marmer wil wees nie. Gedagtes van se nou maar dit was regte goud en alles myne... wat sou ek daarmee doen?

Miskien reis na koel plekke waar dit stil en rustig is soos in die tuin by die valke hospitaal. Of dalk sal ek die huisie in Greyton koop en restoureer. (Ek het die foto van die tuin deur die venster geneem omdat dit naby 50 grade was buite. )Nou het dit deel van die drome geword ... mens kan jou verbeel dis 'n oase of 'n tuin iewers by die huis of net waar mens wil wees, want die weerkaatsing in die glas maak alles so half onwerklik.
En so vlieg my gedagtes hoog en ver saam met hierdie pragtige valkie na waar alles perfek is. 'n Plek waar mens nie vrae vra nie omdat jy weet wat jy wil weet. Geen pyn of verslawing, armoede of ellende nie... waar ons in harmonie saamleef, regtig omgee vir mekaar...

En net voor julle dink dat ek lid is van die SS of op een of ander trip is... eintlik wou ek sommer net die anderste foto's met julle deel. Lief julle.



Friday, October 3, 2008

Baie geluk met jou verjaarsdag Lorriane!!

Sus, dis jou verjaarsdag. Mag dit 'n wonderlike dag en baie spesiale jaar wees die. Geniet Suid Afrika en die stoep en drink sommer klomp koppies tee vir ons.
Ek dink aan jou met baie liefde


Wednesday, October 1, 2008

Waar was jy in 1978

Ek het so rukkie terug hierdie mail van Elma ontvang en jinne het dit my laat terugdink. 1978 was my eerste jaar van getroud wees en werk en budget en huishou. Ek het kruideniers gekoop vir die maand vir R20 en maalvleis het 99c 'n kilo gekos. Kyk net die pryse!! Kan mens nou gaan "scrap" koop vir die prys van 'n nuwe kar? As ek bv vir my getoetse sonbril wil laat maak, gaan dit dubbeld my jaarlikste salaris van 1978 kos.
Dalk is daar iemand wat die blog lees wat weet wat die motoronderdele nou kos??
Mens betaal nou vir een romp wat ek in 'n maand verdien het. En dis nie die duurste romp op die hanger nie.
Hoe het ons ooit vir die prys geeet? Ek moet darem vertel dat mens in die land maklik nog 'n shwarma by 'n straatkafee koop vir omtrent R4, blikkie koeldrank kos R2. Mar dan kan 'n inkleurboek bv R110 kos... en ek het dit betaal, want dis vol van die mooiste feetjies en goeters.
Ek kyk die goed so en dink daaraan dat alles wat op die fotos is, reeds tot stof en as en roes vergaan het. Ons klou so vas daaraan en heg soveel waarde daaraan..


Ek wonder sommer wat sou die prys op die tag wees vir gesondheid, geluk, 'n goeie verhouding met 'n kind, of vriendin of geliefde.... as mens nou daarvoor sou moes betaal..