2 Februarie 1914 - 31 Maart 2011, ja 97 jaar oud. Dit alleen vertel die storie van hierdie amazing mens se uithouvermoe .
Sy was nie gesond nie, nie vir baie baie jare nie. Toe ek tiener en jong volwassesene was, het sy reeds aan osteo arthritis gely, baie pyn verduur en uiteindelik ‘n krom rug gehad. Sy was ook ‘n sinuslyer vir solank ek haar geken het. En moenie dink dat dit haar immobiliseer het nie.. Sy het steeds die mees amazing kos gemaak, koeke gebak, beskuit, brood, koekies, oupa se gunsteling chilli bites, kaasstrokies en noem dit. Onder andere ook Rubarb pastei waaroor mens ‘n resensie kon skryf. Ouma het nogal nie eetgoed in pakkies gekoop nie, of van kafees nie. Kaffeekos het haar met afgryse gevul en geen slagter het voorafgemaalde vleis aan haar verkoop nie. Sy het die stuk silverside of topside gekoop en die slagter moes dit voor haar maal. Sy het net by een slaghuis in Bloemfontein wors gekoop . Sy en oupa het gereeld geslag en hulle eie wors gemaak of ‘n slagskaap op ‘n Karooplaas loop haal… Ek wonder of sy ooit by ‘n restaurant geeet het. Sy het geweet haar kos smaak in elk geval beter as wat mens op enige plek kan koop. uiteindelik het sy ook my troukoek gebak. As sy wou, kon sy ‘n chef wees.
Sy het al ons klere gemaak toe ons klein dogtertjies was. Ons het soos prinsessies aangetrek en in die kas in die spaarkamer het tenminste drie of vier nuwe rokke vir ons elkeen gehang elke keer as ons gaan kuier het, mooier as in enige winkel, pragtige materiaal, perfekte pas. Ek onthou ‘n rok met ‘n sak waarop sy ‘n rooi appel geverf het wat so eg gelyk het dat mens net daaraan wou byt. Ek het ‘n bloes gehad met moue wat die een valletjie op die ander gehad het…fyntjies en perfek. En voor ons weer huis toe gegaan het, is die nuwe mates geneem vir die volgende stel nuwwe rokke.. Sy kon ‘n mode ontwerper/kleremaakster wees.
Ouma het ‘n fyn sin vir humor gehad en daarvan gehou om mense se reaksies te toets. Sy sou bv soos ‘n regte slons aantrek en dan vir ons nooi om saam winkel toe te gaan… en as sy dan deur die winkel geslof het met haar slippers , het sy hard geroep na my neef wat probeer maak het of hy haar nie ken nie tot hy met ‘n rooi gesig langs haar staan en dan ook nog by hom ingehak….asof sy total van niks weet nie. Sy het snobisme gehaat, maar as dit nodig was en mense wou beindruk word, kon sy in ‘n absolute neus in die lug lady verander. Sy het kostelike segoed gehad… nie almal herhaalbaar nie, maar daar is dinge wat sy gese het wat vir altyd deel van die familiepret sal wees. Sy was ‘n regte aktrise…

Diere was gek oor my ouma . Sy het haar African Grey leer praat soos ek nooit voor of na weer gehoor het nie. Ou Vale het karakter gehad soos min en kostelike dinge gedoen en kwytgeraak. Hy sou bv die hond roep presies soos my ouma en dan kom Gypsy( fox terriertjie) stertswaaiend in gehardloop om ‘n bederf dingetjie te kom haal en dan jaag Vale hom uit… “Voetsek Gypsy…uit uit!! Arme hond Hy het die tuinman ook so geroep en die ou vreeslik verwar, maar darem nie vir hom weggejaag nie, net deur die hok se tralies vir hom geloer as hy hoed in die hand voor die deur staan om die nuwe opdragte te ontvang
Daar was min blomplante waarvan ouma nie die naam geken het nie. Elke seisoen het sy nuwe blomplante ingesit sodat daar altyd kleur in die tuin was. Ek sien haar nog deur die roostuin loop en dooie knoppies afbreek. In haar groentetuin was altyd vars van watter groente ookal in seisoen was…. ook die rubarb.. En nee, hulle het nie op ‘n plot of plaas gewoon nie, hulle was Bloemfonteiners. daarom seker dat sy haar eiers en melk en botter moes koop, want as sy kon sou sy sekerlik ook hoenders en koeie wou aanhou.
Ouma het baie vir haar famlilie gedoen, nie net gekuier nie, maar versorg . As iemand siek of in nood was, kon hulle op ouma se knoppie druk. Ook ons toe ons in die koshuis was. Ek onthou toe ek aangese is om tennis te speel. Ek het ouma gebel om te hoor wat gaan ek maak, ek het nie rok of raket nie. Vir die eerste tennis wedstryd het ek ‘n nuwe rok en raket gehad wat ouma by die koshuis kom aflaai het. Sy het my oupa so bitterlik gemis toe hy dood is. Solank as wat sy kon uit na haar tuin toe, het sy elke oggend ‘n roosknop gepluk om langs sy foto neer te sit.
Sy het ‘n klein eksklusiewe supermark bestuur vir ‘n ruk. Dit was so halfuur se loop van die koshuis af en dis al waarheen ek ooit uitgeslip het. Ek het altyd ‘n melkskommel gekry as ek daar kom en dan het ouma my met die klein Mini weer teruggeneem koshuis toe en skelmpies by die kanthek afgelaai. My ouma Kate: kok, kleremaakser, aktrise, tuinier, diereliefhebber, besigheidsvrou… maar beste van alles… ons ouma.
Oumatjie, die laaste paar jaar was moeilik vir jou met die seer lyf, sinus ontsteking and dowe ore… maar jou nagedagtenis sal vir altyd bly voorleef. Ek bring hulde ouma… en ‘n groot bos lelies.. Ek sal nie vergeet nie. Dankie vir die spore wat ouma getrap het. Ons het gesien en gehoor en geleer.. Ek is so lief vir jou. Rus in vrede..

