Monday, October 27, 2008

Gitex Shopper

Gitex is een van die grootste ITC uitstallings in die wereld en Etisalat het die grootste "stand" gehad by Gulfcomms waar daar 3300 uitstallers was. Ek het probeer inligting kry maar behalwe vir klomp feite, is daar nie foto's nie. Ek was verlede week by die "shopper" deel van Gitex, en die verskil is dat waar ek was, kon mense koop. .. kameras, laptops, printers, DCR,s Blackberries, fone en allerhande sulke dinge. Hoewel ek al meer as ses jaar vir Etisalat werk was ek net eenkeer by Gitex se gulfcomms deel. Die rede daarvoor is verkeer... en skares. Dit is twee dinge hoog op my lys van dinge waarvan ek die minste hou. Die uitstalling van elektroniese en kommunikasie toerusting is die derde grootste van sy soort in die wereld.


Ek was betrokke by die opleiding van die promoters, studente van die Amerikaanse Universiteit van Sjarjah, wat in twee dae moes leer van ons maatskappy en die produkte. Ek het weer gesien hoe jeug in mens se guns tel, want hulle het so uitstekend gevaar. Ek was elke dag daar om seker te maak hulle behou die energie en goeie moraal. Hier is so paar fotos om die storie te help vertel.

Hier is Etislat se uitstalruimte... die maatskappy doen nogal niks op klein skaal nie. En dis 'n klein babatjie teen die masiewe uitstalruimte by Gulfcomms




Vroegoggend teken die studente die register en dan praat ons so bietjie oor die vorige dag en voorstelle wat hulle mag he om dit makliker te maak vir die dag wat voorle.Dan tel die dag spoed op en raak mens doof van al die harde musiek en aankondigings en gemaal. Ek het een middag gaan pleisters koop vir my voete en sulke nuttelose jellie-agtige "party feet spots". Dit het oral in die skoen rondgeskuif en plekke wat nog nie seer was nie ook seer gedruk.




Ons het 'n entertainment stalletjie ook gehad en ek het naderhand 'n student tussen die promoters gaan soek wat kan sing want jinne ouens... iemand oor 'n mikrofooon wat nie kan sing nie , is 'n pynlike ervaring. Ek het lekker in my mou gelag vir die tegnikus wat so onopsigtelik moontlik agter insluip om die volume sagter te stel. Een van die promoters het 21 geword en die studente het haar op die hande gedra. Hier word sy vrolik toegejuig




Ons sing " Happy Birthday" en sy sny haar roomyskoek


En ek kry die eerste happie... groot eer.





Die studente se terugvoer is dat hulle Gitex vreeslik geniet het en sommige van hulle wil aansoek doen om vir Etisalat te werk. Dit maak alles die moeite werd. Ek weet dit, maar ek weet nie hoeveel besigheid ons gedoen het of hoeveel Blackberries ons verkoop het nie. Daarom seker dat ek by die opleiding en nie by Sales is nie ne?







7 comments:

Dorette said...

Dit lyk na 'n belewenis! Is seker die studente het dit baie geniet.

Ek hoor jou oor die shopping ding - ek is ook nie 'n "crowd" mens nie. (My man reken sy vrou se lae drempel vir inkopie chaos spaar hom baie geld!):-)

Thea said...

Dis seker heel interessant om al die nuutste produkte op die mark te sien! Maar ek stem met jou saam Charmaine, skares en verkeer is ook nie my "cup of tea" nie. Daar's niks wat my gouer moeg maak nie! Ek shop glad nie oor naweke as ek dit enigsins kan verhoed nie!

Dit lyk of die studente dit baie geniet het!!

Sandra said...

Nou wonder ek net ... die champion shopper by 'n "shoppers-konferensie" en sy vertel niks van wat sy gekoop het nie?

Desire Fourie said...

Baie geluk met die suksesvolle uitstalling ... jammer oor die seer voete en ook geluk met daardie eerste stukkie koek. Ek stem saam met jou skares en verkeer is twee dinge wat my heel bedruk laat voel. Mooi bly

Anonymous said...

Dit lyk my ons is almal sku vir skares en lawaai. Lekker om dit te weet. Thea die nuwe tegnologie is baie interessant... en onverstaanbaar..:-) As die mense so maklik praat van hoe defenisie beeld en seine, dan kan hulle net sowel Grieks praat.

Dankie vir die goeie wense Desire.

Dorette, die lawaai en skaers het my nie geld gespaar nie :-) en ja, maat, ek sal vertel van wat daar te koop was... net eers die fotos en storie agtermekaar kry :-)

Muriel said...

Hi Charmaine, dis 'n lekker inskrywing! My seuns sou feeste gehad het by hierdie uitstalling, ma is natuurlik nie ver agter nie! he he

Maar ek stem 'n skare mense is ook glad nie vir my lekker nie.

Baie geluk met die suksesvolle uitstalling!

Ek kan nie wag om te sien wat jy gekoop het nie!

Anonymous said...

Muriel... jou gemis jongie. Ek sal vertel van die aankope. :-) Eitlik geen planne gehad vir koop nie, net om heel deur die week kom, maar nou ja...