skip to main |
skip to sidebar
Ek is die week weer vir twee dae by die akademie in Dubai en soos julle weet het dit Januarie toe ek ook by die akademie was, VREESLIK gereën. Ek kon vanoggend my oë nie glo dat daar steeds poele water langs die pad is nie en ek weet julle dink ek suig dit uit my duim, maar dit is REGTIG so :-0 Dit het defnitief nie weer intussen gereën om die poele op te vul nie. By een van die poele was daar selfs voëls. Hulle het seker ook nou besluit die water het gekom om te bly. Februarie se trip Akademie toe het weer ander "opwinding" ingehou. Ek het probeer om die erge trokke pad (Emirates Road) 'n mis te gee en deur Dubai gery... en ai, was dit senutergend. Die afrit waar ek veronderstel was om af te draai is toegemaak weens die konstruksie van die nuwe sneltrein. Ek sien toe genadiglik nog 'n afdraai , maar as mens eers op daardie pad is, verdwyn die bordjies wat sê 'Emirates Road' en ek moes toe maar so agter my neus aan ry agter Hatta Oman bordjies aan... net omdat ek al op die Emirates Road afdraaie na Hatta Oman gesien het.
Ek het die heeltyd gewonder of ek weer die pad terug sal kry sou ek dalkies in Hatta of Oman aanland. Met nog twee omdraaie het ek wonder bo wonder wel betyds by die akademie uitgekom en vanoggend besluit... nie weer nie. Ek ry maar die trokke pad. Ek het vanoggend taamlik senuweeagtig agter die stuur ingeklim, want daar was gisteroggend digte mis op die pad en 200.... ja 2 0 0 (TWEE HONDERD) karre het inmekaar ingery.
25 karre het uitgebrand en 8 mense is dood. Ek wonder wat kos 'n klein vliegtuigie... so helikopter tipe enetjie?? Maar die storie het 'n goeie einde... Die pad was oop en helder vanoggend. Ek het sonder enige gebeurlikhede weereens en ten spyte van veilig by die Akademie aangekom. Vader se hand is so oor ons almal.