Showing posts with label Jeugkamp. Show all posts
Showing posts with label Jeugkamp. Show all posts

Wednesday, March 5, 2008

Kamp!!!!

Ons het verlede naweek met 60 Suid Afrikanertjies van die Afrikaanse kerk in Dubai... of die UAE eerder, gaan kamp. Dit was regtig 'n wonderlike, uitputtende ervaring.
Toe ons Donderdagmiddag sesuur by die kerk in Jebel Ali aankom waar die kinders op die busse moet klim, waai die wind yskoud en stowwerig en my moed sak in my skoene. Toe ontvang Sandra 'n oproep van die kampleier dat die tente waarin die kinders sou slaap plat is en dat die kinders in sale moet slaap... en my moed sak selfs verder. Toe pak ons die pad aan Sjarjah toe in die hoogste piek van die verkeer in Dubai, wat op die beste van dae baie erg is, maar oor naweke nog 'n paar grade erger word. Ons ry 'n uur en 'n half aan 'n stuk pad wat normaalweg net bietjie meer as 30 minute duur... AI... Maar by die kamp aangekom is die sale waarin die kinders moet slaap toegerus met beddens en 'n klein hangkas vir elke kind, lakens en kussingslope, duvets en als... wow... dankie tog die tente lê plat. Ons het nie aan die program gesny omdat ons laat was nie en na een eers die kinders in die kamers en die ligte af gehad, maar eers na drie almal stil gehad... Ek dog ons sit Vrydag met 'n klomp zombis, maar moenie glo nie.
Die kinders draf gemaklik tussen die sessies deur, loop die half kilometer kombuis toe vir ete en neem deel aan al die aktiwiteite wat krieket en Volleyball en rounders en als insluit en gaan slaap weer eers teen twaalfuur. Ek moet sê, teen Vrydagaand 12 uur was ek so moeg dat ek nie sou weet of die kinders slaap of nie. Ons Bybelstudiesessies het gegaan oor Daniël en sy onwrikbare geloof in God en toewyding aan God en die fenominale gevolge wat dit op die hele Babiloniese ryk gehad het. My sessie was Onwrikbare geloof en ek het trust games met die kinders gedoen. Dit was so wonderlik hoe die kinders reageer en geluister het. God se Gees was in en met ons.
Die musiek was nog 'n groot hoogtepunt en ons was geseënd met 'n groep tienerdogters wat met groot geesdrif gees geskep het. Ons het die dak gelig met die kamplied op die wysie van Steve Hofmeyer se Bloubul wat deur Danie Botha verwerk is: " 'n Christen weet nie van verloor af nie."
Ons weet 'n groot groep Suid Afrikaners, jeug en baie geesdrigtige jong jeugleiers en twee ou tannies... ja moenie vra nie.... is huis toe met 'n nuwe branding in ons harte om onwrikbaar op ons God te vertrou sodat Hy ons vir Sy doel kan gebruik. Wat 'n voorreg... Klik op die skakel na Ons Kindergroep en Sandra se blog vir meer foto's en nuus oor die kamp. Lief julle almal.