Showing posts with label Pakistaniese troue. Show all posts
Showing posts with label Pakistaniese troue. Show all posts

Sunday, April 6, 2008

Mens ken nie altyd die hele storie nie

En toe word ek weer na 'n troue uitgenooi en die keer is dit na 'n senior tegnikus wat van Pakistan kom se dogter se troue. Anders as die Arabiese troue wat ek bygewoon het, is die mense nie heeltemal... opsigtelik... ryk nie en die troue BAIE minder spandabel. Die onthaal was in 'n klein banketsaal in 'n hotel wat ek nog nooit voorheen raakgesien het nie.
Dis oud en eenvoudig en daar is blomme... op 'n klein tafeltjie met 'n pienk en 'n geel lap, staan die kunsruikertjie van pienk en geel rose met goue randjies en als. Daar is ook 'n bank met 'n rooi lap oor en agter die bank teen die pienkerige gordyne hang een string rooi plastiek blomme en een string oranje. Ek wonder of ek dit nie vir hulle moet afhaal nie... Ek verstaan die bloome later toe die bruid ingestap kom met haar rooi en oranje rok. Die rok is vol blinkertjies en dit lyk swaar...
Sy gaan sit op die bank met die rooi lap en haar susters weerskante van haar in hulle pers uitrustings en pers oorbelle... dis baie kleurvol... baie erg... . Anders as die Arabiese troue waar die bruid eers teen amper twaalfuur aangekom het, is die bruid al 8h20 daar... Die uitnodiging sê 8h00 maar ons is net omtrent tien mense, die bruid se ma en twee susters en broer (net daar toegelaat omdat hy vir die gaste sê waarheen om te gaan.... want die mans is in 'n ander vertek) ingesluit. Die bruid se gesiggie is so ernstig en sy sit met afgeslane oë dat ek regtig vir haar baie jammer voel. Dit lyk nie of sy wil trou nie.Daar is ook nie mense nie . Moet sê dat daar tien minute later gereeld mense begin inkom het, totdat die twee sussies opspring en klein bordtjies met rooi en wit roosblare gryp en na die deur toe gaan... 'n soort erewag vorm. Hulle strooi van die roosblare op die vloer vir die skoonma en skoonsussie wat aankom... in die lewe... Maar die bruid kyk skaars na hulle en ek dink so by myself dat ek ook bietjie dikbek sou wees as hulle vir ander mense roosblare strooi en nie vir my nie... as ek nou die bruid sou wees.
Sy is ook nie vreeslik bly oor die gaste wat inkom nie, maar iets moois gebeur.... 'n ouerige Pakistaniese vrou kom in... en glimlag vir almal en stap na die bruid en praat saggies met haar. Sy lig die bruid se ken en kyk in haar oê... ek kry trane in my oë. Ek het lankal gedink sy het 'n drukkie nodig. Ek is dood dors, maar dis half tien voor ons uiteindelik kan gaan eet. Die kos het heeltyd daar gestaan en nee, ek weet nie waarom mens nie maar vroeër kon eet nie. Die kos is gewoon drie slaaie, drie soorte vleis, twee soorte rys en twee soorte nagereg. Geen oordaad, geen vermorsing op versierings nie... mens drink sommer die keoldrank so uit die blikkie, hoewel ek later ontdek dat daar wel regte glase op die tafel is vir water wat mens sou kon gebruik. Ek het 'n fout gemaak om nie 'n persent saam te neem nie. By die Arabiese troue het hulle ons vertel die bruid hanteer nie geskenke op die troue nie, so toe dog ek dit sou dieselfde wees. Dit fassineer my ook dat die geskenke mooi toegedraai is maar in die plastieksakke van die plekke waar hulle gekoop is op die tafel staan... soos kruideniers... dit lyk nie mooi nie. Ek vind later uit die bruid en haar bruidegom het mekaar in 2006 ontmoet en van mekaar gehou... Die families het gereken dis ok dat hulle trou. Hulle het albei IT geswot en tot die troue mekaar nie eintlik weer gesien nie. Die families is verlangs verwant. Die paartjie gaan Londen toe oor drie dae... vertel die vrou wat langs my sit, maar ek vind later uit dat die bruid 'n maand moet wag vir haar visa om in Londen te kan bly en werk en dus is die bruidegom sonder sy bruid weg. Die bruidegom se ouers woon in Londen waar die pa 'n groot elfvertrek huis het, word ek vertel. Die paartjie gaan eers daar bly todat die pa later vir sy seun 'n huis sal bou... ai tog... ek wonder of die bruid ooit weer sal glimlag... en intussen soek ek vir haar 'n geskenk. Iets moois wat haar sal laat glimlag...