Monday, June 16, 2008

Ons is braaf

Die vrouens van ons vrouegroep begin ook nou so een vir een regmaak vir vakansie en vakansie beteken Suid Afrika toe. Ons neem so in paaimente afskeid van mekaar en so is ek en Corinne, Sandra en Amelia na die Blou Souk in Sjarjah en dis nogal een plek wat sy naam gestand doen in my kop... om hom te "soek". Ek is in beheer van ons daar kry en my "claim to fame" is dat ek een keer soontoe verdwaal het en weer daarna 'n keer my kroos geneem het met die verdwaalpad saam. Dis omtrent soos Rooikappie... daar is 'n kort pad deur Dubai en 'n langpad deur Sjarjah en dis soos vinkel en koljander... die een soos die ander. Die kort pad is gepak met verkeer en dan moet mens weet watter paaie bestaan nog en watter nie... en die langpad gaan deur Sjarjah se industriële area. Daarvan het Amelia gesê dat sy nooit weer sal dink Soutrivier in die Kaap is 'n vreeslike plek nie. Daar is paar definisies wat verander in die land, onder andere verkeer, chaos en hitte.. maar ons vind die souk en die ou gevoel van wat koop mens en wat los mens kom weer terug. Ek verstom my altyd aan die dinge wat mens skielik so nodig het as mens so deur die tientalle matte-, juwele, klere en antieke winkeltjies dwaal. Daar is pragtige mantels soos die een wat ek by Nepal in die Gobal Village gekoop het en die allermooiste Pashminas... van egte handgeweefde fynste kashmir vir sowat R1700 tot "100% pashmina vir R150... wat dit ookal mag beteken. Die dag as ek R1700 so oor my skouers kan hang sal ek vir julle skryf en het aangekom... of my skip het aangekom... of iets. Dan sal ek ook seker 'n R75,000 se "sy op sy 800 knoop" Persiese mat uit Iran kan koop, of R30,000 vir 'n Kelim uit Marokko kan betaal. Soos altyd is dit baie moeilik om deur die erewag van winkeleienaars en verkoopsmanne te kom en my standaard verweer teen die "aanval" is om te glimlag en te sê dis mooi en ek sal dalk weer kom.. en soms bedoel ek dit regtig... die weerkom deel praat ek van, maar as mens deur die gange en oor die brue is en mens se voete pyn dan raak die "weer teuggaan" al hoe onwaarskynliker. Ek sal dalk eendag 'n mat gaan koop, maar as ek dink aan die hondjies wat dalkies op die dure mat mag piepie, dan kry ek koue rillings. Mens wil eintlik ook nie op die matte loop nie. Dan sê my kop vir my ... waarvoor wil jy dan soveel vir 'n mat betaal. Dan gaan ek huis toe met 'n Indies geborduurde katoen top vir minder as Dhs 100 en ses pragtige sygeborduurde, baie bont coasters teen Dhs10 stuk en ek voel soooo ryk. Mens kan met die oë koop en voel asof mens 'n huis vol Persiese matte het weet ek nou.

2 comments:

Anonymous said...

Charmaine ek is absoluut mal oor hierdie matte, ek kan nie verby hierdie matte winkels loop nie. Die een is ook altyd mooier as die ander een!!

Groete
Muriel

Anonymous said...

Jy is so reg. Maar hulle is duur jong. En eendag dalkies sal ek so een in my sak gaan sit en terugneem huis toe. Die matverkopers is net so interessant. Hulle sal vir jou matte afpak en oopgooi asof dit goud is wat hulle voor jou oopsprei. Jy sal moet kom kyk... :-)Charmaine