Showing posts with label Global Village. Show all posts
Showing posts with label Global Village. Show all posts

Thursday, February 14, 2008

Ons ry die woeste wind

Vir die brawes onder ons... of dommes soos ons ook genoem word, is daar hope geleentheid om om vreeslike rides te gaan by Global Village. In my dae... ja ek weet ek klink soos 'n ou vrou... was daar net die Dive bomber. Kan iemand dit asseblief onthou? Ek het so bietjie van 'n waaghalsige streep in my want op skool het ek 'n paar maande lank gespaar vir die Bloemfonteinse skou om al daardie spaargeld op die Dive bomber uit te gee. En toe kom ons by Global Village en hier is al hierdie goeters.... en dan die ene.. Typhoon... is hom naam... en dit sê mos alles. Ek staan en dink daaraan om te gaan maar sê niks. Ek het eintlik in gedagte gehad dat ons al vier dit saam doen, maar ek sê steeds niks en toe sê Corinne... kom ons ry die ding... en ek sê dis reg. Terwyl hulle tokens koop staan ek en tweede gedagtes kry want jongie, die "wind" is woesDie karretjies swaai ondestebo en heen en weer en alles maar dis te laat. Toe die ou die baie dik en swaar harnas kom vasdruk... en hy moes nogal druk aan myne.. het ek hoendervleis gekry... maar die ding begin draai. Ek sien uit dat julle moet kom kuier dat ek saam met julle op die ride kan gaan en wonder wie sal instem... hmm? Die Big wheel was toe baie mak teen die Typhoon en Nelmari het die keer saam gegaan. Ons het baie mooi fotos so van baie hoog af geneem. Daar is nog 'n wilder ride as die Typhoon. Ek weet nie wat sy naam is nie, maar dit lyk erg!!! Ek moet nou twee dinge erken... toe die ding die derde keer my onderstebo gooi, wou ek regtig hê hulle moet stop ek het heeltemal genoeg gehad...en toe ek afklim, het my hele lyf gebewe. Of ek dit weer sal doen? Ja, hoekom nie. Hoe oud is te oud?

Friday, February 8, 2008

Global Village se stalletjies

Dis nogal regtig belangrik om te onthou by watter hek en watter land mens ingaan by die Village.
Daar is tien hekke en die uitsig oor die Village kan julle so effense idee gee van hoe groot dit is. Ons het by Indië ingegaan... hek nr ses... dis die plek vir mense wat na tafeldoeke en mantels en blink goeters en rompe en bloesies soek... dan Saudi vir ouens wat daardie GROOT potte waarvan ek julle voorheen al vertel het, besit, waarin mens BAIE melkkos of pampone kan kook, want hier kry mens die kaneel daarvoor... en duur heuning.. In Yemen kan almal wat van kunsblomme hou wat so vreemd goud skyn, koop. In Pakistan is daar die mooiste leer baadjies en jasse en langsaan in China is daar die speelgoed wat rondloop en rondvlieg en seepborrels wat teen mens bars. Afganistan se klere is so pragtig kleurvol... kyk net die juwele wat aan die rokke vasgewerk is. Ek weet nie wat is die was instruksies vir die rokke nie. Iran maak spookasem wat soos hare lyk... ek weet, dit klink grusaam, maar dit smaak wonderlik. Daar is natuurlik ook pragtige persiese matte vir almal wat weet hoe om kaf van koring te onderskei. Hoe 'n ou 'n mat in 'n kar soos FROG laai, weet ek nie. In Nepal koop mens die mooiste duurste handgeborduurde Alpakka wol mantels en gooi mens se hele maand se begroting deurmekaar.Daar is ook van hierdie goeters wat ten mure en deure hang. Turkye het nie net Delights nie, maar ook handgemaakte roomys. Volgende keer begin ek daar en gaan eet daarna, want ons was so versadig van die heerlike Lebanese "mixed grill" dat selfs 'n ou klein proe teelepeltjie vol roomys te veel was. Ek weet nie of daar iemand is wat so baie van klapper hou soos ek nie, maar as daar is, kan ek julle Egipte toe verwys vir klapper lekkers en "ou brood". Dis die naam vir "honey comb" stokkies.. Ek het dit by Amelia geleer en gedink die naam pas. Toe ons halfpad kortpad vat tussen die stalletjies deur opsoek na 'n toilet en sien hoe laat dit is en besef hoe seer die voete en bene is dan besef mens eenkeer se besoek is nie kwartpad genoeg nie. Daar is nog baie villages wat besoek moet word, so kom kuier dat ek 'n goeie verskoning kan hê om weer te gaan.... miskien in die bonus maand.... ??

Wednesday, February 6, 2008

Nuwe dinge... ou plekke

Ek het al voorheen vertel dat mens so van tyd tot tyd nuwe dinge vind om te doen of dinge vir die eerste keer doen. Ek is al 5 1/2 jaar in Abu Dhabi en was nog nooit by die Glodal village in Dubai nie... maar dis presies die probleem, dit is in Dubai. Toe Niël hier was het ons een Vrydag oggend vroeg deurgery vir 'n dag by die Global village en toe ons ENIGE plek op die reuse parkeerterrein kon parkeer, het ons vermoed dis toe. Dit maak vieruur in die middag eers oop en dus nog 'n rede waarom mens nie sommer daar uitkom nie. Maar verlede naweek het ek, Sandra, Corinna en Nelmari die vreeslike Emirates pad aangedurf vir 'n besoek aan Global Village.
Dit is soos 'n reuse skou of vlooimark met baie villages wat lande soos Egipte, Nepal, Indie, China, Saudi, Yemen, Iran, Pakistan, Oos en Wes Afrika, en baie baie meer, huisves. Daar is ook 'n UAE stalletjie en dan 'n reuse food court waar mens Indies, Amerikaans, Lebanees en wat mens ookal sou wou, kan eet. Tussenin is daar stalletjies met tee en koffie, mielies en koeldranke van alle soorte. Dis so oorskou van die Global Village. Ek sal in die volgende blog vertel van wat mens waar kan koop... of proe.... en ook van die pretpark waar mens regtig jouself kan jonk hou tot groot vermaak van 'n klomp verbaasde "ouer" mense.