Showing posts with label Dubai. Show all posts
Showing posts with label Dubai. Show all posts

Wednesday, June 18, 2008

Agteros kom ook in die kraal

Ek weet die Dolfyne kuier is lank lank reeds in die anale van die geskiedenis, maar ek moet nogtans my storie vertel... ook vir die eendag se "vuurmaakhout" van herinneringe as mens nie te veel ander kan doen nie. Die Dolphinarium is 'n ongelooflike ervaring vir oud en jonk en ek het trane in my oe gehad oor die kragtige soepel visse... diere se uitbundige kapperjolle. Ons ontvang 'n mail van Vicky van 'n artikel in die koerant oor hoe reg dit is om diere so vir vermaak te gebruik en hoe gevaarlik dolfyne is en dat hulle aangehou word vir die vermaak en nie vir opvoedkundige redes nie ... ja ja ja... dis alles waar, maar dan het mense diere mak gemaak en heers oor hulle vir so lank as die aarde oud is. As die dolhinarium moet toemaak en die dolfyne terug gestuur word na die oopsee... wat dan van al die diere in dieretuine en navorsings institute en plase? Hoe dit ookal sy en aan wie se kant mens staan, was ek diep onder die indruk van die skoonheid en grootheid van Vader se Skepping. Die rit op die bootjie in die tenk was 'n onbeskryflike ervaring. Ek weet nie of die Dolfyne kan lees en elke keer nr een vang nie, maar ek was so gebless dat dit die keer my beurt was. Ek sal weer en weer na die dolfyne gaan kyk... en almal vir wie ek lief is saamsleep om die groot vreugde te deel... soos ek altyd die dieretuine in Pretoria en Johnnesburg gaan besoek en elke keer geestelik soveel ryker daarvan afkom. As ons God soveel aandag aan detail gee in die dinge en diere en plante en blomme wat deel van Sy skepping uitmaak... hoeveel te meer aan ons wat die kroon van Sy skepping is en aan wie hy die mag gegee het om oor al hierdie amazing dinge te heers. Vir almal wat nog nie die video gesin het nie, klik op die volgende link... http://tussen-die-duine.blogspot.com/2007/06/dolfyne-in-dubai.html Sandra is altyd so oulik om haar kamera byderhand te he. Ek probeer nog onthou om my kamera oral saam te neem..:-)

Friday, April 18, 2008

Kuier in Dubai

Ek het die afgelope week 'n kursus bygewoon in Dubai... change management... want niks is mos so seker soos verandering nie en in Dubai is alles gedurig aan die verander. Hannes het gisteraand sy brawe nuwe "perd" opgesaal om van Dubai af tot amper in Sharjah te ry om vir my te kom kuier by die akademie. Ons besluit om iewers te gaan eet en ek dink ek weet waar daar plek is en ons durf die verkeer aan.
Die plek is nie waar ek gedink het nie maar Hannes beindruk my met " o, ek weet waar ons is" en "kom ons gaan Festival city toe". Hy is nog net 'n paar weke hier en ek.... sal liewer nie se nie.. en ek verdwaal nog steeds. Die terugkom was nie so maklik nie want ons kry nie die tonnel terug se opening nie. Ja ek weet hoe dit kink en ons het omtrent op 'n ekspedisie gegaan om weer die akademie te kry.
Ek het so ruk terug vir Sean en Hannes gaan kuier, voor Lorraine terug was... ek kyk net die pragtige uitsig uit die woonstel.
Hannes het die mooi foto in Madinat Jumeirah souk geneem waar ons gaan eet het. Ek dog ek deel ook sommer met julle die nuwe Chinese eetplek in die Al Wahda mall hier in Abu Dahbi waar ons vanaand gaan eet het voor ek more op die vliegtuig klim om vir agt dae in Suid Afrika te gaan kuier. Ek gaan my bes doen om nuus en foto's te stuur van my kuier en Niel se gradeplegtigheid.
Dee was so bly ek is terug.. hy pas my omtrent op... hy le sommer net hier by my in die studeerkamer... nou gaan die ounooi alweer more weg en as ek terugkom, kom Taffee en Didi ook saam. Ek dink ek gaan dan heelwat te vertelle he. Nog meer goeie nuus oor die honde kinders later... met foto's.. belowe. Ek en my kamera is nog nie heeltemal so heeltyd saam nie.

Friday, February 8, 2008

Global Village se stalletjies

Dis nogal regtig belangrik om te onthou by watter hek en watter land mens ingaan by die Village.
Daar is tien hekke en die uitsig oor die Village kan julle so effense idee gee van hoe groot dit is. Ons het by Indië ingegaan... hek nr ses... dis die plek vir mense wat na tafeldoeke en mantels en blink goeters en rompe en bloesies soek... dan Saudi vir ouens wat daardie GROOT potte waarvan ek julle voorheen al vertel het, besit, waarin mens BAIE melkkos of pampone kan kook, want hier kry mens die kaneel daarvoor... en duur heuning.. In Yemen kan almal wat van kunsblomme hou wat so vreemd goud skyn, koop. In Pakistan is daar die mooiste leer baadjies en jasse en langsaan in China is daar die speelgoed wat rondloop en rondvlieg en seepborrels wat teen mens bars. Afganistan se klere is so pragtig kleurvol... kyk net die juwele wat aan die rokke vasgewerk is. Ek weet nie wat is die was instruksies vir die rokke nie. Iran maak spookasem wat soos hare lyk... ek weet, dit klink grusaam, maar dit smaak wonderlik. Daar is natuurlik ook pragtige persiese matte vir almal wat weet hoe om kaf van koring te onderskei. Hoe 'n ou 'n mat in 'n kar soos FROG laai, weet ek nie. In Nepal koop mens die mooiste duurste handgeborduurde Alpakka wol mantels en gooi mens se hele maand se begroting deurmekaar.Daar is ook van hierdie goeters wat ten mure en deure hang. Turkye het nie net Delights nie, maar ook handgemaakte roomys. Volgende keer begin ek daar en gaan eet daarna, want ons was so versadig van die heerlike Lebanese "mixed grill" dat selfs 'n ou klein proe teelepeltjie vol roomys te veel was. Ek weet nie of daar iemand is wat so baie van klapper hou soos ek nie, maar as daar is, kan ek julle Egipte toe verwys vir klapper lekkers en "ou brood". Dis die naam vir "honey comb" stokkies.. Ek het dit by Amelia geleer en gedink die naam pas. Toe ons halfpad kortpad vat tussen die stalletjies deur opsoek na 'n toilet en sien hoe laat dit is en besef hoe seer die voete en bene is dan besef mens eenkeer se besoek is nie kwartpad genoeg nie. Daar is nog baie villages wat besoek moet word, so kom kuier dat ek 'n goeie verskoning kan hê om weer te gaan.... miskien in die bonus maand.... ??

Wednesday, February 6, 2008

Nuwe dinge... ou plekke

Ek het al voorheen vertel dat mens so van tyd tot tyd nuwe dinge vind om te doen of dinge vir die eerste keer doen. Ek is al 5 1/2 jaar in Abu Dhabi en was nog nooit by die Glodal village in Dubai nie... maar dis presies die probleem, dit is in Dubai. Toe Niël hier was het ons een Vrydag oggend vroeg deurgery vir 'n dag by die Global village en toe ons ENIGE plek op die reuse parkeerterrein kon parkeer, het ons vermoed dis toe. Dit maak vieruur in die middag eers oop en dus nog 'n rede waarom mens nie sommer daar uitkom nie. Maar verlede naweek het ek, Sandra, Corinna en Nelmari die vreeslike Emirates pad aangedurf vir 'n besoek aan Global Village.
Dit is soos 'n reuse skou of vlooimark met baie villages wat lande soos Egipte, Nepal, Indie, China, Saudi, Yemen, Iran, Pakistan, Oos en Wes Afrika, en baie baie meer, huisves. Daar is ook 'n UAE stalletjie en dan 'n reuse food court waar mens Indies, Amerikaans, Lebanees en wat mens ookal sou wou, kan eet. Tussenin is daar stalletjies met tee en koffie, mielies en koeldranke van alle soorte. Dis so oorskou van die Global Village. Ek sal in die volgende blog vertel van wat mens waar kan koop... of proe.... en ook van die pretpark waar mens regtig jouself kan jonk hou tot groot vermaak van 'n klomp verbaasde "ouer" mense.

Tuesday, September 18, 2007

Die rus is elders.


Een van die belangrikste lesse wat ek seker die laaste paar jaar van my lewe geleer het, is om tevrede te wees met waar ek is en wat ek het. Dit neem vreeslik druk af om nie gedurig te dink dat elders beter is of eendag as ek dit of dat bereik het of op hierdie of daardie plek is, sal dit beter wees nie.
Die Ski world in die Emirates mall in Dubai, het die gedagtes weer geroer... mens kan seker sê "roer "as die Engelse kan sê "stir "nê? Om by die ski world in te gaan, moet mens uit die aard van die saak baie warm klere aantrek. Dis nogals erg om die klere te kry, want die ou agter die toonbank loer so van bo na onder en dan kom hy terug met die groottes.... sien mense jou as groot of klein of medium of ekstra groot!! En mens stry maar niks. Jy vat en trek aan...
Dan stap mens die skemer sneeu wêreld in en sien alles van 'n sneebedekte 'n denneboompie
'n igloo en 'n klein eskimo... ek is seker ek ken haar

die karretjies/stoele wat die skiërs teen die sneeuhange opneem tot doer bo waarvandaan klein en groot en ervare en onervare kan ski... in die middel van Dubai... in 'n mall. Hoe amazings is dit!!!Of soos Nelmari met die ski boards teen woeste spoed afgly ondertoe. Nee, ek het nie haar uitnodiging om saam te gaan aangeneem nie, want daar is 'n ouderdom vir alles... dink ek sal julle met my saamstem. Dan sien ek die warm sagte lig van die restaurante aan die een kant van die ski world en dink... dis so bibberend en skemerblou yskoud hier binne, maar sommer netnou sal dit beter wees en kan ek lekker warm koffie daar buite drink. En van die mense wat met hulle neuse plat teen die vensters staan en hulle mag dalk dink... "wow, wat 'n wonder wêreld van pret en sneeubal gooi... Ek wens ek kan daar wees. .."

En ek besef net weer hoe belangrik dit is om gelukkig te wees op hierdie einste oomblik, in hierdie einste omstandighede. Gryp die oomblik... elke oomblik. Geluk is nou.

Lief julle

Sunday, September 9, 2007

Ibn Battutta

Ibn beteken "broer" en Battuta se naam was Mohammed... wel, is seker nog steeds. Hy is op 24 Februarie 1304 in Morokko gebore. Sy ouers was studente van Religious Laws... in die lewe... dat mens die godsdienstige wette moet bestudeer. Presies dit wat ons as Christene nie hoef te doen is. Ons is vry van die wet... dankie tog. Verder met die storie... Ibn Battuta het op 21 vir die eerste keer na Mekka gereis en toe byt die reisgogga hom. Oor die volgende 30 jaar het die man 117,000 km gereis en 40 verskillende lande besoek. Hy het meestal saam met karavane gereis en soms 'n jaar of wat in een plek gewoon en al die Islamietiese heersers van die tyd ontmoet. Hy het ook kennis gemaak met al die nuutste ontwikkeling in die verskillende lande. Niemand weet egter vir seker of dit wat Ibn Battuta gaan vertel en skryf het by die "huis" die waarheid of stories was nie. Die enigste bron oor die reise van Battuta, is deur homself geskryf.

Hy word nogtans beskou as die Arabiese weergawe van die Italianer Marco Polo en was belangrik genoeg dat 'n krater op die maan na hom vermoem is, en natuurlik 'n mall in Dubai.

Een van die boeke wat Battuta geskryf het heet:

" A Gift To Those Who Contemplate The Wonders Of Cities And The Marvels Of Travelling"
In die Egipte mall is hierdie Ibn's besig om sterre te kyk... dink ek. ??

Dis hoe mens voel as jy die mall besoek. Oral in die mall is die belangrike Ibn's van die verskillende lande. Ek het fotos van 'n paar en is nou nuuskierig genoeg om terug te gaan mall toe en te gaan soek na wie wat gedoen het om 'n volgende keer vir julle te vertel.

Die idee van die mall is dat mens soos Ibn Battuta deur die verkillende lande "reis"... en glo my... mens LOOP... Dis baie ver van China af Andulusië toe, want mens loop ook deur
Indië
Persië
Egipte
Tunisië

en Andulusië

Mens kan 'n paar stoppe maak vir koffie langs die pad en teen die tyd dat mens in Tunisië kom, is dit "aand". Dan eet mens allerhande goed wat mens ook eintlik nie mag nie, maar die energie is nodig, vir die terugreis tot in China waar die kar geparkeer is. Die laaste draaitjie is in Andulisië. Dis waar mens dan ook weer geld trek....



Die mall is pragtig en die teëls is regtig. Geen plastiek hier nie. Dis regtig 'n ervaring en ek gee nie om om Dubai toe te ry vir 'n besoek aan die mall nie. Ek het ook nou 'n rede om weer te gaan. ek het halwe werk gedon met die oplees van die werk van die verskillende wetenskaplike Ibn's. Sal julle op hoogte hou.

Wednesday, August 22, 2007

Tyd vir alles onder die son

Daar is tyd om te kom en tyd om te gaan. Sean en Lorraine is terug huis toe en ek het deurgery Dubai toe om te gaan groet, koffiedrink en klets. Lorraine gaan dalk saam met Sean hier in Dubai of Abu Dhabi vestig. Dink hoe gaan ons dan kan kuier sus!!! Ons bid dat alles sal gebeur volgens Vader se wil vir ons lewens.


Ek en Lorraine kuier in Batutta mall in "Andalusia" waar dit altyd lyk asog dit aand is. Ek sal foto's wys oor die baie besondere mall op 'n later staduim.


Dankie vir die lekker kuier sus. Ons sien mekaar sommer baie gou weer.



Liefde vir almal