Maar so het ek hom verlede week weer by die veearts en ons praat oor die medikasie. Ek vertel hom dat Dee my haat as ek vir hom medisyne gee, en hy gee vir Dee lewergegeurde pilletjies wat veronderstel is om "smaaklik" te wees. Maar ek vermoed dis omtrent so smaaklik soos die koubare Vit C wat mens se kiewe vir 'n week op 'n knop trek.
Ek het een keer pille by die ander veearts gekry vir Dee. Ek het my ook moeg gesukkel om dit vir hom in te gee en eendag sit ek dit op die kombuiskas neer en Dee spring op en EET dit...so, ek sit die pilletjie ewe hoopvol vir Dee op die kas neer en hy lek nogal daaraan. Sal dit nou nie gaaf wees as hy die piletjie eet nie, dink ek, maar die hoop beskaam..
Plan nr 2. Ek vou Dee in 'n handoek toe en sukkel vreeslik om sy bekkie oop te kry, en ek kry dit soortvan reg, en gooi die pilletjie in sy keel af. Hy spring af en laat 'n bloedsteep op my arm... die pilletjie lê op die bank. Ek probeer weer... nou is daar 'n bloedstreep oor die ander arm en die pilletjie is sopnat en lê weer op die bank. Dee is passief aggressief... hy swiep swiep sy stert en gaan sit en sulk voor die venster. Hy roer nie eers sy ore toe ek hom roep nie en kyk nie om nie... heeltemal doof befoeterd.
Ek moet winkel toe, so ek besluit ek sal droëwors koop en die pilletjie daarin sit. So gesê so gemaak, maar Dee ruik ruik net aan die droeëwors. (Hy dood oor droeëwors.) Normaalweg as ek die pakkie in die kombuis oopmaak kom Dee gly gly om die hoek om te kom bedel.
Plan nr vyf: Sandra kom iets haal en ek gee vir haar tee en Dee en die handdoek en die pilletjie. Sy tel Dee op, draai hom toe, maak sy bekkie oop en gooi die pilletjie agter in sy keel en siedaar... en Dee het stilstuipe. Hy steur hom nie aan ons nie en gewoonlik is hy nogal baie prominent deel van die geselskap.
Teen die aand hoop ek alles is vergete, maar Dee gaan lê in die hoekie op die bank en nie bo op my soos gewoonlik nie. Selfs toe ek bed toe gaan steur hy hom nie. En vir twee dae eet Dee NIKS. En hoekom kommer ek daaroor? Want die veearts sê hy het 'n halwe kg verloor die afgelope jaar en ek moet hom bederf dat hy dit kan optel... waarmee? Hy eet nie sagte kos nie en nou wil hy nie meer droeëwors hê nie. En Riza waarmee gaan ons hom nou uit jou kamer lok? Nou vra ek raad... hoe gee mens vir jou kat 'n pilletjie?

