Die middag het ek hierdie foto van my woonstel se balkon geneem. Kyk hoe grys is die lug, maar dit het gelyk of dit wil ooptrek. Dis baie lekker skoon en vars al het die helikopters 'n paar keer oor ons koppe gevlieg oppad na ongelukstonele. Kan julle julle voorstel hoe glad die paaie is na 'n jaar se droogte en saampak van olie? Die mense kry nie baie oefening in reën bestuur nie. Daar was selfs op die intranet 'n "powerpoint presentation" oor hoe mens op nat paaie bestuur.
Nog 'n dag later... jinne ouens, ons het amper weggespoel in hierdie land. Dinsdagaand het ek uitgegaan om te gaan vleis koop en kyk hoe staan die F.R.O.G met haar voetjies tot by haar knieë in die water. Die klein buurman het ewe vriendelik vir my geglimlag. Dit is die "parkeer swembad" voor die woonstel.
Dit het blykbaar tien jaar gelede laas so gereën in hierdie woestyn. Woensdagoggend is ek in gietende reën Akademie toe in Dubai. Dit was 'n nagmerrierit so in die donker met die water wat oor die paaie stroom. Die skole in Dubai en van die skole in Abu Dhabi het gesluit. In Dubai is 1200 ongelukke aangemeld in die paar dae. Ek was in nood toe ek in Dubai aankom, maar gelukkig het dit toe opgehou reën deur die dag en het ek en F.R.O.G relatief droogvoets by die huis aangekom... oorstromings in die woestyn... nou het ek alles beleef!!!

