Friday, October 10, 2008

Oktobermaand. Borskankermaand

Ek lees 'n blog van 'n goeie blogvriendin en 'n baie pragtige gedig as ode aan 'n skoonma wat die siekte nie oorleef het nie en ek voel ek wil graag met julle deel wat ek geleer het as 'n borskanker "survivor". Ek is vyf jaar gelede met borskanker gediagnoseer en dit nadat ek 18 maande voor dit wel 'n mammogram gehad het wat 'n klein gewassie gewys het wat op daardie stadium nie kwaadaardig was nie. Ek het dit heeltemal ignoreer en daarvan vergeet tot ek een oggend opgemerk het dat my tepel heeltemal ingetrek en verkleur was en toe voel ek die gewas... groterig. Die kanker het toe reeds na my limfkliere versprei en ek moes 'n mastektomie ondergaan, 8 chemo behandelings kry en 27 radiasies. Die kanker was in fase 3. Hier is ek in verskillende fases van geen hare... pruik hare... kort hare en ai, kyk hoe lekker maer was ek en lawwe rooi hare... net aangespuit. Ek is nie regtig so braaf nie:-) (Ek is self nie gespaar van die kamera nie)Ek is sederdien heeltemal skoon... Vader is goed vir my. Ek het geen kitskuur of raad vir kanker nie. Ek weet nie waarom sommige mense gesond word en ander nie. Wat ek nou gaan vertel is totaal my eie ervaring en staan nerens in 'n boek nie en sal ook nie noodwendig vir almal waar wees nie.

Ek weet nou:

1. Mens moet na jouself kyk en gereeld ondersoek en selfs vir die mammogram gaan... al is dit aaklig. Een voordeel van die mastektomie is dat ek nou net een bors het en net die helfte van die tyd moet staan en op my tande byt.. :-) Met my swak selfbeeld, het ek eerlik nie omgegee wat van my word nie. Daarom ook die agterlosigheid met gereelde ondersoeke.


2. Familie se ondersteuning is kosbaar en so belangrik. My sus was hier toe ek gediagnoseer is en het haar man en dogter by die huis gelos om by my te bly vir die biopsie en operasie. Sy het so swaar gekry omdat sy toe nie net twee jaar tevore haar seuntjie moes afstaan aan die dood weens kanker. Die feit dat dit so goed gegaan het met my na die operasie was vir haar op 'n manier genesend. Ek het na die sesde chemo eers my hare verloor. Elriza het die oggend van haar matriekafskeid by my op die bed gesit en die bondels hare wat ek uitgetrek het in haar hande gehou en my getroos. My ma het bygestaan met 'n lekker ontbyt en daarna is ek en Lorraine mall toe om te gaan pruik soek. Lorraine het die laaste klossies hare afgeskeer sodat ek nie so heeltemal soos daardie grillerige gogga van Lord of the Ring lyk nie.My ma het twee weke kom kuier en kon saamgaan vir een chemo behandeling en self sien dat die behandeling in die staatshospitaal uitstekend is. Sy is ook 'n borskanker survivor en ek dink net die feit dat die kanker haar nie gewen het nie, was vir my baie bemoedigend.
3. Ek het 'n wonderlike vriendin Sandra wat elke keer saam my gegaan het en tyd afgeneem het by die werk en later weer tyd moes inwerk om dit te kan doen. Sy het tree vir tree die pad met my geloop. Ek is doodbang vir naalde en die opsit van die drip was elke keer vir my 'n nagmerrie. Een so dag het Sandra gese ek moet vir haar 'n storie vertel terwyl die verpleegter krap vir 'n aar... en ek vra toe of ek die storie van Rooikappie moet vertel wat haar mond gebrand het toe sy aan die drie bere se pap geproe het en Sandra se ja, en van die deel toe die wolf haar huis probeer omblaas het en sy by die sewe dwergies in die bos gaan bly het ens ens ens ...en so het Chemo -en ander strontstories hulle ontstaan gekry en het ons die waarde van lagterapie ontdek.


4. Daarmee saam is dit nodig om lewe te dink en positief te wees en nie toe te laat dat die siekte 'n swart kombers oor mens trek nie. Ek het glad nie opgehou werk nie. Ek het steeds gaan fliek en "shop" en uitgeeet.


5.Ek het op daardie stadim 'n wonderlike man in my lewe gehad met wie ek die res van my lewe wou deel. Hy het my met sy liefde en gebed gedra. Ons sou trou in Desember, maar hy is net voor Kersfees en voor die troudatum aan 'n hartaanval dood. Dit was nogtans die mees vervullende tyd in my lewe.


6. Ek het geleer om Vader te vertrou... ook met my. Hy weet watter planne Hy vir my het en dit is nie planne om my te vernietig nie, maar vir lewe en 'n toekoms. Of die toekoms op die aarde of in die Ewigheid hierna is... Hy weet die beste.
6. Ek weet nou dat ek hier is omdat my werk op die aarde nie klaar is nie. As ek nie toelaat dat die ervaring my louter en sterker maak nie, kan ek maklik totaal mis wat Vader vir my vra om te doen. Soos Johannes die Doper die pad vir Jesus moes gelyk maak en soos Phillipus op die wa moes klim om vir die Ethiopier die waarheid oor die Evangelie te vertel, wil ek ook graag my deel vir God se koninkryk doen.


7. Daar staan nerens in die Bybel dat dit altyd met ons sal goed en voorspoedig gaan nie. Ons sal siek word en terugslae en teleurstelling en mislukkings verduur. As dit 'n geloofskrises word en ek twyfel in God se bestaan of Sy liefde of Soewereiniteit, mis ek die wonderlike geleentheid om gesuiwer te word totdat ander Vader in my kan sien.


8. Ek is bevoorreg dat Vader my uitkies om getoets te word. Hy sal ons nooit bo ons kragte toets nie. Hy het vir my 'n kruis gegee wat ek kan dra.


9. Ek het elke dag hotflashes van die hormoonbehandeling en pyn in my gewrigte van die medikasie wat ek nog steeds moet drink, maar ek het 'n keuse of dit my vreugde steel of nie.
10. Ek het leer vra dat Jesus vir ons sal bid soos Hy vir Petrus gebid het, dat die beproewinge wat op ons pad kom nie ons geloof sal laat wankel nie.

Lukas 22:32


"Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk."

Monday, October 6, 2008

Kaleidoskoop van kleur

Daar is mos soms tye wat daar temas is... soos toe ons die feetjie week gehad het. Nou is dit kleure en kreatiwiteit. Net waar ek lees, is iemand besig om te vertel en te wys watter wonderlike dinge daar geskep word. Sou dit nou die begin van lente wees wat almal so inspireer? En praat van inspirasie... die pragtige glaskolom en venster is in Wafi mall en kan maar inspirasie voorstel sou ek se.. of 'n droom. Mooi kleurvolle droom met geel vir son, goud en vreugde en blou vir gees en diep dink of diep delf tot mens kan uitstyg bo dit wat mens onderkry. Dan 'n koffieplek so langs die venster wat mens laat voel jy is in 'n kerk van soorte.. mens kan jou binneste oopmaak vir die mense saam met jou en kleurvol oor alles gesels. Spatsels onthoue en strepe planne met hier en daar rooi skaterlag om alles op te vrolik.


Wie het nou al ooit gehoor van 'n wit grot vol goud. Ek kan nie besluit of dit ys of marmer wil wees nie. Gedagtes van se nou maar dit was regte goud en alles myne... wat sou ek daarmee doen?

Miskien reis na koel plekke waar dit stil en rustig is soos in die tuin by die valke hospitaal. Of dalk sal ek die huisie in Greyton koop en restoureer. (Ek het die foto van die tuin deur die venster geneem omdat dit naby 50 grade was buite. )Nou het dit deel van die drome geword ... mens kan jou verbeel dis 'n oase of 'n tuin iewers by die huis of net waar mens wil wees, want die weerkaatsing in die glas maak alles so half onwerklik.
En so vlieg my gedagtes hoog en ver saam met hierdie pragtige valkie na waar alles perfek is. 'n Plek waar mens nie vrae vra nie omdat jy weet wat jy wil weet. Geen pyn of verslawing, armoede of ellende nie... waar ons in harmonie saamleef, regtig omgee vir mekaar...

En net voor julle dink dat ek lid is van die SS of op een of ander trip is... eintlik wou ek sommer net die anderste foto's met julle deel. Lief julle.



Friday, October 3, 2008

Baie geluk met jou verjaarsdag Lorriane!!

Sus, dis jou verjaarsdag. Mag dit 'n wonderlike dag en baie spesiale jaar wees die. Geniet Suid Afrika en die stoep en drink sommer klomp koppies tee vir ons.
Ek dink aan jou met baie liefde


Wednesday, October 1, 2008

Waar was jy in 1978

Ek het so rukkie terug hierdie mail van Elma ontvang en jinne het dit my laat terugdink. 1978 was my eerste jaar van getroud wees en werk en budget en huishou. Ek het kruideniers gekoop vir die maand vir R20 en maalvleis het 99c 'n kilo gekos. Kyk net die pryse!! Kan mens nou gaan "scrap" koop vir die prys van 'n nuwe kar? As ek bv vir my getoetse sonbril wil laat maak, gaan dit dubbeld my jaarlikste salaris van 1978 kos.
Dalk is daar iemand wat die blog lees wat weet wat die motoronderdele nou kos??
Mens betaal nou vir een romp wat ek in 'n maand verdien het. En dis nie die duurste romp op die hanger nie.
Hoe het ons ooit vir die prys geeet? Ek moet darem vertel dat mens in die land maklik nog 'n shwarma by 'n straatkafee koop vir omtrent R4, blikkie koeldrank kos R2. Mar dan kan 'n inkleurboek bv R110 kos... en ek het dit betaal, want dis vol van die mooiste feetjies en goeters.
Ek kyk die goed so en dink daaraan dat alles wat op die fotos is, reeds tot stof en as en roes vergaan het. Ons klou so vas daaraan en heg soveel waarde daaraan..


Ek wonder sommer wat sou die prys op die tag wees vir gesondheid, geluk, 'n goeie verhouding met 'n kind, of vriendin of geliefde.... as mens nou daarvoor sou moes betaal..


Monday, September 29, 2008

Die fase tussen ma-wees en ouma-wees

As mens nie meer kinders het wat klein is nie en daar is nog nie kleinkinders vir wie mens kan kinderpartytjie hou nie, dan is daar altyd die dierekinders wat bederf kan word. Die meeste bederf het nie van my af gekom nie maar van Nelmari. Taffee en Didi is 1 jaar oud vandag en daar is tafel gedek vir hulle met 'n koek in die vorm van 'n been, 'n singende kersie... sien Riza ek het die kersie gekry... balonnne en persente en alles Nelmari en Sandra het die verjaarsdag hoedjies gebring maar voor Nelmari dit kon opsit, hardloop hulle en soek skuiling my ounooi Sandra. Nelmari moes maar goed vashou dat die hoedjies tenminste vir die fotosessie op hulle koppies bly.. Taffee baklei die hardste.. Daarna is dit koek eet tyd. Die koek is in die vorm van 'n been met hondepuilletjie en roomkaas vir versiering. Die twee mannetjies het dit baie geniet. Didi het elke keer met sy stukkie koek kamer toe gehardloop en dit onder sy kombersie gaan "begrawe".
Vir persente het elkeen by Sandra en Nelmari 'n sokkerhemp en 'n Golfhemp gekry met blou strepe... ja ek weet dis eintlik bedoel om WP truie te wees maar hulle is Cheeta's. Ek het vir hulle squicky speelgoed gekoop. Hulle het ons omtrent doof gespeel daarmee. Dalk was dit nie so slim idee nie. :-(

En weet julle wat het ons gehad vir middagete? Nelmari het die wonderlikste sjokolade koek met Rasberry preserve gebak en vir nagereg pere en vla. Ook maar goed die honde verjaar net eenkeer 'n jaar...of is dit eenkeer in sewe jaar??
Gaan loer ook hier vir nog foto's.

Wednesday, September 24, 2008

My feite agtermekaar

Heel in die begin toe ek hier gekom het, ry ek een aand Spinneys toe om te gaan brood koop en sien die pragtige houtbank by die antieke winkeltjie. Ewe onnosel vra ek die Indiese verkoopsman wat kos die Arabiese bankie. "What Arabic bench" vra die ou my baie verbaas. Ek is net so verbaas dat hy nie weet hy het die bank in sy winkel nie en druk my vinger op die bankie... "That" se die man vir my en stik amper so verontwaardig is hy... "is NOT Arabic. There are no trees in the desert"... asof ek dit nie weet nie... "All wooden furniture comes from India." Ek moet darem net so bietjie van die res van die storie vertel. Die bank is swaar en toe ek by die huis kom, moes ek Sandra bel om asseblief haar sterk seuns te bring om die "brood" vir my te kom uitlaai en op te dra woonstel toe . Die is dus my "broodbank"... met kussings uit Suid Afrika, natuurlik.

Nou het ek weer my feite verkeerd gekry. Ek vertel vir Muriel die lamp is Arabies... weer nie... dis Persies. Ek kom agter ek hou sommer baie van Persiese goeters... matte, lampe, teels... Ek kan nog nie 'n mat koop nie, dalk eendag, maar ek geniet die lamp solank.

Die Persiese mall in Ibn Batutta is ook my gunsteling. Kyk net die pragtige mosaiek... en natuurlik... die lampe.


Ek het 'n vriendin wat die ongelooflikste navorsing doen vir haar blog (julle weet mos) en ek dog ek sal bietjie kyk wat ek op die internet kry oor antieke Persie. Die eerste ding wat ek raaklees is die gedig van 'n Persiese digter uit die 13 de eeu.

"Human beings are all members of one body.They are created from the same essence.When one member is in pain,The others cannot rest.If you do not care about the pain of others,You do not deserve to be called a human being."
A Quote from:
Mosleh al-Din Saadi Shirazi( 13th century Persian poet, from Shiraz )
So slim Pers!!! Sou hy die Bybel gelees het?
1 Korinthiers 12: 25,26

En sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat al die lede gelyke sorg vir mekaar dra;
As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geƫer word, is al die lede saam bly

Sunday, September 21, 2008

lekkergoed vir die hart

Sandra is terug van Suid Afrika af en het ons heerlik kom bederf met soetgoedjies van die huis af. Julle moet verstaan dat mens baie verskillende...en lekker lekkergoed hier kry, maar nie marshmallows met klapper en- geroosterde klapper nie... ook nie turkish delight wat soos sosatie op 'n stokkie geryg is en in sjokolade gedoop is nie.. en veral nie tuisgemaakte nougat met heuning en neute nie.. en defnitief nie Wilson's se caramel nie. Dis SOET drome wat my sommer baie ver teruggeneem het na my kleintyd. En terwyl ek so smul aan heeltemal te veel soetgoed.....in my gedagtes weer so kind word... was ek reg om die nuwe feetjies wat by my kom bly te verwelkom. Dankie maat... dat jy altyd aan elkeen van ons dink. Jy is kosbaar.


Ontmoet Feetjie Muriel... die oulikste, fraaiste vet feetjie (mens wil haar net 'n drukkie gee) wat trots en vol selfvertroue met grasie 'n baie spesiale boodskap van Muriel vir my saamgebring het. Dankie vir jou borrelende opregte vriendskap Muriel (vriendin)..Jy het 'n baie spesiale plekkie in my hart.


Hierdie is Feetjie Petra. Nie my naam vir haar nie... Sandra het haar met naam en al aangeneem... let wel... nie gekoop nie... by hierdie wonderlike feetjieland wat ek hoop sy nie te veel sal mis nie... dis nou Petra, want sy is sommer baie welkom hier in my huisie waar baie ander feetjies haar sal laat tuis voel. Sy het al klaar 'n plekkie in my feetjiehart verower met haar sagte jubbelende windklokkies. Dankie maatjie... al dink jy ek het 'n skroef of wat verloor... :-)


Onthou julle die liedjie uit ons kindertyd oor die feetjes wat op ligte voetjies saggies in die nag kom fluister? Ek dink ons hoor mekaar nie meer nie. Ons praat te veel en raas te hard. As ons stil raak en luister, kan ons mekaar se harte hoor fluister en leer om beter te verstaan... as hierdie bietjie stroperig is, blameer die soetgoed... :0