Showing posts with label Iftar. Show all posts
Showing posts with label Iftar. Show all posts

Thursday, September 27, 2007

Iftar

Iftar, soos julle seker weet, is die tyd van die dag tydens Ramadan wanneer die mense die vas breek en vreeslik aan die eet gaan. Dis nie veronderstel om so te wees nie... die groot eet bedoel ek, maar nou ja, ons almal doen baie dinge wat ons nie veronderstel is om te doen nie. Maak nie saak of ons Moslem of Christen is nie.

Ek moet ook net eers kla oor Ramadan. Mens mag nie kougom kou of water drink of eet en natuurlik dat ook nie tee en koffie nie, van die son opkom in die oggend tot die son sak in die aand. Dit geld natuurlik nie vir as ek terug is by die huis nie. Dan maak ek soos ek wil. Ons kombuis by die kantor se deur is toe, maar nie gesluit nie en ek voel soos 'n koshuiskind wat kondensmelk steel as ek daar insluip en saggies die ketel kook vir 'n koppie tee, so ek hou maar uit. En weet julle dat mens kan tronk toe gaan as hulle jou vang een van die reëls breek in die publiek? Al die lekker koffiedrink as mens gaan inkopies doen of 'n koeldrank in die kar drink van die winkel af oppad huis toe, is uit!! Tot Ramadan verby is. En dit hou nog aan tot middel Oktober... ai tog.
Moet julle so bietjie van die interessante van Iftar vertel. Ek sit by die Dolfyn fontein op die Cornish en

wag vir die kinders van die kindergroep vir ons eerste byeenkoms van die jaar.

Dis doodstil in die park, want die mense is besig om te bid by die huis. Terwyl ek wag hou daar 'n motor stil en ek waai, want ek dog dis van ons kinders, maar toe klim so jong Morokaanse meisie uit en kom bied my so soet eetdingetjie aan. Ons is altwee taai van die stroop en sy skeur die helfte van my nat jammerlappie af om haar hande af te vee. Ons kommunikeer met uhm? en Oh!... want ons verstaan mekaar nie, maar sy het in die gees van Ramadan uitgereik na my. Seker gewonder wat doen die arme vrou so alleen op haar matjie in die park.

Maar ons het ook 'n deftige hotel Iftar gehou by die Hilton saam met die vrouens van die omgeegroep. Ons was te veel vir 'n jong Arabiese egpaar met 'n baba. Hulle het die kelner gevra of hulle maar by 'n ander tafel kan gaan sit.. Ja, ek verstaan, want ons spul vrouens kan kekkel en Emily het ook ewe vriendelik op haar toonties gaan staan om na die baba in die stootwaentjie te loer. Die mense mag hulle nie besmet deur kontak te maak met ons Westerlinge nie. En ek HET myself mooi aangetrek vir die okkasie... en my hande gewas.

Ons het heerlik geeët en gekuier. As dit Iftar is, is Ramadan nie so sleg nie.

Ek wonder net oor die waarde van die vas as mens met tronkstraf gedreig word as mens die reëls sou oortree. Wat sou mens nou aan wie bewys?