Showing posts with label uae. Show all posts
Showing posts with label uae. Show all posts

Thursday, September 27, 2007

Iftar

Iftar, soos julle seker weet, is die tyd van die dag tydens Ramadan wanneer die mense die vas breek en vreeslik aan die eet gaan. Dis nie veronderstel om so te wees nie... die groot eet bedoel ek, maar nou ja, ons almal doen baie dinge wat ons nie veronderstel is om te doen nie. Maak nie saak of ons Moslem of Christen is nie.

Ek moet ook net eers kla oor Ramadan. Mens mag nie kougom kou of water drink of eet en natuurlik dat ook nie tee en koffie nie, van die son opkom in die oggend tot die son sak in die aand. Dit geld natuurlik nie vir as ek terug is by die huis nie. Dan maak ek soos ek wil. Ons kombuis by die kantor se deur is toe, maar nie gesluit nie en ek voel soos 'n koshuiskind wat kondensmelk steel as ek daar insluip en saggies die ketel kook vir 'n koppie tee, so ek hou maar uit. En weet julle dat mens kan tronk toe gaan as hulle jou vang een van die reëls breek in die publiek? Al die lekker koffiedrink as mens gaan inkopies doen of 'n koeldrank in die kar drink van die winkel af oppad huis toe, is uit!! Tot Ramadan verby is. En dit hou nog aan tot middel Oktober... ai tog.
Moet julle so bietjie van die interessante van Iftar vertel. Ek sit by die Dolfyn fontein op die Cornish en

wag vir die kinders van die kindergroep vir ons eerste byeenkoms van die jaar.

Dis doodstil in die park, want die mense is besig om te bid by die huis. Terwyl ek wag hou daar 'n motor stil en ek waai, want ek dog dis van ons kinders, maar toe klim so jong Morokaanse meisie uit en kom bied my so soet eetdingetjie aan. Ons is altwee taai van die stroop en sy skeur die helfte van my nat jammerlappie af om haar hande af te vee. Ons kommunikeer met uhm? en Oh!... want ons verstaan mekaar nie, maar sy het in die gees van Ramadan uitgereik na my. Seker gewonder wat doen die arme vrou so alleen op haar matjie in die park.

Maar ons het ook 'n deftige hotel Iftar gehou by die Hilton saam met die vrouens van die omgeegroep. Ons was te veel vir 'n jong Arabiese egpaar met 'n baba. Hulle het die kelner gevra of hulle maar by 'n ander tafel kan gaan sit.. Ja, ek verstaan, want ons spul vrouens kan kekkel en Emily het ook ewe vriendelik op haar toonties gaan staan om na die baba in die stootwaentjie te loer. Die mense mag hulle nie besmet deur kontak te maak met ons Westerlinge nie. En ek HET myself mooi aangetrek vir die okkasie... en my hande gewas.

Ons het heerlik geeët en gekuier. As dit Iftar is, is Ramadan nie so sleg nie.

Ek wonder net oor die waarde van die vas as mens met tronkstraf gedreig word as mens die reëls sou oortree. Wat sou mens nou aan wie bewys?

Saturday, September 22, 2007

Geen verskonings

Ek het al soveel keer foto's gewys van die wonderlike mooi tuine en plante en malls en dinge wat mens heeltemal kan laat vergeet dat jy eintlik in die woestyn is.... tot mens uitstap buite toe... maar die punt wat ek wil maak is dat hierdie land het my geleer dat niks 'n goed genoeg verskoning is om nie die mens te word wat Vader ons geskape het om te wees nie. Daar is soveel bewyse van hoe mense die ontmoontlike oorkom in hierdie land. Ek deel so paar met julle.

Mens sou dink dat dit 'n goed genoeg verskoning is om nie pogings aan te wend om tuin te maak waar daar net rotse en klip is nie, en meer nog, waar die temperature maklik bo 50grade C klim in die somer ... maar nie in Al Ain op Jebel Hafeet nie. Die ou Sheikh het net eendag gesê hy wil gras hê en die mense moes plan sien. Die eerste foto is hoe die berg lyk

en die tweede foto is van 'n deel waar hulle begin het om gras te plant.
Vicky en Greg hoe gaan dit met julle grasplantery?


Mense sou ook as geldige verskoning kon gebruik dat dit VREESLIK warm is en daar geen parkering by die Moskee is nie en dit heeltemal onmoontlik is om te gaan bid, maar in die land is daardie verskoning onder die mat ingevee. Mens val behoorlik oor die Moskees. Ek wens ek kan vir julle uitvind hoeveel Moskees daar in die UAE is en ek dink ons ore sal toeslaan. Net in die blok waar ek bly is daar vier waarvan ek weet, want nou die dag toe ons in een van die klein straatjies ry opsoek na Ramadan tente vir foto's, het ons klein Moskeetjies agter mure sien wegkruip. Bid sal hierdie mense bid!!! Geen verskonings.
Die moskee voor die gebou waar ek werk
in die oase in Al Ain

op dieselfde pad tussen Fudjeirah is daar 'n kleintjie en 'n grote

die kleinste oudste enetjie in Fudjeirah
Die een in Dibba

As jy drome het, kan dit waar word, mits dit ook Vader se plan vir jou lewe is. Niks is onmootlik nie... glo my. Ek sien dit elke dag in die land om my. Dis genoeg om mens jou verskonings te laat sluk. Of hoe?

Lief julle

Friday, August 31, 2007

Moenie te gou oordeel nie

As mens so deur Fujeirah ry, dan lyk dit partykeer of die tyd stilgestaan het. Sandra se navorsingbron sê hulle noem Fujeirah die ghetto, maar ek wonder of die mense nie net baie goed weet wat hulle waardes is nie. Hulle is slim genoeg om te weet wat die gekultifeerde Westerlinge wil hê en nie so stupid om te dink al die blink goed is belangrik nie.


Mens ry so langs die see af met sy mooi palms en wye strande en dink... hoe kan hierdie ouens nie bietjie mooi maak en gras plant nie.... en dan net so bietjie verder bewys hulle hulle kan.
Mens sien hierdie Public cafe langs die pad en dink dat hulle nogal nie op toeriste ingestel is nie, maar net verder om die sirkel is mooie Hotel met al sy moderne restaurante. Die ding wat my met my voet in die mond gevang het, was hierdie dooie stinkende vissies wat op die teerpad lê en verrot. Ek het baie vies gevoel vir die vissermanne wat dan die vissies sou droog en later bymekaar vee... wat van al die stukkies teer en klippies en stuff tussenin.... brrrr.... en verkoop om geeët te word ... of self te eet.... juk!!! Maar Sandra lees op oor die goed... en ek hoop almal lees haar webblad, want sy het wonderlike feite oor al die plekke.... die bron sê die vissies word gedroog vir kunsmis!!!! Ag, groot ekskuus vir die vissermanne en alles wat ek gedink en voor gegril het.
Plek plek lyk dit of die mense glad nie weet van tuinmaak nie, maar dan kom mens by die hotel daar by Snoopy eiland en kyk net die tuine. Hierdie mooi blou gebou is die Meridien en reg langs hom, die Rotana Health and Spa.
Ek dink die mense wat hier in Fujeirah aan die voet van die barre berge en kaal strande grootgeword het, het die plek lief soos elkeen van ons ons eie plek liefhet.
By hierdie kafeetjie langs die pad lê daar waarskynlik baie herinneringe waaraan hulle meer waarde heg as aan die wondelike mooi hotelle en aangeplante tuine en hulle gee nie om wat ander daarvan dink nie.

Ek besef net mens moet maar nie oordeel voor jy die waarheid ken nie en ek voel jammer vir die mense wat baie hard probeer om iewers tussen al die ontwikkeling aan dit wat eie aan hulle is, vas te hou.













Murasies en restourasies.

Ek kry altyd so gevoel van heimwee as ek na murasies kyk. Hierdie is die murasies om die Fujeirah fort.
Dis 'n jammerte dat plekke van belang so verval dat dit 'n murasie word. Hier gebeur dit natuurlik maklik, want die sand en palm stuff waarmee die mense aanvanklik gebou het, is maar baie tydelike "deeghuise" soos Nelmari dit so sewe jaar terug genoem het.

Dis wonderlik dat hulle die waarde van die herbou besef, maar nou sal daar nooit weer iemand in woon nie. Hulle herbou selfs die "deeghuisies" wat om die fort gebou was en ek het die hitte trotseer en 'n paar foto's gaan neem. As ek nou 'n sê gehad het in die saak, sou ek mense daar laat gaan woon het dat dit soos 'n replika van die ou lewe is. Ja, ek sou lugreëling in die huisies sit. :-)Ek hou van die boustyl. 'n Deur wat op die "straat" oopmaak en dan 'n groot binnehof en al die vertekke wat in die binnehof uitloop. So ooplan leeflwyse van gemeensaamheid en kuier om die vure onder die sterrehemel...

Die Fujeirah Fort... baie mooi herbou, want mens kan nie van restoureer praat nie. Daar was niks van hom oor nie. Die fort was die woonplek van die heerser van Fujeirah.


Baie keer is ons verhoudings en kontak met mense ook so. Verhoudings word murasies waarna die nageslag gaan kyk en die oorblyfsels sien wat iets wat eens op 'n tyd wonderlik was, of veronderstel was om te wees... en dan vervalle raak. Selfs al "herbou" mens dit dan later bly dit net 'n hartseer herhinnering van wat was en nooit weer sal wees nie.

Anders as die fort, is die klein moskee wat herbou is, die kleinste in die UAE is en ook die oudste is, in volle gebruik. Ek het die bord wat die storie van die moskee vertel afgeneem en hoop julle ouens kan die foto oopmaak en lees. Ander sal ek 'n volgende keer vertel wat daarop staan.

Dis die eerste keer wat ek 'n Abaja aangehad het. Ons moes ons skoene voor die eerste ingang los, dan vinnig oor die WARM binnehof hol om in die moskeetjie in te gaan.
Verhoudings behoort so te wees... families wat saamstaan en mekaar geliefd in gebruik hou. Ons behoort trots te kan voortbou op stewige fondasies wat deur die voorgeslagte gelê is. Ek hoop die fondasies wat ek lê, sal die toets van die tyd weerstaan.


Lief julle almal

Sunday, August 26, 2007

Snorkel en wonderlike dinge

Ons klim uit die kar daar waar die sand begin en dis vrekwarm. Ek is so half spyt ek het nie die Kia om soos die ander vier by vier's tot teen die water te ry nie nie en toe onthou ek ek het in elk geval vasgesit met die Kia ook... so... dapper en stapper deur die sand met die nuwe seeskoene aan. Die liedjie van die sonbrilletjies en sonbrandolie en allerhande snaakse goedjies .... om mee te snorkel, draai in my kop. Ek het my snorkel en die bril en 'n "kick board" vir outjies van drie... en my kamera. Ek sit die snorkel in my mond en wonder hoe hou ek dit nou bo die water, toe sien ek Amelia sin sit aan die bril.. en toe verstaan ek waarvoor die rubber lissies is.
Ek kyk die see so en loop die kniehoogte branders in... hoe erg kan dit nou wees... en word van my voete afgeslaan. Ek stoei regop en word weer omgeslaan, skuur my knie nerfaf teen die rotse op die bodem, spartel regop en word weer omgeslaan. My oë brand soos vuur en ek dog... laat ek die bril opsit. Dit voel of iemand 'n pistool teen my kop druk waar die snorkel vassit. Ek verstel dit en probeer weer... daar is water in die bril... stel weer stywer. Sandra is al 'n end weg, maar ek kom nie deur die bababranders nie... my hene en kyk hoe ver lê Snoopy Eiland!!
Uiteindelik kry ek my lê op die "kick board" en begin skop.... die eiland kom nader maar dit voel of ek in die middel van die see is, ver van land van alle kante. Ek sien nie vir Amelia en Sandra nie.
Ek sit die bril op om uit te toets, maar dit stoom toe... ek het gehoor ek moet dit met seewater uitspoel en maak so.... byt die snorkel tussen my tande vas en sit my gesig in die water... ek stik my snorkel vol water toe ek sien ek is bo op die koraalrif met die mees ongelooflike tonele .... en afgronde....onder my. Ek blaas die water uit die snorkel en sukkel met die kamera, mik so in die algemene rigting van die vissies terwyl ek my balans op die rubber dingetjie probeer hou, die snorkel tussen my tande vasbyt EN my mond toehou.
Die tonele onder my is onbeskryflik. Meeste van die tyd skarrel die visse weg vir die klik van die kamera en natuurlik my gespartel... maar wow....wow..... wow....!!! Ek soek vir Sandra en Amelia en skree vir hulle daar is visse en hulle knik net hulle koppe... klaar gesien.
Sandra skree terug 'n ou sê daar is 'n seeslang as ek 'n foto wil neem. Ek skree "nee wat... baie dankie" terug en dink hoe goed dit is dat ek die seeskoene aan het en wonder of die geel rubber "kick board" my gewig sal dra. Net vir ingeval mens vinnig uit die pad moet kom...
Ek kan nie sê ek kan snorkel nie maar ek is so baie bly ek het nie opgegee en hierdie ongelooflike belewenis gemis nie. Ons het Snoopy eiland bereik. Hier stap Amelia ewe doelgerig om aan Snoopy te raak.


Ek staan daar op die eiland... mens kan nie sit nie, die rotse is SKERP... en ek dink hoe groot is ons God. As mens so bo op die branders dryf, het jy geen idee van die wonder wêreld reg onder nie. Hy ontsien nie die geringste detail nie. So baie keer wil mens handdoek ingooi oor die moeilikhede in die lewe wat mens van jou voete afslaan, die hartseer en pyn , maar ons Vader weet wat Hy vir ons beplan... Ons het geen idee van die heerlikhede wat vir ons wag as ons hierdie pad loop soos Hy van ons vra nie.


Die uur wat ons aanvanklik beplan het om in die water te spandeer... word amper twee ure. Ons wil terug hotel toe en gaan stort en aantrek en by 'n deftige hotel gaan aandete eet, maar oppad terug besluit ons die Hilton, waar ons tuis is, is heeltemal goed genoeg vir aandete. Ons is behoorlik vodde.. en Sandra sê... " wat van "room service" julle ouens?

Waardeer hierdie foto's ouens. Dit het nie maklik gekom nie.

Lief vir julle almal