Die een ding van reis is dat mens regtig net 'n reisiger is. Diep in my wil ek deel voel van alles en so bietjie vertoef. Maar mens kyk uit oor dakke tot ver oor die horison na die sagte lyn van berge met geen idee van die lief en leed van die mense wat in hierdie pragtige oeroue dorpie bly nie.

Die stad op die berg... meeste van die dorpe/stede in Frankryk is op'n berg gebou. Selfs vandag is die paaie tot daar maar baie smal en kronkel gevaarlik tussen digte bome en om skerp draaie deur. Dit maak dit moeilik om daar te kom....so dis veilig, want as jy eers moet daar baie goeie rede wees om weer weg te gaan... en dan kan mens nie anders as om wortel te skiet nie. Watter gedagtes maak die toneel in jou los?

Die uitsig oor die vallei vanaf die stad bo-op die berg...is dit nie ongelooflik mooi nie? In my gedagtes het ek 'n teetafeltjie nader getrek om lank te vertoef tot die vrede diep in my siel gaan le

'n Pragtige bondel vrolike kleur op 'n sypaadjie wat deel uitmaak van die oomblikke van waarheid oor mense wat omgee vir hulle omgewing. My skoolhoof het altyd gese dat mens mooi word van binne as dit mooi is rondom jou. prentjieboek mooi...

Ons was so gelukkig om nog die lavender of dan die blougoud van Provence op die lande te kry. Die natuur vou mens toe op hierdie plek met die warm sagte son op jou vel, amazing mengsels van blou, pers, groen , 'n spatsel wit en die wonderlike geur van lavender. Ja, mens kan hier bly...dis verseker.

'n Rusplek onder 'n boom waar mens kan piekniek hou en wawiele maak op die gras, maar ons is reisigers en die foto is net 'n vlietende oomblik skoonheid wat mens in jou gees probeer vashou.

Reenwolke en ongelooflike berge wat absolute ontsag inboesem. Ek het baie seker geweet dat dit heeltemal goed is om vanuit die warmte en veiligheid van die mooi Duitse houthuis waar ons gebly het se stoep te staan en net te kyk.....Hoe groot is ons God wat alles gemaak het en in Sy hand hou!! Partenkirchen is natuurlik die tuiste van 'n vorige Olimpiese winterspele en ek haal my hoed af vir die brawes wat die sneeu en hoogtes trotseer en teen daardie hange afski... nie vir my nie

Maar ai, gee my 'n bank met my naam op in die park en selfs 'n snoeisker en ek sal heeldag, elke somer... ure hier deurbring en al die dooie takkies in die blombeddings uitsny. Dis mos nou 'n plek waar mens jou siel kan skoonmaak van stuff wat maar moet uit.... of hoe?

Klipmure hou so bekoring in vir my. Dis mos vestings wat vir altyd kan bly staan... die muur dateer uit die 13 de eeu... en as mens jou hand so oor die klipmuur laat gly verdwyn die eeue en vir 'n paar sekondes vloei die verlede en die hede ineen.

Soos 'n grepie uit 'n ou verhaal nie waar nie? Dit is die prefekte plek om vir 'n kleinkind die storie van Raponsie te vertel nie. Ek weet....dis 'n kerktoring :-) maar maak mossie sakie .

Ek dreig nou al 'n maand lank om bietjie te blog oor my belewenis van Europa. Ek het geen idee waar om te begin vertel van al my ervaringe nie .... en van al die meer as duisend fotos wat ek kon plaas, het hierdie paartjies handjie opgesteek...almal van hulle verklap die waarheid van die behoefte aan tot stilstand kom. Ek het letterlik in 'n stroom van werk beland toe ek terugkom, en ek ly eintlik nog steeds so bietjie aan emosionel oorlading na die toer.. ek het die beste van voornemens om 'n paar blogs te doen en van die fotos te deel...vir eendag se onthou ...regtig
Lief julle almal en ek mis die blogkuiers