Showing posts with label dhows. Show all posts
Showing posts with label dhows. Show all posts

Friday, July 27, 2007

Hawens en m.... groot potte

Goeie dag

Ek het reeds vir julle vertel dat Saterdag 'n vreeslike warm dag was en daarom het ons maar liewer sommer so deur die motor venster vir Amelia die hawe se winkeltjies gewys.
Mens kan vir 'n Voortrekkerkamp se kinders koskook in hierdie potte, of hoe? Ek kan bestellings neem vir die potte maar dan moet julle dit self kom haal en reël dat dit op die vliegtuig se dakrak vasgemaak word asseblief.


Ander "deur die motorruit" stoppe was die hawe waar al die bote vasmeer wat van oral af kom, maar veral van Iran. Dis die ware wat hulle saambring wat by die winkeltjies verkoop word. Hier ruik dit nie soveel na vis nie, nee wag, korreksie... ons het nie die ruite oopgehad of uitgeklim nie, so ek kan nie sê hoe dit ruik nie en te oordeel aan hoe oorbevolk dit is, dink ek nie ek wil nie.

Abu Dhabi het die grootste vlag in die UAE en die vlag het pragtig geposseer vir Sandra se foto. Die gebou op die foto is die stad se "stadskouburg" Ek hoor dis veral Arabiese opvoerings wat daar "op die planke" kom.

Oppad na die Cultural foundation, waarvan ek in die volgende "post" sal vertel, het ons vir Amelia laat uitklim vir 'n foto by die wit paleis se deur. Hierdie was die eerste paleis in Abu Dhabi en op die oomblik staan dit leeg. Ek kan soveel potensiaal sien. Mens kan kamp daar... so baie plek en kamers en alles... Ek het nie fotos' daarvan nie, maar belowe as dit koeler is, sal ons spesiaal gaan foto's neem. Dit het my nogal laat dink aan die kamp wat ons veldkornetskap eenkeer by die Fort in Pretoria gehou het. Daardie naweek was seker een van die natstes in Pretoria. Toe ek die oggend wakker word, sien ek hoe die water van buite deur die deur stoot en opstoot na my slaapsak toe. Ek het net betyd opgestaan. Hier sal mens nie natreën nie... ek wens..



Ek praat gou weer met julle. Ek het nog so bietjei om vir julle te wys. Ek sien nou ons het einlik nogal 'n besige dag gehad.


Groetnis

Sunday, July 22, 2007

Van visplekke, paleise, Dhows en hotelle

Hallo almal,


As daar nuwe Suid Afrikaners die land inkom, is dit altyd baie lekker om hulle te laat tuis voel en net te wys waar mens wat doen en koop en eet. So moes ek byvoorbeeld leer wat suurroom in Frans is en moenie nou vra dat ek dit skryf nie, maar ek kan sê ek herken dit op die rak... totdat ek nou die dag gesien het daar is 'n etiket op die deksel geplak wat in Engels verduidelik dat dit room is met accid van soorte... maar teug na my storie, ons het Saterdag 'n heerlike dag gehad van rondry in Abu Dhabi. Ek sal so oor die volgende paar dae bietjies bietjies vertel sodat al die nuus nie op een slag op is nie.

Ons eerste stop was langs die see waar daar vissersbote vasmeer. Dis nie die hawe nie, maar hulle vang defnitief vis en dit stink!!! Dis ook waar ek eendag 'n foto van Elriza wou neem en toe loop ek agteruit teen 'n walletjie vas en slaat neer.

Teen die agtergrond van die "visplek" kan mens die Diwan van die Kroonprins sien en soos Sandra sê, dit lyk of die nuwe kroonprins 'n nuwe vleuel op elke hoek van die alreeds masiewe paleis aanbou. Ek weet regtig nie wie en hoeveel daar bly en waarvoor al die spasie gebruik word nie.


Net so om die hoek van daar af, is die plek waar hulle die Dhows bou. Ek stuur vir julle 'n foto van die "werf"... dis mos wat mens die plek noem nie waar nie? Ek het gehoor dat die Dow resies van vroeër tyd in die Arabiese geskiedenis kom toe die pêrelbote resies gejaag het om eerste terug te wees op die kaai of die hawe of die strand om die beste prys te kry vir hulle pêrels. Die tradisie het weer opgevlam en hoewel hulle nou nie meer pêrels aan boort het nie, is daar 'n jaarlikse Dhow resies met 'n miljoen Dirham prysgeld op die spel.
Oral in Abu Dhabi word nou nuwe hotelle gebou en later sal ek julle ook foto's wys van die sewester Emirates palace hotel, maar te midde van al die wonderlike luukshede is daar hierdie "hotel" langs die skeepswerf... ja, ek weet julle kyk en vra ... waar?? Ek weet ook nie, maar soos julle sien ek defnitief die bordjie.