Showing posts with label toergids. Show all posts
Showing posts with label toergids. Show all posts

Friday, August 31, 2007

Moenie te gou oordeel nie

As mens so deur Fujeirah ry, dan lyk dit partykeer of die tyd stilgestaan het. Sandra se navorsingbron sê hulle noem Fujeirah die ghetto, maar ek wonder of die mense nie net baie goed weet wat hulle waardes is nie. Hulle is slim genoeg om te weet wat die gekultifeerde Westerlinge wil hê en nie so stupid om te dink al die blink goed is belangrik nie.


Mens ry so langs die see af met sy mooi palms en wye strande en dink... hoe kan hierdie ouens nie bietjie mooi maak en gras plant nie.... en dan net so bietjie verder bewys hulle hulle kan.
Mens sien hierdie Public cafe langs die pad en dink dat hulle nogal nie op toeriste ingestel is nie, maar net verder om die sirkel is mooie Hotel met al sy moderne restaurante. Die ding wat my met my voet in die mond gevang het, was hierdie dooie stinkende vissies wat op die teerpad lê en verrot. Ek het baie vies gevoel vir die vissermanne wat dan die vissies sou droog en later bymekaar vee... wat van al die stukkies teer en klippies en stuff tussenin.... brrrr.... en verkoop om geeët te word ... of self te eet.... juk!!! Maar Sandra lees op oor die goed... en ek hoop almal lees haar webblad, want sy het wonderlike feite oor al die plekke.... die bron sê die vissies word gedroog vir kunsmis!!!! Ag, groot ekskuus vir die vissermanne en alles wat ek gedink en voor gegril het.
Plek plek lyk dit of die mense glad nie weet van tuinmaak nie, maar dan kom mens by die hotel daar by Snoopy eiland en kyk net die tuine. Hierdie mooi blou gebou is die Meridien en reg langs hom, die Rotana Health and Spa.
Ek dink die mense wat hier in Fujeirah aan die voet van die barre berge en kaal strande grootgeword het, het die plek lief soos elkeen van ons ons eie plek liefhet.
By hierdie kafeetjie langs die pad lê daar waarskynlik baie herinneringe waaraan hulle meer waarde heg as aan die wondelike mooi hotelle en aangeplante tuine en hulle gee nie om wat ander daarvan dink nie.

Ek besef net mens moet maar nie oordeel voor jy die waarheid ken nie en ek voel jammer vir die mense wat baie hard probeer om iewers tussen al die ontwikkeling aan dit wat eie aan hulle is, vas te hou.













Murasies en restourasies.

Ek kry altyd so gevoel van heimwee as ek na murasies kyk. Hierdie is die murasies om die Fujeirah fort.
Dis 'n jammerte dat plekke van belang so verval dat dit 'n murasie word. Hier gebeur dit natuurlik maklik, want die sand en palm stuff waarmee die mense aanvanklik gebou het, is maar baie tydelike "deeghuise" soos Nelmari dit so sewe jaar terug genoem het.

Dis wonderlik dat hulle die waarde van die herbou besef, maar nou sal daar nooit weer iemand in woon nie. Hulle herbou selfs die "deeghuisies" wat om die fort gebou was en ek het die hitte trotseer en 'n paar foto's gaan neem. As ek nou 'n sê gehad het in die saak, sou ek mense daar laat gaan woon het dat dit soos 'n replika van die ou lewe is. Ja, ek sou lugreëling in die huisies sit. :-)Ek hou van die boustyl. 'n Deur wat op die "straat" oopmaak en dan 'n groot binnehof en al die vertekke wat in die binnehof uitloop. So ooplan leeflwyse van gemeensaamheid en kuier om die vure onder die sterrehemel...

Die Fujeirah Fort... baie mooi herbou, want mens kan nie van restoureer praat nie. Daar was niks van hom oor nie. Die fort was die woonplek van die heerser van Fujeirah.


Baie keer is ons verhoudings en kontak met mense ook so. Verhoudings word murasies waarna die nageslag gaan kyk en die oorblyfsels sien wat iets wat eens op 'n tyd wonderlik was, of veronderstel was om te wees... en dan vervalle raak. Selfs al "herbou" mens dit dan later bly dit net 'n hartseer herhinnering van wat was en nooit weer sal wees nie.

Anders as die fort, is die klein moskee wat herbou is, die kleinste in die UAE is en ook die oudste is, in volle gebruik. Ek het die bord wat die storie van die moskee vertel afgeneem en hoop julle ouens kan die foto oopmaak en lees. Ander sal ek 'n volgende keer vertel wat daarop staan.

Dis die eerste keer wat ek 'n Abaja aangehad het. Ons moes ons skoene voor die eerste ingang los, dan vinnig oor die WARM binnehof hol om in die moskeetjie in te gaan.
Verhoudings behoort so te wees... families wat saamstaan en mekaar geliefd in gebruik hou. Ons behoort trots te kan voortbou op stewige fondasies wat deur die voorgeslagte gelê is. Ek hoop die fondasies wat ek lê, sal die toets van die tyd weerstaan.


Lief julle almal

Sunday, August 26, 2007

Snorkel en wonderlike dinge

Ons klim uit die kar daar waar die sand begin en dis vrekwarm. Ek is so half spyt ek het nie die Kia om soos die ander vier by vier's tot teen die water te ry nie nie en toe onthou ek ek het in elk geval vasgesit met die Kia ook... so... dapper en stapper deur die sand met die nuwe seeskoene aan. Die liedjie van die sonbrilletjies en sonbrandolie en allerhande snaakse goedjies .... om mee te snorkel, draai in my kop. Ek het my snorkel en die bril en 'n "kick board" vir outjies van drie... en my kamera. Ek sit die snorkel in my mond en wonder hoe hou ek dit nou bo die water, toe sien ek Amelia sin sit aan die bril.. en toe verstaan ek waarvoor die rubber lissies is.
Ek kyk die see so en loop die kniehoogte branders in... hoe erg kan dit nou wees... en word van my voete afgeslaan. Ek stoei regop en word weer omgeslaan, skuur my knie nerfaf teen die rotse op die bodem, spartel regop en word weer omgeslaan. My oë brand soos vuur en ek dog... laat ek die bril opsit. Dit voel of iemand 'n pistool teen my kop druk waar die snorkel vassit. Ek verstel dit en probeer weer... daar is water in die bril... stel weer stywer. Sandra is al 'n end weg, maar ek kom nie deur die bababranders nie... my hene en kyk hoe ver lê Snoopy Eiland!!
Uiteindelik kry ek my lê op die "kick board" en begin skop.... die eiland kom nader maar dit voel of ek in die middel van die see is, ver van land van alle kante. Ek sien nie vir Amelia en Sandra nie.
Ek sit die bril op om uit te toets, maar dit stoom toe... ek het gehoor ek moet dit met seewater uitspoel en maak so.... byt die snorkel tussen my tande vas en sit my gesig in die water... ek stik my snorkel vol water toe ek sien ek is bo op die koraalrif met die mees ongelooflike tonele .... en afgronde....onder my. Ek blaas die water uit die snorkel en sukkel met die kamera, mik so in die algemene rigting van die vissies terwyl ek my balans op die rubber dingetjie probeer hou, die snorkel tussen my tande vasbyt EN my mond toehou.
Die tonele onder my is onbeskryflik. Meeste van die tyd skarrel die visse weg vir die klik van die kamera en natuurlik my gespartel... maar wow....wow..... wow....!!! Ek soek vir Sandra en Amelia en skree vir hulle daar is visse en hulle knik net hulle koppe... klaar gesien.
Sandra skree terug 'n ou sê daar is 'n seeslang as ek 'n foto wil neem. Ek skree "nee wat... baie dankie" terug en dink hoe goed dit is dat ek die seeskoene aan het en wonder of die geel rubber "kick board" my gewig sal dra. Net vir ingeval mens vinnig uit die pad moet kom...
Ek kan nie sê ek kan snorkel nie maar ek is so baie bly ek het nie opgegee en hierdie ongelooflike belewenis gemis nie. Ons het Snoopy eiland bereik. Hier stap Amelia ewe doelgerig om aan Snoopy te raak.


Ek staan daar op die eiland... mens kan nie sit nie, die rotse is SKERP... en ek dink hoe groot is ons God. As mens so bo op die branders dryf, het jy geen idee van die wonder wêreld reg onder nie. Hy ontsien nie die geringste detail nie. So baie keer wil mens handdoek ingooi oor die moeilikhede in die lewe wat mens van jou voete afslaan, die hartseer en pyn , maar ons Vader weet wat Hy vir ons beplan... Ons het geen idee van die heerlikhede wat vir ons wag as ons hierdie pad loop soos Hy van ons vra nie.


Die uur wat ons aanvanklik beplan het om in die water te spandeer... word amper twee ure. Ons wil terug hotel toe en gaan stort en aantrek en by 'n deftige hotel gaan aandete eet, maar oppad terug besluit ons die Hilton, waar ons tuis is, is heeltemal goed genoeg vir aandete. Ons is behoorlik vodde.. en Sandra sê... " wat van "room service" julle ouens?

Waardeer hierdie foto's ouens. Dit het nie maklik gekom nie.

Lief vir julle almal








Sunday, July 29, 2007

Hout kamele en kultuurgoed

Hallo almal,


Mens ry sommer so van die wit paleis af deur na die Cultural Foundation. Dis nogals vir my 'n indrukwekkende plek.
Sien die foto van die stoepe. Hier is twee groot biblioteke, maar met jaargeld van Dhs 400... R850. Kan julle julle voorstel dat ons soveel sal betaal om lid van 'n biblioteek te word?

Hulle bied allerhande klasse en vertonings aan en daar is 'n pragtige uitstal ruimte waar Suid Afrika ookal 'n uitstalling gehad het. Die foto's is tydens 'n vorige besoek geneem.


Daar was klomp van hierdie pragtig geverfde kamele toe Elriza , James en Corli Desember hier was. Ver op die agtergrond kan julle "siderman" sien. Ekskuus ek het nie nader gegaan vir die foto nie, maar het ek julle al vertel dat dit VREESLIK warm was Saterdag?

Binne is dit heerlik koel en deur die week is daar by hierdie Arabiese tent koffie en dadels. Nie Nescafe nie, Arabiese koffie. As mens nie verwag dit moet soos koffie smaak nie is die skok van die smaak daarvan nie so groot nie.
Daar is die oulikse kafeetjie vol plante en bont meubels en hulle speel die mooiste klasiek musiek terwyl mens vrugtesap of tee drink of eet teen 'n fraksie van die prys wat ons by Emirates Paleis betaal het.

Net so om die draai van die kafeetjie is 'n groot sitkamer met 'n hele klomp sitplek en soms speel iemand klavier daar. Dit het ek nog nie beleef nie en ek vermoed dis ook iets wat in die week gebeur. Daar is ook 'n groot ouditorium waar hulle musiek utvoerings hou en eenkeer 'n week kan mens van die nuutste flieks daar gaan kyk vir toegansgeld van Dhs5. Meeste van die musiekuitvoerings word deur een van die Sheikh's geborg.

Ouens, die land se vrouens kan nie 'n kleedkamer gebruik nie. Die vloere en alles is altyd sopnat. Ek sal nou nie op die detail ingaan nie, maar mens sukkel soms om neersit plek te kry vir handsakke en stuff. Kyk wat het Amelia met die goed wat sy gekoop het gedoen om haar hande gewas te kry. Annie en Corli, ons praat gereeld van hoe skoon die kleedkamers in Nieu Zeeland was.

Ek moet sê ek dink nie ek besoek die plek genoeg nie. Ek hou van die atmosfeer. Ek vertel julle volgende keer van die ete by Le Meridien ....

Groetnis tot dan









Friday, July 27, 2007

Hawens en m.... groot potte

Goeie dag

Ek het reeds vir julle vertel dat Saterdag 'n vreeslike warm dag was en daarom het ons maar liewer sommer so deur die motor venster vir Amelia die hawe se winkeltjies gewys.
Mens kan vir 'n Voortrekkerkamp se kinders koskook in hierdie potte, of hoe? Ek kan bestellings neem vir die potte maar dan moet julle dit self kom haal en reël dat dit op die vliegtuig se dakrak vasgemaak word asseblief.


Ander "deur die motorruit" stoppe was die hawe waar al die bote vasmeer wat van oral af kom, maar veral van Iran. Dis die ware wat hulle saambring wat by die winkeltjies verkoop word. Hier ruik dit nie soveel na vis nie, nee wag, korreksie... ons het nie die ruite oopgehad of uitgeklim nie, so ek kan nie sê hoe dit ruik nie en te oordeel aan hoe oorbevolk dit is, dink ek nie ek wil nie.

Abu Dhabi het die grootste vlag in die UAE en die vlag het pragtig geposseer vir Sandra se foto. Die gebou op die foto is die stad se "stadskouburg" Ek hoor dis veral Arabiese opvoerings wat daar "op die planke" kom.

Oppad na die Cultural foundation, waarvan ek in die volgende "post" sal vertel, het ons vir Amelia laat uitklim vir 'n foto by die wit paleis se deur. Hierdie was die eerste paleis in Abu Dhabi en op die oomblik staan dit leeg. Ek kan soveel potensiaal sien. Mens kan kamp daar... so baie plek en kamers en alles... Ek het nie fotos' daarvan nie, maar belowe as dit koeler is, sal ons spesiaal gaan foto's neem. Dit het my nogal laat dink aan die kamp wat ons veldkornetskap eenkeer by die Fort in Pretoria gehou het. Daardie naweek was seker een van die natstes in Pretoria. Toe ek die oggend wakker word, sien ek hoe die water van buite deur die deur stoot en opstoot na my slaapsak toe. Ek het net betyd opgestaan. Hier sal mens nie natreën nie... ek wens..



Ek praat gou weer met julle. Ek het nog so bietjei om vir julle te wys. Ek sien nou ons het einlik nogal 'n besige dag gehad.


Groetnis

Wednesday, July 25, 2007

Paleise en goue koek

Hier is ek weer,

Tee by die Palace of the Emirates hotel is iets waarvoor mens so bietjie moet spaar. Ons het elkeen 'n stukkie koek bestel, dis Dhs30 of dan R50 per stukkie.

Tee is Dhs30 per koppie, maar dan moet ek nou bysê dat die tee in 'n silwer teepotjie bedien word en dat mens twee stukkies sjokolade bykry. Nee, mens kry nie die teepotjie om te hou nie. Ter versagting moet ek noem dat die sjokolade met goue...egte 18 karaat, vlokkies gesprinkel word. Ek het nie geweet mens kan goud eet nie... en wat 'n mors. Niemand sien eers as die kosbare vraggie deur mens se binneste die pad buite toe vind nie.

Die paleis is regtig pragtig met groot oop stukke marmer vloere en tapeserië teen die trapreëling. Aan die een kant 'n nagtoneel van die hotel en aan die ander kant 'n dagtoneel.

Ek het vir julle 'n foto geneem van die venster met sy uitsig op die see. Die ruit is pragtig gesandblaas.
Ek het ook 'n foto van die dak geneem en 'n baie verontwaardige kyk van een van die hotelgaste gekry. Ek weet nie hoekom nie, ek het nie op my rug gelê om die foto te neem nie en nie gelag nie en my regtig gedra.

Vir sommige mense is die oordadige goud en bont matte bietjies te veel, maar niks kan gesê word teen die grasperke en fonteine buite die hotel nie en wat 'n ingang....

Amelia het aangebied om die tee te betaal en 'n skok gekry van 'n rekening van Dhs446. Ek dog eers sy maak 'n grap, maar nee... toe nie. Gelukkig vir haar het die kassier 'n hele sjokolade koek opgesit in plaas van die beskeie stukkie waarvan ek die foto insluit. Die koek se prys is Dhs220. Dis so R500. Die koek is kleiner as die standaard groote koeke wat ons in Suid Afrika kry. Ek hoor van skoonmakers en arbeiders in die land wat 'n skrale Dhs400-600 salaris per maand verdien.


Dis nie 'n uitstappie wat mens elke dag onderneem nie, maar so af en toe is dit darem groot bederf.