Goeie dag
Ek het reeds vir julle vertel dat Saterdag 'n vreeslike warm dag was en daarom het ons maar liewer sommer so deur die motor venster vir Amelia die hawe se winkeltjies gewys.
Mens kan vir 'n Voortrekkerkamp se kinders koskook in hierdie potte, of hoe? Ek kan bestellings neem vir die potte maar dan moet julle dit self kom haal en reël dat dit op die vliegtuig se dakrak vasgemaak word asseblief. 
Ander "deur die motorruit" stoppe was die hawe waar al die bote vasmeer wat van oral af kom, maar veral van Iran. Dis die ware wat hulle saambring wat by die winkeltjies verkoop word. Hier ruik dit nie soveel na vis nie, nee wag, korreksie... ons het nie die ruite oopgehad of uitgeklim nie, so ek kan nie sê hoe dit ruik nie en te oordeel aan hoe oorbevolk dit is, dink ek nie ek wil nie.
Abu Dhabi het die grootste vlag in die UAE en die vlag het pragtig geposseer vir Sandra se foto. Die gebou op die foto is die stad se "stadskouburg" Ek hoor dis veral Arabiese opvoerings wat daar "op die planke" kom.
Oppad na die Cultural foundation, waarvan ek in die volgende "post" sal vertel, het ons vir Amelia laat uitklim vir 'n foto by die wit paleis se deur. Hierdie was die eerste paleis in Abu Dhabi en op die oomblik staan dit leeg. Ek kan soveel potensiaal sien. Mens kan kamp daar... so baie plek en kamers en alles... Ek het nie fotos' daarvan nie, maar belowe as dit koeler is, sal ons spesiaal gaan foto's neem. Dit het my nogal laat dink aan die kamp wat ons veldkornetskap eenkeer by die Fort in Pretoria gehou het. Daardie naweek was seker een van die natstes in Pretoria. Toe ek die oggend wakker word, sien ek hoe die water van buite deur die deur stoot en opstoot na my slaapsak toe. Ek het net betyd opgestaan. Hier sal mens nie natreën nie... ek wens..
Ek praat gou weer met julle. Ek het nog so bietjei om vir julle te wys. Ek sien nou ons het einlik nogal 'n besige dag gehad.
Groetnis


No comments:
Post a Comment