Showing posts with label hondjies. Show all posts
Showing posts with label hondjies. Show all posts

Friday, July 25, 2008

Hallo en totsiens

Alle dinge kom tot 'n einde weet ons almal en deel daarvan is dat as een ding verby is, is dit die begin van 'n volgende. Die dag toe ek Riza groet aan die einde van haar vakansie, hoor ek ook ek is uiteindelik, na etlike maande se wag, oorgeplaas van die streekkantoor na hoofkantoor se bemarkings afdeling.Ek het mooi totsiens se geskenke ontvang. Met hierdie oorlosie aan sal ek moet gaan opera of ballet kyk of hoe? Ek het ook vouchers persent gekry waarmee ek die stoomyster, wat soos 'n alien lyk, gekoop het. En is ek in my skik.. dis nou 'n luukse wat ek nie uit my eie sak sal koop nie. Die hondjies hol vir hom weg... en so van hulle gepraat, ek moes hulle vier dae lank sonder die besige skepseltjies klaarkom terwyl ek kursus by die akademie in Sjarjah bygewoon het. Terwyl ek daar was, kon ek bietjie saam met Hannes en Angela en Alessia kuier. So terwyl daar niks op my blog aangegaan het nie, was ek besig met allerhande nuwe en lekker dinge. Terug by die huis is Taffee en Didi hulle besige oulike self. Hulle maak planne om die yaskasdiertjies af te haal, want alles in die huis is hulle sin..Dankie Sandra en Nelmari dat julle so mooi na Taffee en Didi gekyk en vir Dee kom kuier en kosgegee het en vir Angela en Riza vir die mooi sms'e so op die eerste dag by die nuwe afdeling. Hoe sal ons sonder mekaar deur al die dinge kom.

Friday, June 20, 2008

En wat van die diere seuns hier in Abu Dhabi?

Ek en die diere seuns het 'n wonderlike tyd saam hier en ons geniet mekaar vreeslik. Dee drink steeds sy koffie uit die kraan. Didi en Taffee speel in die sonnetjie voor die venster. Dee slaap op die kussing en die ander twee by my in die bed. Ek besluit dis tyd om Didi en Taffee te laat reg maak en is skoon hartseer dat hulle die aand voor die tyd so vrolik is en speel ... Didi, het julle mos gelees se Riza, is 'n skaam enetjie. Hier is die twee uitgespeel en elkeen kry 'n slaapplek .. Ek het die twee gister oggend veearts toe geneem met so seer hart en bietjie skuldgevoelens. Hulle gaan nie net gesteriliseer word nie, maar ook tande trek. Altwee het 'n melktand of twee wat nie uitgval het nie en dit moet ook uit en terwyl hulle slaap, gaan die toonnaeltjies ook sommer geknip word. Alles verloop baie goed maar die veearts se as hulle lek moet hulle "lampskerms" kry. Veral Taffee moet net lek en ek keer, maar besef ek sal nie dwarsdeur die nag kan keer nie... so terug veearts toe. Dee verstaan glad nie wat ek met hulle aangevang het nie... Ai ouens.. kan hierdie gesig nie mens se hart breek nie... Ek het toe maar die skerms weer afgehaal dat hulle kan eet... sagte kos vir so paar dae tot die bekkies beter is, maar Taffee begrawe die sagte kos onder sy kombers en seer bek of te nie... eet hy sy pellets. Ag oor twee of drie dae is alles vergete... ek is seker.. ek sal laat weet. Anders pak hulle dalkies hulle tasse en gaan saam met Riza terug huis toe..:--)

Friday, June 6, 2008

Die hondebabas

Daar is darem nou 'n groot familie hondebabas waaroor mens moet vertel. In Suid Afrika word die nuwe vier babas pragtig groot. Ek kan nou oor 'n paar stadiums vir julle vertel... Ek het nie bygehou met die foto's nie, maar liewer nou as nooit...

Hier is die goetertjies se ogies besig om oop te gaan. Hulle het ook naampies. Die oudste is Cowboy, die tweede 'n dogtertjie... en die een se naam is om te bly want Riza gaan haar hou... Bella Coco... is dit nie mooi nie... dan Diablo en dan Chief. Elkeen sy eie persoonlikheid... Riza sms dat hulle begin eet en dat dit iets is om te sien. Hulle klim "boots and all" in die kosbakkies en alles is vol kos, voetjies ook. Dan, so vertel Riza, lek hulle die kos van mekaar se gesiggies af. Ja... ag MOEDER!! Gister vertel Riza my hulle lyk nou soos regte hondjies. Cowboy is glo vreeslik oulik en altyd baie bly om sy ounooi te sien. Dan waai die stert en kry sy nat soentjies oor haar hele gesig. Diablo is soos sy naam sê... baie besig en woelig. Hy hou ook nie baie van foto sessies nie. Die meisie Bella Coco is 'n regte skoonheid, soos 'n meisie behoort te wees... en Chief is 'n vet teddy... so sê Wiehann, en sy tongetjie steek altyd uit... en hy glimlag graag... ja regtig. As Riza so sê dan glo ek haar. Riza sê sy sal hulle graag almal wil hou. Die Cowboy is DJ se favorite en ek sê hou hom maar en DJ sê hulle het klaar drie honde en dis te veel... en ek sê koop 'n groot huis. Maar DJ en Riza is baie trots op die pragtige babahonde en die oulike ouers wat troetel en liefies en skoonmaak en beskerm. Tavid is baie kwaai met enige iemand wat in die babakamer probeer inkom. DJ is trots op Tavid maar sê dit beteken nie hy moet permanent pa wees nie... o, dis hoe dit werk? :-)

Friday, May 2, 2008

So op die laaste dag van April

As dit darem nou nie absoluut puik uitgewerk het nie. Ek het in 'n vorige blog vertel dat Betty vier of vyf kleintjies dra en eergister het ek toe so teen vyfuur (drie uur SA tyd) 'n sms van Riza ontvang dat Betty se water gebreek het.Die eerste klein "cow"- boy... nie my naam nie, dis wat Riza en DJ hom genoem het, is nie te lank daarna nie gebore. Pragtig.. swart en wit. Soos 'n klein koei... sien waar die naam vandaan kom? :-) 'n rukkie later die groot vreugde... 'n swart dogtertjie. Dis Betty se eerste meisietjie. Die vorige werpseltjie was almal seuntjies. Dan weer die bietjie hartseer ... die derde enetjie is dood. "Hy was nie "klaar" nie mam..." is Riza se verduideliking. En Betty gaan haal hom toe Riza hom buite die boks neersit.Sy kan nie anvaar hy is dood nie..ai, siestog...Dan 'n langerige stilte en nog 'n seuntjie, 'n klein raasbek wat dadelik wil eet... Dan weer 'n lang lang breuk, maar net voor ek kon bekommerd raak, is nog 'n seuntjie gebore... baie donkerbruin. Dit het alles baie vinniger gegaan as die vorige keer en hierdie... so verneem ek, is Betty en Tavid se laaste werpseltjie. Nuus oor die pappa is dat hy heeltyd langs die boks gesit het om naby Betty te wees. Ek moes aan die kant vir Taffee en Didi vertel hulle het drie nuwe boeties en 'n sussie gekry. En die nuus aaan die anderkant is dat Riza Betty se enigste dogterjie gaan hou. Dit lyk my die sage van hierdie familietjie is nog lank nie klaar nie. Ons sien uit om gereeld foto's en "updates" te kry van die pragtige vier "kleingoed". Net so terloops.. Taffee en Didi doen uitstekend en die mamma en pappa aan die ander kant, kan al hulle aandag aan die nuwe kleingoed gee. Baie geluk!!!