Friday, July 20, 2007

Vorige nuusbrief

My familie en vriende,

Jinne, 'n hele volle maand is verby sedert ek laas geskryf het en ek weet nie waarheen die tyd is nie. Ek dink dit het in "overdrive" gegaan terwyl Elriza hier was. Dit was maar 'n algemene stil maand op die briewefront van almal. Elma en Nice, dankie vir die altyd gereelde briewe van julle. Is jy nie ook bietjie laat nie Nice? Ek mis die nuus en foto's oor die drie kleingoed. Sus en Hannes dankie ook vir julle mails. En Corli, dit was baie lekker om bietjie van jou te hoor. Ek het darem gesoek vir die foto's van jou op daardie website jong. Ek mis egter om van julle te hoor seunskinders.



Ek het 'n mondvol te vertel oor al die dinge wat ons aangevang het toe Riza hier was. Die warm weer het ons nie afgesit om 'n dag , of liewer, 'n uur of twee by Al Raha deur te bring nie
Die mall is ook nou oop. Ek het belowe om te vertel as dit gebeur sus, maar nog net 5 winkels is oop.Op die oomblik lyk dit na 'n "mamma" mall met die kinderklere en kruideniers en foodcourt. Lg is nog nie oop nie. O ja, daar is flieks ook. So mens kan die kinders fliek toe stuur en gaan kruideniers en klere koop as hulle nie by is om allerhande goeters in die mandjie te laai nie en hulle dan voer by die foodcourt.
Hier is nog 'n nuwe mall Al Wahda (spreek uit al whagta) oop. Daar is ook een van die Galler Belgiese sjokoladeshops Hannes. Die warm weer het ons nie daarvan weerhou om te gaan warm sjokolade drink en eet nie. Dis in elk geval, en veral volgens Riza, altyd winter in die malls. Mens kan seker so sê as dit buite 45 grade en die mall 24 grade is. Mens snak behoorlik na jou asem oor die temperatuurverskille. Dis 'n mall vir die rykes met winkels soos Banana Republic en Tommy Hillfiger... of hoe mens dit ookal spel. Ek kan in elk geval nie hulle klere bekostig nie.


Dit was so lekker om Elriza by my te hê vir haar verjaarsdag en ons het saam nogal 'n pretdag daarvan gemaak. Ons het soos ryk vrouens die dag begin met 'n pedicure en manicure. Daar was 'n tyd wat ek nie eers geweet het wat dit is nie... maar ek moet darem byvoeg dat dit steeds nie iets is wat ek gereeld doen nie. Ons middagete was koek... weliswaar wortel en beetkoek, wat baie soos wortelkoek smaak, net bietjie droeër, maar baie lekker en soet genoeg om koek te wees... soos Elriza sê.

Die aand is ons na Bennihana, waar ons vir my 50 ste verjaarsdag was Wiehann, en dis altyd 'n spesiale ervaring. Die ou het vir Elriza "Happy Birthday "geskryf met die soutpot op die "stoof" .. sien die foto's... Siende dat Riza nou swot om Pastoor te word, het ons haar ingespan om die Kinderkerk byeenkoms te lei. Sy het omtrent 'n vuurdoop gehad met een van die woeligste klomp seuntjies wat ons nog bymekaar gehad het.
Sy het 'n vingerverf aktiwiteit gekies en ons was almal aan die einde van die aand vol verf.
Sy het ook ons vroue omgeegroep se Nagmaal byeenkoms gelei. Ons het na 'n stuk uit Passion of the Christ gekyk en terwyl ons nagmaal bedien het, het Riza 'n pragtige Hillsongs lied gesing. Ons was almal bietjie tranerig, maar wat 'n wonderlike geseënde byeenkoms!!! Dit was kosbaar om daarna mekaar se voete te was voor die ete.
As julle wonder wat die jongmense tydens die uitsonderlike warm somers in hierdie land doen, kan ek julle vertel waarmee Elriza en kie hulleself mee besig gehou het. Behalwe natuurlik vir "shop"...

het hulle gaan ysskaats (sy lyk nie baie stewig op die skaatse nie)

en ten pin bowling


en weliswaar ook bietjie in die see gaan swem. Ek moet julle sê dat die seewater die tyd van die jaar 32 -33- 34 grade is. Dis soos om te bad. Mens kom met sulke rooi wangetjies en tone uit die water. Die mense sê vir my dis beter om voor ses soggens te gaan swem, dan is die water net so 30 grade... nie veel verskil nie sou ek sê. Ek is net oor een ding bly en dit is dat ek nie hier kinders in die skool het wat ek vir die DRIE maande skoolvakansie moet besig hou nie. Een van my kollegas hier sê sy stuur haar seuns op summer camp. Sy kan nog huis hou met die dogters.

Ek het heelwat lesse geleer die maand, maar die een wat my die diepste getref het is dat ons soms meer vertoue het in ons vrese as wat ons geloof het in God se Almag oor elke situasie in ons lewens. Ek het 'n rukkie gekou aan die waarheid, maar dis so waar. Ek kies om te glo. Ek weet alles werk vir ons ten goede mee.

Gedagte vir die maand:

If anyone loves me, he will obey my teaching. My Father will love him, and we will come to him and make our home with him. John 14:23

Lief vir julle almal

































3 comments:

Anonymous said...

Welkom op die blognet! Jou nuusbrief lees lekker maat.

Anonymous said...

hi mam, dis nou regtig oulik, ek laaik mam se blog. Ek het nie eers geweet mens kry so iets nie, vreeslik dankie mam. Ek is lief vir mam en mam is 'n kosbare mam.

Anonymous said...

Hi die blogspot van jou lyk goed. Ek het n nuwe epos adres en gaan voortaan net van die adres af werk. Het nou internet by die huis en voel of ek nou weer deel van die buitewereld is. Hester