Saturday, March 22, 2008

Die storie van wag

Toe Niël Desember hier gekuier het, het hy 'n paar aande so op die mat gesit en teken met pastelle en verf met akriel. Dit het my laat dink aan die matriek portefeulje vir die kunseksamen toe jy ook so op die mat die een ding na die ander sit en teken en opskeur en weer teken het. Die prent van die souk is met pastelle gedoen en het ook amper in die asblik beland...
Nie ek nie, Niël. Die ander prent is Ragab wat by die venster met die rooi tou sit en wag dat Joshua Jerigo moet kom verower en haar wegneem uit haar lewe van sonde en vernedering. Die prente het lank gelê want julle weet mos hoe kan mens soms planne maak om iets te doen en dan nie daarby uitkom nie.
Maar ek het dit laat raam en kyk hoe mooi... toe kom die volgende probleem... waar gaan ek hulle hang. Voor ek by ophang van die prente kon uitkom, moes ek eers 'n ander sakie afhandel. Ek dink al 'n hele ruk aan 'n kas vir al die Kindergroep goeters, want elke Vrydag en Maandagaand voor kindergroep soek ek deur drie verskillende sakke en die laaie in die sitkamer en die boekrak in die eetkamer en die rakkie in die studeerkamer om alles bymekaar te kry. Toe begin ek 'n kas soek... en daar is 'n prentjie in my kop, maar die kas om die prentjie te pas ontwyk my. Eie aan my aard het ek ongeduldig begin voel en allerhande opsies oorweeg en myself daarmee probeer versoen, maar uiteindelik tog die wilde perde van iets dadelik te wil hê onder beheer gekry en gewag. En ek is so bly, want toe ek verlede naweek by die stoor naby Mina mall kom, waar ek baie van my houtmeubels gekoop het, sien ek dadelik die kas raak en die prentjie pas.
Toe moes ek wag dat die kas eergister agfelewer word, maar toe die kas op sy plek staan, kry die prente ook sommer plek. Gedink ek deel dit met julle. Baie dankie Niël, die prente lyk pragtig.

Friday, March 21, 2008

Three years old!!!

Happy birthday Stefan and David. You are three today. Have LOTS of fun and send photo's ok? Love you guys. Big hugs and lots of kisses.

Monday, March 17, 2008

Salself

Ek maak feëtjies bymekaar... vir almal wat dit nog nie weet nie.. en ek het al 'n pragtige klomp van hulle, selfs 'n spesiale rakkie in die kamer dat ons... ek en hulle... vir mekaar kan kyk. Ja ek weet wat julle dink en nee ek dink nie ek is heeltemal siniel nie. :-) Ek lief my feëtjies en hierdie enetjie het my teruggeneem na die oggende toe ek my dogterjie.. ja meis.... aangetrek moes kry vir kleuterskool en sy wil in die eerste plek nie aantrek wat ek sê sy moet aantrek nie en in die tweede plek wil sy nie hê ek moet haar help aantrek nie. "Sal self mamma"... en as ek sê:" daar is nie meer tyd oor vir self nie meis", dan sê sy "mamma moenie haastig wees nie"... en so het ons menige oggend in die kar geklim met klere wat glad nie bymekaar pas nie, of onderstebo of agterstevoor is. Hierdie feëtjie het ek nou Salself gedoop want kyk hoe sit die zip van die rompie voor en een ballet skoentjie het 'n strikkie en die nader 'n knippie... en ai, daardie tevrede selfvoldane glimlag spreek ook boekdele.Eendag as daar 'n kleindogter is wat vir haar mamma sê "ek sal self"... ek hoop my kleinkinders sal darem so bietjie Afrikaans ook kan praat... dan gee ek vir Riza hierdie feëtjie net om haar te herhinner dat sy nie moet haastig wees nie.. :-)

Thursday, March 13, 2008

Die pad Dubai toe

Ek is die week weer vir twee dae by die akademie in Dubai en soos julle weet het dit Januarie toe ek ook by die akademie was, VREESLIK gereën. Ek kon vanoggend my oë nie glo dat daar steeds poele water langs die pad is nie en ek weet julle dink ek suig dit uit my duim, maar dit is REGTIG so :-0 Dit het defnitief nie weer intussen gereën om die poele op te vul nie. By een van die poele was daar selfs voëls. Hulle het seker ook nou besluit die water het gekom om te bly. Februarie se trip Akademie toe het weer ander "opwinding" ingehou. Ek het probeer om die erge trokke pad (Emirates Road) 'n mis te gee en deur Dubai gery... en ai, was dit senutergend. Die afrit waar ek veronderstel was om af te draai is toegemaak weens die konstruksie van die nuwe sneltrein. Ek sien toe genadiglik nog 'n afdraai , maar as mens eers op daardie pad is, verdwyn die bordjies wat sê 'Emirates Road' en ek moes toe maar so agter my neus aan ry agter Hatta Oman bordjies aan... net omdat ek al op die Emirates Road afdraaie na Hatta Oman gesien het. Ek het die heeltyd gewonder of ek weer die pad terug sal kry sou ek dalkies in Hatta of Oman aanland. Met nog twee omdraaie het ek wonder bo wonder wel betyds by die akademie uitgekom en vanoggend besluit... nie weer nie. Ek ry maar die trokke pad. Ek het vanoggend taamlik senuweeagtig agter die stuur ingeklim, want daar was gisteroggend digte mis op die pad en 200.... ja 2 0 0 (TWEE HONDERD) karre het inmekaar ingery. 25 karre het uitgebrand en 8 mense is dood. Ek wonder wat kos 'n klein vliegtuigie... so helikopter tipe enetjie?? Maar die storie het 'n goeie einde... Die pad was oop en helder vanoggend. Ek het sonder enige gebeurlikhede weereens en ten spyte van veilig by die Akademie aangekom. Vader se hand is so oor ons almal.

Monday, March 10, 2008

Algehele Gremlin stilte

Ek wil baie graag met julle kontak hou met die blog en ek het lanklaas iets geplaas ek weet, so hierdie net om te sê ek is nog hier. Dis net gremlin tyd met rekenaars en kameras wat oppak. Ek het al gewonder of die een ding vir die ander ding sê ek gaan oppak en dan besluit die volgende ding dat dit dan sulke tyd is. Gelukkig is dit nog nie volsterkte somer in die land nie, want die lugreëlings werk nie. Die kamera se liggies gaan nie meer af nie en vries... soos die rekenaar. So een vir een gee ek aandag aan die dinge en hopelik sal die lugreëling ou sy foon vandag antwoord, want die naweek is verby.Die dae breek nog koel in hierdie woestynland. Die son laat so sagte glans oor die geboue en ons weet Vader is in beheer, hier, daar by die huis waar dit nou herfs word en die natuur gereed maak om te rus.... en oral anders in die wêreld. Julle is in my hart en in my gedagtes. Lief julle almal.

Wednesday, March 5, 2008

Kamp!!!!

Ons het verlede naweek met 60 Suid Afrikanertjies van die Afrikaanse kerk in Dubai... of die UAE eerder, gaan kamp. Dit was regtig 'n wonderlike, uitputtende ervaring.
Toe ons Donderdagmiddag sesuur by die kerk in Jebel Ali aankom waar die kinders op die busse moet klim, waai die wind yskoud en stowwerig en my moed sak in my skoene. Toe ontvang Sandra 'n oproep van die kampleier dat die tente waarin die kinders sou slaap plat is en dat die kinders in sale moet slaap... en my moed sak selfs verder. Toe pak ons die pad aan Sjarjah toe in die hoogste piek van die verkeer in Dubai, wat op die beste van dae baie erg is, maar oor naweke nog 'n paar grade erger word. Ons ry 'n uur en 'n half aan 'n stuk pad wat normaalweg net bietjie meer as 30 minute duur... AI... Maar by die kamp aangekom is die sale waarin die kinders moet slaap toegerus met beddens en 'n klein hangkas vir elke kind, lakens en kussingslope, duvets en als... wow... dankie tog die tente lê plat. Ons het nie aan die program gesny omdat ons laat was nie en na een eers die kinders in die kamers en die ligte af gehad, maar eers na drie almal stil gehad... Ek dog ons sit Vrydag met 'n klomp zombis, maar moenie glo nie.
Die kinders draf gemaklik tussen die sessies deur, loop die half kilometer kombuis toe vir ete en neem deel aan al die aktiwiteite wat krieket en Volleyball en rounders en als insluit en gaan slaap weer eers teen twaalfuur. Ek moet sê, teen Vrydagaand 12 uur was ek so moeg dat ek nie sou weet of die kinders slaap of nie. Ons Bybelstudiesessies het gegaan oor Daniël en sy onwrikbare geloof in God en toewyding aan God en die fenominale gevolge wat dit op die hele Babiloniese ryk gehad het. My sessie was Onwrikbare geloof en ek het trust games met die kinders gedoen. Dit was so wonderlik hoe die kinders reageer en geluister het. God se Gees was in en met ons.
Die musiek was nog 'n groot hoogtepunt en ons was geseënd met 'n groep tienerdogters wat met groot geesdrif gees geskep het. Ons het die dak gelig met die kamplied op die wysie van Steve Hofmeyer se Bloubul wat deur Danie Botha verwerk is: " 'n Christen weet nie van verloor af nie."
Ons weet 'n groot groep Suid Afrikaners, jeug en baie geesdrigtige jong jeugleiers en twee ou tannies... ja moenie vra nie.... is huis toe met 'n nuwe branding in ons harte om onwrikbaar op ons God te vertrou sodat Hy ons vir Sy doel kan gebruik. Wat 'n voorreg... Klik op die skakel na Ons Kindergroep en Sandra se blog vir meer foto's en nuus oor die kamp. Lief julle almal.

Tuesday, March 4, 2008

Jy is 50!!!

Baie geluk met jou verjaarsdag Pierre. As jy 50 is vandag is ek erg stokoud. Mag dit 'n wonderlike dag en mooi jaar wees. Ons is baie trots op jou dat jy deurgedring het na die finaal van die kook kompetisie... mag dit 'n goeie deel uitmaak van 'n uitstekende jaar vir jou. Geniet jou dag.