Toe Niël Desember hier gekuier het, het hy 'n paar aande so op die mat gesit en teken met pastelle en verf met akriel. Dit het my laat dink aan die matriek portefeulje vir die kunseksamen toe jy ook so op die mat die een ding na die ander sit en teken en opskeur en weer teken het. Die prent van die souk is met pastelle gedoen en het ook amper in die asblik beland... 
Nie ek nie, Niël. Die ander prent is Ragab wat by die venster met die rooi tou sit en wag dat Joshua Jerigo moet kom verower en haar wegneem uit haar lewe van sonde en vernedering. Die prente het lank gelê want julle weet mos hoe kan mens soms planne maak om iets te doen en dan nie daarby uitkom nie.

Maar ek het dit laat raam en kyk hoe mooi... toe kom die volgende probleem... waar gaan ek hulle hang. Voor ek by ophang van die prente kon uitkom, moes ek eers 'n ander sakie afhandel. Ek dink al 'n hele ruk aan 'n kas vir al die Kindergroep goeters, want elke Vrydag en Maandagaand voor kindergroep soek ek deur drie verskillende sakke en die laaie in die sitkamer en die boekrak in die eetkamer en die rakkie in die studeerkamer om alles bymekaar te kry. Toe begin ek 'n kas soek... en daar is 'n prentjie in my kop, maar die kas om die prentjie te pas ontwyk my. Eie aan my aard het ek ongeduldig begin voel en allerhande opsies oorweeg en myself daarmee probeer versoen, maar uiteindelik tog die wilde perde van iets dadelik te wil hê onder beheer gekry en gewag. En ek is so bly, want toe ek verlede naweek by die stoor naby Mina mall kom, waar ek baie van my houtmeubels gekoop het, sien ek dadelik die kas raak en die prentjie pas.

Toe moes ek wag dat die kas eergister agfelewer word, maar toe die kas op sy plek staan, kry die prente ook sommer plek. Gedink ek deel dit met julle. Baie dankie Niël, die prente lyk pragtig.

Ek lief my feëtjies en hierdie enetjie het my teruggeneem na die oggende toe ek my dogterjie.. ja meis.... aangetrek moes kry vir kleuterskool en sy wil in die eerste plek nie aantrek wat ek sê sy moet aantrek nie en in die tweede plek wil sy nie hê ek moet haar help aantrek nie. "Sal self mamma"... en as ek sê:" daar is nie meer tyd oor vir self nie meis", dan sê sy "mamma moenie haastig wees nie"... en so het ons menige oggend in die kar geklim met klere wat glad nie bymekaar pas nie, of onderstebo of agterstevoor is.
Hierdie feëtjie het ek nou Salself gedoop want kyk hoe sit die zip van die rompie voor en een ballet skoentjie het 'n strikkie en die nader 'n knippie... en ai, daardie tevrede selfvoldane glimlag spreek ook boekdele.
Eendag as daar 'n kleindogter is wat vir haar mamma sê "ek sal self"... ek hoop my kleinkinders sal darem so bietjie Afrikaans ook kan praat... dan gee ek vir Riza hierdie feëtjie net om haar te herhinner dat sy nie moet haastig wees nie.. :-)
Ek het die heeltyd gewonder of ek weer die pad terug sal kry sou ek dalkies in Hatta of Oman aanland. Met nog twee omdraaie het ek wonder bo wonder wel betyds by die akademie uitgekom en vanoggend besluit... nie weer nie. Ek ry maar die trokke pad. Ek het vanoggend taamlik senuweeagtig agter die stuur ingeklim, want daar was gisteroggend digte mis op die pad en 200.... ja 2 0 0 (TWEE HONDERD) karre het inmekaar ingery.
25 karre het uitgebrand en 8 mense is dood. Ek wonder wat kos 'n klein vliegtuigie... so helikopter tipe enetjie?? Maar die storie het 'n goeie einde... Die pad was oop en helder vanoggend. Ek het sonder enige gebeurlikhede weereens en ten spyte van veilig by die Akademie aangekom. Vader se hand is so oor ons almal.
Die dae breek nog koel in hierdie woestynland. Die son laat so sagte glans oor die geboue en ons weet Vader is in beheer, hier, daar by die huis waar dit nou herfs word en die natuur gereed maak om te rus.... en oral anders in die wêreld. Julle is in my hart en in my gedagtes. Lief julle almal.







