Die ou loop om die kameelhokke en beduie van "baby one"... ek sien die ou babatjie by sy/haar mamma lê. 
Die ou beduie ek moet staan en mik met die kamera... dan halt hy en die volgende oomblik het ek die lap hoed ding op my kop. Te laat om te kommer oor kruipende gediertes wat in die voue mag skuil.. ek probeer glimlag.

Annie kom by en die ander gids plak sy doekhoed op haar kop. Dit lyk of sy onder die kopdoek wil uitsmelt :-).

Nou is daar twee van die gidse, maar ek neem beheer van my kamera en neem die twee vriendelike kamele van Saudi af. So sê die gids, maar op 'n stadium beduie hy weer na die hokke en die kamele kom van Oman, of Kuwait.. die ander gids sê vir my... Saudi. Maar die punt is, die twee het nader gekom en toegelaat dat ons aan hulle raak. Hulle het die sagste neuse en mooiste oë..

Daar is ook hokke vol baie jong kamele. Die jonges begin verkoop vir Dhs 2000 en dan gaan dit op van Dhs 5000 vir 'n volwasse kameel tot 3 miljoen. Ek dink nie mens koop maklik laasgenoemde by die souk nie, maar wie weet. Die gidse kos ons toe Dhs 80 saam... ai tog, sal ek nooit leer nie.




Ver op die agtergrond kan julle "siderman" sien. Ekskuus ek het nie nader gegaan vir die foto nie, maar het ek julle al vertel dat dit VREESLIK warm was Saterdag?



