Tuesday, March 4, 2008

Jy is 50!!!

Baie geluk met jou verjaarsdag Pierre. As jy 50 is vandag is ek erg stokoud. Mag dit 'n wonderlike dag en mooi jaar wees. Ons is baie trots op jou dat jy deurgedring het na die finaal van die kook kompetisie... mag dit 'n goeie deel uitmaak van 'n uitstekende jaar vir jou. Geniet jou dag.

Tuesday, February 26, 2008

Hartplekke en spesiale mense

Harrismith het altyd vir my soos "huis" gevoel en ek dink nie daar is 'n Kapenaar wat so lief is vir Tafelberg soos ek vir Platberg nie.Meeste van die tyd is ek heeltemal gelukkig en tevrede so ver van die huis af, tot ek hierdie foto van Hannes kry.... en dan weet mens net weer jou plek is jou plek. Ek het lekker verlang trane gehuil. Maar is dit nie kosbaar dat ons Vader altyd wys Hy is daar vir ons. Soms is dit 'n lied, ander kere 'n skrif, 'n mooi brief, goeie vriende, kinders se laggies en soms is dit, soos op die foto.... 'n reënboog.Ek en Hannes en Lorraine is nou aldrie in die UAE.... Angela en Alessia sluit een van die dae by Hannes aan. Steyn, jy moet groot vasbyt by die nuwe skool en weet ons dink aan jou. Dis goed dat jy so gelukkig is.Alessia is gedoop die naweek en het kliphard saam gesels en gelag en was heeltemal reg om te bad nadat die lekker warm watertjies oor haar koppie uitgegooi is.

Saturday, February 23, 2008

Baie Geluk met jou Verjaarsdag!!!


Wiehann, dis jou verjaarsdag vandag. Mag dit 'n wonderlike dag vol spesiale verassings en 'n mooi jaar wees. Ek bid jou innerlike vrede en vreugde toe van goeie besluite neem en die regte keuses maak. Baie baie geluk met jou verjaarsdag. Ek wens ek kon die dag saam met jou vier. Weet net ek dink aan jou en bid vir jou. Baie liefde



Jou mam

Monday, February 18, 2008

Ester Konferensie

Wat ‘n naweek. Ons het geleer hoe Hadassa, ‘n beeldskone jong Joodse meisie, Ester, die koningin van Persië geword en die Joodse volk van gewisse ondergang gered het.

Saam met Hadassa, wat ‘n jaar lank skoonheidsbehandeling moes ondergaan todat sy soos Mirre en ander lekkerruikgoed geruik het, het ons ‘n geestelike reis onderneem van dinge neerlë wat ons saam met ons deur die lewe sleep. Die pyn en vernedering, verkeerde beskuite en sonde en sommer net die minagting van ons menswees lê soms baie diep weggesteek. Ons moes dit na die oppervlak bring, bely en neerlê. Want dis nie net dinge wat tussen ons en Vader staan nie, maar tussen ons en ander mense en ons onvergifnis bind ons. Baie trane ouens....

Dan die proses van gebied of terrein... wat mens dit ookal noem, teruggee aan Vader. Dinge soos ongeloof, tyd, kinders se opvoeding.. sulke moeilike goed... En elke keer as God terreine in ons lewens terugkry, het hulle op die horing geblaas.... hoendervleise!! En terwyl ons vrouens terreine van ons lewens aan God teruggee, het tien mans, Gideons, rondom ons gestaan met wit vlae met rooi kruise op en hulle hande uitgestrek en vir ons gebid. Dit is simbolies van die mans wat om die vroue staan wat hulle regmatige plek voor God inneem en hulle ondersteun met krag en gebed. Toe Elsa in Witbank was met die Ester konferensie, het ‘n dominee ‘n visie gehad dat die vroue God prys, omring met die mans wat bid en hulle beskerm en rondom almal was ‘n muur van vuur... God se beskerming.

Elsa vertel dat soos hulle Ester deur die land... dis nou Suid Afrika, aangebied het, het hulle die grond wat in die Oos Transvaal gebrand het, aan God teruggegee het. Toe hulle in die Weskaap kom, het hulle die kerk aan God teruggegee, omdat hulle die boodskap gekry het dat die liggaam van Christus op aarde, die ker, nie ‘n kop het nie. Christus se posisie as hoof van die kerk is teruggegee vir Vader. In Bloemfontein het hulle gevoel dat Nasionalisme in Suid Afrika tot baie pyn en bloedvergieting lei... ons weet nê ouens. Hulle het die 14 nasies in Suid Afrika weer aan God teruggegee.

Elsa vertel dat voor sy op die vliegtuig geklim het Ooskaap toe, het ‘n vrou vir haar ‘n plat ronde wit klippie gegee en gevra dat sy dit by Buffelsbaai in die see gaan gooi want hulle moet die harde hart van mense en hulle ongeloog aan God teruggee. Elsa en haar span het so gemaak en ook gehoor dat God vra datdie water van die land aan Hom teruggegee word. Voor hulle weg is uit die Ooskaap, het is die droogte gebreek en het dit begin reën. Toe die waters uiteindelik weer wegtrek en die strand by Buffelsbaai sifgbaar raak, het derduisende hart klippe op die strand uitgespoel. Ons Afrikaanse gemeente hier in die UAE het ook nou een van daardie hartklippe.

Die volgende proses was om te verstaan dat God ‘n plan het met elkeen van ons se lewens en dat ons in in die UAE is vir ‘n rede. God wil dat ander volke en nasies Hom in ons sal sien en leer ken. Ons is ver van ons land en ons mense hier en ons oorlewing is afhanklik van ons fokus op God, soos Abraham toe hy sy land moes verlaat om hom in die land wat die Here hom sou wys te gaan vestig. God belowe aan Abraham ‘n land vir sy nageslag en sodat God al die nasies van die wêreld deur Abraham kan seën. Wow!! Genisis 12:2-3
Die laaste stap in die proses was om uiteindelik gekroon te word as Ester, koningin. Ons belowe om God bo alles lief te hê. En elke vrou het ‘n kroon ontvang. Dis baie moeilik om te beskryf wat in ons binnestes gebeur het. Ons laaste middagete was ‘n kospakkie met ‘n lint om en binne in ‘n goue kroon en die versie uit Ester 4:14 wat sê dat miskien is dit vir ‘n tyd soo hierdie dat jy gekroon is as koningin. Ons het gekyk na ‘n ballet wat die troonsaal in die hemel voorstel en tyd gehad om met ons Koning God te praat oor ons toekoms saam met Hom.

Thursday, February 14, 2008

Ons ry die woeste wind

Vir die brawes onder ons... of dommes soos ons ook genoem word, is daar hope geleentheid om om vreeslike rides te gaan by Global Village. In my dae... ja ek weet ek klink soos 'n ou vrou... was daar net die Dive bomber. Kan iemand dit asseblief onthou? Ek het so bietjie van 'n waaghalsige streep in my want op skool het ek 'n paar maande lank gespaar vir die Bloemfonteinse skou om al daardie spaargeld op die Dive bomber uit te gee. En toe kom ons by Global Village en hier is al hierdie goeters.... en dan die ene.. Typhoon... is hom naam... en dit sê mos alles. Ek staan en dink daaraan om te gaan maar sê niks. Ek het eintlik in gedagte gehad dat ons al vier dit saam doen, maar ek sê steeds niks en toe sê Corinne... kom ons ry die ding... en ek sê dis reg. Terwyl hulle tokens koop staan ek en tweede gedagtes kry want jongie, die "wind" is woesDie karretjies swaai ondestebo en heen en weer en alles maar dis te laat. Toe die ou die baie dik en swaar harnas kom vasdruk... en hy moes nogal druk aan myne.. het ek hoendervleis gekry... maar die ding begin draai. Ek sien uit dat julle moet kom kuier dat ek saam met julle op die ride kan gaan en wonder wie sal instem... hmm? Die Big wheel was toe baie mak teen die Typhoon en Nelmari het die keer saam gegaan. Ons het baie mooi fotos so van baie hoog af geneem. Daar is nog 'n wilder ride as die Typhoon. Ek weet nie wat sy naam is nie, maar dit lyk erg!!! Ek moet nou twee dinge erken... toe die ding die derde keer my onderstebo gooi, wou ek regtig hê hulle moet stop ek het heeltemal genoeg gehad...en toe ek afklim, het my hele lyf gebewe. Of ek dit weer sal doen? Ja, hoekom nie. Hoe oud is te oud?

Friday, February 8, 2008

Global Village se stalletjies

Dis nogal regtig belangrik om te onthou by watter hek en watter land mens ingaan by die Village.
Daar is tien hekke en die uitsig oor die Village kan julle so effense idee gee van hoe groot dit is. Ons het by Indië ingegaan... hek nr ses... dis die plek vir mense wat na tafeldoeke en mantels en blink goeters en rompe en bloesies soek... dan Saudi vir ouens wat daardie GROOT potte waarvan ek julle voorheen al vertel het, besit, waarin mens BAIE melkkos of pampone kan kook, want hier kry mens die kaneel daarvoor... en duur heuning.. In Yemen kan almal wat van kunsblomme hou wat so vreemd goud skyn, koop. In Pakistan is daar die mooiste leer baadjies en jasse en langsaan in China is daar die speelgoed wat rondloop en rondvlieg en seepborrels wat teen mens bars. Afganistan se klere is so pragtig kleurvol... kyk net die juwele wat aan die rokke vasgewerk is. Ek weet nie wat is die was instruksies vir die rokke nie. Iran maak spookasem wat soos hare lyk... ek weet, dit klink grusaam, maar dit smaak wonderlik. Daar is natuurlik ook pragtige persiese matte vir almal wat weet hoe om kaf van koring te onderskei. Hoe 'n ou 'n mat in 'n kar soos FROG laai, weet ek nie. In Nepal koop mens die mooiste duurste handgeborduurde Alpakka wol mantels en gooi mens se hele maand se begroting deurmekaar.Daar is ook van hierdie goeters wat ten mure en deure hang. Turkye het nie net Delights nie, maar ook handgemaakte roomys. Volgende keer begin ek daar en gaan eet daarna, want ons was so versadig van die heerlike Lebanese "mixed grill" dat selfs 'n ou klein proe teelepeltjie vol roomys te veel was. Ek weet nie of daar iemand is wat so baie van klapper hou soos ek nie, maar as daar is, kan ek julle Egipte toe verwys vir klapper lekkers en "ou brood". Dis die naam vir "honey comb" stokkies.. Ek het dit by Amelia geleer en gedink die naam pas. Toe ons halfpad kortpad vat tussen die stalletjies deur opsoek na 'n toilet en sien hoe laat dit is en besef hoe seer die voete en bene is dan besef mens eenkeer se besoek is nie kwartpad genoeg nie. Daar is nog baie villages wat besoek moet word, so kom kuier dat ek 'n goeie verskoning kan hê om weer te gaan.... miskien in die bonus maand.... ??

Wednesday, February 6, 2008

Nuwe dinge... ou plekke

Ek het al voorheen vertel dat mens so van tyd tot tyd nuwe dinge vind om te doen of dinge vir die eerste keer doen. Ek is al 5 1/2 jaar in Abu Dhabi en was nog nooit by die Glodal village in Dubai nie... maar dis presies die probleem, dit is in Dubai. Toe Niël hier was het ons een Vrydag oggend vroeg deurgery vir 'n dag by die Global village en toe ons ENIGE plek op die reuse parkeerterrein kon parkeer, het ons vermoed dis toe. Dit maak vieruur in die middag eers oop en dus nog 'n rede waarom mens nie sommer daar uitkom nie. Maar verlede naweek het ek, Sandra, Corinna en Nelmari die vreeslike Emirates pad aangedurf vir 'n besoek aan Global Village.
Dit is soos 'n reuse skou of vlooimark met baie villages wat lande soos Egipte, Nepal, Indie, China, Saudi, Yemen, Iran, Pakistan, Oos en Wes Afrika, en baie baie meer, huisves. Daar is ook 'n UAE stalletjie en dan 'n reuse food court waar mens Indies, Amerikaans, Lebanees en wat mens ookal sou wou, kan eet. Tussenin is daar stalletjies met tee en koffie, mielies en koeldranke van alle soorte. Dis so oorskou van die Global Village. Ek sal in die volgende blog vertel van wat mens waar kan koop... of proe.... en ook van die pretpark waar mens regtig jouself kan jonk hou tot groot vermaak van 'n klomp verbaasde "ouer" mense.