Toe Niël Desember hier gekuier het, het hy 'n paar aande so op die mat gesit en teken met pastelle en verf met akriel. Dit het my laat dink aan die matriek portefeulje vir die kunseksamen toe jy ook so op die mat die een ding na die ander sit en teken en opskeur en weer teken het. Die prent van die souk is met pastelle gedoen en het ook amper in die asblik beland... Nie ek nie, Niël. Die ander prent is Ragab wat by die venster met die rooi tou sit en wag dat Joshua Jerigo moet kom verower en haar wegneem uit haar lewe van sonde en vernedering. Die prente het lank gelê want julle weet mos hoe kan mens soms planne maak om iets te doen en dan nie daarby uitkom nie.

Maar ek het dit laat raam en kyk hoe mooi... toe kom die volgende probleem... waar gaan ek hulle hang. Voor ek by ophang van die prente kon uitkom, moes ek eers 'n ander sakie afhandel. Ek dink al 'n hele ruk aan 'n kas vir al die Kindergroep goeters, want elke Vrydag en Maandagaand voor kindergroep soek ek deur drie verskillende sakke en die laaie in die sitkamer en die boekrak in die eetkamer en die rakkie in die studeerkamer om alles bymekaar te kry. Toe begin ek 'n kas soek... en daar is 'n prentjie in my kop, maar die kas om die prentjie te pas ontwyk my. Eie aan my aard het ek ongeduldig begin voel en allerhande opsies oorweeg en myself daarmee probeer versoen, maar uiteindelik tog die wilde perde van iets dadelik te wil hê onder beheer gekry en gewag. En ek is so bly, want toe ek verlede naweek by die stoor naby Mina mall kom, waar ek baie van my houtmeubels gekoop het, sien ek dadelik die kas raak en die prentjie pas.

Toe moes ek wag dat die kas eergister agfelewer word, maar toe die kas op sy plek staan, kry die prente ook sommer plek. Gedink ek deel dit met julle. Baie dankie Niël, die prente lyk pragtig.