Wednesday, January 9, 2008

Die Moskee

Van ek hier in Abu Dhabi gekom het.... en lank voor dit, was hulle besig om aan die moskee... die vierde grootste in die wêreld en wat die naam van die vorige Shiekh, Zayed bin Sultan Al Nahyan dra, te bou en ek het baie dae gewonder wat vat so lank.

In hierdie tye sal mens 'n konstruksie perseel sien die een dag en 'n maand of so later, staan daar 'n gebou. Toe vind ons uit dat daar nou besoekers toegelaat word en ons spring in ons sheilas. Ons moet lang mou lang rokke/rompe dra en al ons hare moet bedek wees en dan natuurlik kaalvoet... Maar dis reg. Niël was net so opgewonde om die moskee van nader te gaan bekyk, maar jinne ouens, niks kon ons voorberei op wat vir ons gewag het nie.

Hierdie is die baie indrukwekkende ingang en geen manier om 'n foto te neem wat alles inpas nie. Elke sentimeter van die moskee is met marmer bedek.

Daar is marmer blomme ingelê in die mosaïek en marmer op die vloere... of die binnehof dan.

Daar is ook reliëfwerk teen die mure en hierdie pragtige pilare met die blommetjies wat in die pilaar ingelê is.

Die mat in die hoof bidlokaal, beslaan twee rugbyvelde en is die grootste ter wêreld.

Daar is 'n paar van hierdie reuse kandelare en dis heeltemal onmoontlik om dit in 'n foto vas te vang. Dit is net eenvoudig onbeskryflik.

Die houtpanele is hier en daar teen van die mure en sal dalk ook simboliek hê en die blomme wat in die houtpaneel ingelê is, is perlemoen.
In die middel van die hoofbidlokaal is kolomme pilare wat so vier vier bymekaar staan

met hierdie pragtige geel blommotief in die middel. Dis waar die ouens die Koran kan sit en lees.

Daar is ook hierdie "swembaddens" om die moskee en ek het gewonder of dit vir voetewas sou wees??

Die mense is steeds besig om die mosiëk in die binnehof te lê.

En buite is die tuine onder konstruksie. Sandra se navorsing sê dat 40,000 mense in die binnehof geakommodeer kan word en 5000 in die hoofbidlokaal... wow!! Klik op die link na Sandra se blog. Sy het 'n klomp baie interessante statistiek oor die moskee.

Die gedagtes wat by my opgekom het is dat ons as Christene nogal nie sulke kerke meer bou nie. Dawid wou so graag vir God 'n tempel bou om Hom te eer en onthou God se antwoord? Die aarde is die voetbank van sy voete. Hoe sal ons vir Hom 'n huis kan bou..... maar as ons as mense instaat is om soveel prag en praal te skep op aarde dink net hoe die stad van goud, die nuwe Jerusalem sal wees!

2 comments:

Anonymous said...

mam dis so 'n pragtige stuk wat mam oor die moskee skryf, en die dagstukkie wat mam daar by het is so waar. baie lief vir mam. Elriza

Anonymous said...

Dankie Meis. Jy moet die plek kom sien....