Wednesday, September 5, 2007

Onverwagse dinge

Onverwagse dinge hou die lewe interessant. Die land is vol daarvan. Ek deel so paar met julle en dan kan ons ons gedagtes laat gaan oor al die ander onverwagse en wonderlike dinge wat ons lewens kleur gee.

Fonteine in die binnehof van die Emirates mall wat stoom uitspuit/blaas...
Kanale tussen die winkels van die nuwe Canal walk mall ...

en bote waarop mens kan tussen die winkels deur kan vaar. Vlieërs teen die dak van die mall
Regte palmbome en iemand wat bubbles blaas


klavier spel terwyl mens iets lekker kouds drink
'n restaurant onder die trap
'n Suid Afrikaanse rugby trui in 'n winkel venster in Dubai



Dankie vir telefoonoproepe..... 'n sms wat sê : "Ek is lief vir mam", kommentaar op die blog, 'n brief in die "posbus" ... grondboontjiebotter koekies toegewoel in foelie ... dankie vir julle



Lief julle




























Monday, September 3, 2007

Nie 'n handy vrou nie

Partykeer is mens lus vir verandering, maar ek dink nie hier by my gaan dit soseer oor verandering as dat ek die vermoë het om elke oop gaatjie te vul met alles en nog wat en dan is daar net skielik op 'n dag nie meer plek nie. Dis min of meer wat met die rakkie in die badkamer gebeur het.

Tyd vir iets waarin mens dinge beter kan organiseer... toe loop ek die "rakkie trollie " raak en ek sien sommer so in die winkel al waar ek wat kan inpak. Maar die goed kom mos in bokse...
met klomp los dele en net een enkel bladsy aanwysings waarvoor mens Wiskunde 3 nodig het... nee ek het nie eers Wiskunde 1 nie, net Statistiek, en dit tel nie.


Eerste ding is om te besluit wat is bo sodat ek onder kan begin en ek draai die eerste skroef in... halfpad... die skroef is dik en my hande sag en die skroewerdraaier vol riffies..... ek tel die skroewe in die sakkie... daar is tien... o hygend...

Ek sukkel twee skroewe onder en twee bo in en die "afdakkie" en "voetstukkie" vir die kantrakkies sit regoor mekaar... mooi... nou vir die plankies vir die kant rakkies..... maar daar is geen gaatjies nie. Ek weet wat gaan kom... ek kyk aan die ander kant... ja, daar sit die gaatjies. ALLES oordoen!! My hand palm het drie blase en dit brand. My regterhand sê vir my linkerhand: " help jy ook bietjie jong!" Twee ure later is die rakkie so min of meer aan mekaar, want ek het nog twee klein en een dik skroef oor. Daar sit nog twee gaatjies onder maar ek het klaar die wieletjies ingedruk en kan nie die gaatjies bykom nie en kan ook nie sien dat dit regtig so nodig is nie. Twee van die dik skroewe is nie heeltemal ingedraai nie, want hulle kan nie. Ek dink ek het teen "rots" vasgeskroef, maar as mens nie te veel wikkel aan die rakkie nie, is ek seker sal dit nie te erg saakmaak nie. Nou het die linkerhand ook 'n rooi rif waar 'n blaas wil begin. Dis TWEE ure later. Ek wou ook stryk en die matte stofsuig.
Maar toe ek die rakkie klaar gepak het en plesters oor die seerplekke geplak het, is ek heel in my skik.

Nie te sleg nie of hoe?

Lief julle almal

Friday, August 31, 2007

Moenie te gou oordeel nie

As mens so deur Fujeirah ry, dan lyk dit partykeer of die tyd stilgestaan het. Sandra se navorsingbron sê hulle noem Fujeirah die ghetto, maar ek wonder of die mense nie net baie goed weet wat hulle waardes is nie. Hulle is slim genoeg om te weet wat die gekultifeerde Westerlinge wil hê en nie so stupid om te dink al die blink goed is belangrik nie.


Mens ry so langs die see af met sy mooi palms en wye strande en dink... hoe kan hierdie ouens nie bietjie mooi maak en gras plant nie.... en dan net so bietjie verder bewys hulle hulle kan.
Mens sien hierdie Public cafe langs die pad en dink dat hulle nogal nie op toeriste ingestel is nie, maar net verder om die sirkel is mooie Hotel met al sy moderne restaurante. Die ding wat my met my voet in die mond gevang het, was hierdie dooie stinkende vissies wat op die teerpad lê en verrot. Ek het baie vies gevoel vir die vissermanne wat dan die vissies sou droog en later bymekaar vee... wat van al die stukkies teer en klippies en stuff tussenin.... brrrr.... en verkoop om geeët te word ... of self te eet.... juk!!! Maar Sandra lees op oor die goed... en ek hoop almal lees haar webblad, want sy het wonderlike feite oor al die plekke.... die bron sê die vissies word gedroog vir kunsmis!!!! Ag, groot ekskuus vir die vissermanne en alles wat ek gedink en voor gegril het.
Plek plek lyk dit of die mense glad nie weet van tuinmaak nie, maar dan kom mens by die hotel daar by Snoopy eiland en kyk net die tuine. Hierdie mooi blou gebou is die Meridien en reg langs hom, die Rotana Health and Spa.
Ek dink die mense wat hier in Fujeirah aan die voet van die barre berge en kaal strande grootgeword het, het die plek lief soos elkeen van ons ons eie plek liefhet.
By hierdie kafeetjie langs die pad lê daar waarskynlik baie herinneringe waaraan hulle meer waarde heg as aan die wondelike mooi hotelle en aangeplante tuine en hulle gee nie om wat ander daarvan dink nie.

Ek besef net mens moet maar nie oordeel voor jy die waarheid ken nie en ek voel jammer vir die mense wat baie hard probeer om iewers tussen al die ontwikkeling aan dit wat eie aan hulle is, vas te hou.













Murasies en restourasies.

Ek kry altyd so gevoel van heimwee as ek na murasies kyk. Hierdie is die murasies om die Fujeirah fort.
Dis 'n jammerte dat plekke van belang so verval dat dit 'n murasie word. Hier gebeur dit natuurlik maklik, want die sand en palm stuff waarmee die mense aanvanklik gebou het, is maar baie tydelike "deeghuise" soos Nelmari dit so sewe jaar terug genoem het.

Dis wonderlik dat hulle die waarde van die herbou besef, maar nou sal daar nooit weer iemand in woon nie. Hulle herbou selfs die "deeghuisies" wat om die fort gebou was en ek het die hitte trotseer en 'n paar foto's gaan neem. As ek nou 'n sê gehad het in die saak, sou ek mense daar laat gaan woon het dat dit soos 'n replika van die ou lewe is. Ja, ek sou lugreëling in die huisies sit. :-)Ek hou van die boustyl. 'n Deur wat op die "straat" oopmaak en dan 'n groot binnehof en al die vertekke wat in die binnehof uitloop. So ooplan leeflwyse van gemeensaamheid en kuier om die vure onder die sterrehemel...

Die Fujeirah Fort... baie mooi herbou, want mens kan nie van restoureer praat nie. Daar was niks van hom oor nie. Die fort was die woonplek van die heerser van Fujeirah.


Baie keer is ons verhoudings en kontak met mense ook so. Verhoudings word murasies waarna die nageslag gaan kyk en die oorblyfsels sien wat iets wat eens op 'n tyd wonderlik was, of veronderstel was om te wees... en dan vervalle raak. Selfs al "herbou" mens dit dan later bly dit net 'n hartseer herhinnering van wat was en nooit weer sal wees nie.

Anders as die fort, is die klein moskee wat herbou is, die kleinste in die UAE is en ook die oudste is, in volle gebruik. Ek het die bord wat die storie van die moskee vertel afgeneem en hoop julle ouens kan die foto oopmaak en lees. Ander sal ek 'n volgende keer vertel wat daarop staan.

Dis die eerste keer wat ek 'n Abaja aangehad het. Ons moes ons skoene voor die eerste ingang los, dan vinnig oor die WARM binnehof hol om in die moskeetjie in te gaan.
Verhoudings behoort so te wees... families wat saamstaan en mekaar geliefd in gebruik hou. Ons behoort trots te kan voortbou op stewige fondasies wat deur die voorgeslagte gelê is. Ek hoop die fondasies wat ek lê, sal die toets van die tyd weerstaan.


Lief julle almal

Wednesday, August 29, 2007

Allesia is hier!!

Allesia is 17h00 gistermiddag, 27 Augustus gebore. Sy weeg drie kilogram en haar pappa sê sy is 'n modelletjie... en baie dors. Sy het sommer baie gou melkies gekry.
Allesia is 'n vroulike vorm van Alexander wat veroweraar beteken. 'n Ander betekenis vir haar naam is waarheid. Wel klein meis, as jy met die waarheid mense gaan oorwin, dan sien ons vreeslik uit om die pad met jou te loop. Ons is baie bly jy is met ons. Ons is al klaar gek oor jou.
Baie geluk Hannes en Angela en ouboet Steyn, met die geboorte van die klein liefling.

Mag Vader Sy rykste seën oor julle uitstort en julle steeds nouer saambind as 'n gesin.

Baie lief vir julle

Charmaine

Sunday, August 26, 2007

Snorkel en wonderlike dinge

Ons klim uit die kar daar waar die sand begin en dis vrekwarm. Ek is so half spyt ek het nie die Kia om soos die ander vier by vier's tot teen die water te ry nie nie en toe onthou ek ek het in elk geval vasgesit met die Kia ook... so... dapper en stapper deur die sand met die nuwe seeskoene aan. Die liedjie van die sonbrilletjies en sonbrandolie en allerhande snaakse goedjies .... om mee te snorkel, draai in my kop. Ek het my snorkel en die bril en 'n "kick board" vir outjies van drie... en my kamera. Ek sit die snorkel in my mond en wonder hoe hou ek dit nou bo die water, toe sien ek Amelia sin sit aan die bril.. en toe verstaan ek waarvoor die rubber lissies is.
Ek kyk die see so en loop die kniehoogte branders in... hoe erg kan dit nou wees... en word van my voete afgeslaan. Ek stoei regop en word weer omgeslaan, skuur my knie nerfaf teen die rotse op die bodem, spartel regop en word weer omgeslaan. My oë brand soos vuur en ek dog... laat ek die bril opsit. Dit voel of iemand 'n pistool teen my kop druk waar die snorkel vassit. Ek verstel dit en probeer weer... daar is water in die bril... stel weer stywer. Sandra is al 'n end weg, maar ek kom nie deur die bababranders nie... my hene en kyk hoe ver lê Snoopy Eiland!!
Uiteindelik kry ek my lê op die "kick board" en begin skop.... die eiland kom nader maar dit voel of ek in die middel van die see is, ver van land van alle kante. Ek sien nie vir Amelia en Sandra nie.
Ek sit die bril op om uit te toets, maar dit stoom toe... ek het gehoor ek moet dit met seewater uitspoel en maak so.... byt die snorkel tussen my tande vas en sit my gesig in die water... ek stik my snorkel vol water toe ek sien ek is bo op die koraalrif met die mees ongelooflike tonele .... en afgronde....onder my. Ek blaas die water uit die snorkel en sukkel met die kamera, mik so in die algemene rigting van die vissies terwyl ek my balans op die rubber dingetjie probeer hou, die snorkel tussen my tande vasbyt EN my mond toehou.
Die tonele onder my is onbeskryflik. Meeste van die tyd skarrel die visse weg vir die klik van die kamera en natuurlik my gespartel... maar wow....wow..... wow....!!! Ek soek vir Sandra en Amelia en skree vir hulle daar is visse en hulle knik net hulle koppe... klaar gesien.
Sandra skree terug 'n ou sê daar is 'n seeslang as ek 'n foto wil neem. Ek skree "nee wat... baie dankie" terug en dink hoe goed dit is dat ek die seeskoene aan het en wonder of die geel rubber "kick board" my gewig sal dra. Net vir ingeval mens vinnig uit die pad moet kom...
Ek kan nie sê ek kan snorkel nie maar ek is so baie bly ek het nie opgegee en hierdie ongelooflike belewenis gemis nie. Ons het Snoopy eiland bereik. Hier stap Amelia ewe doelgerig om aan Snoopy te raak.


Ek staan daar op die eiland... mens kan nie sit nie, die rotse is SKERP... en ek dink hoe groot is ons God. As mens so bo op die branders dryf, het jy geen idee van die wonder wêreld reg onder nie. Hy ontsien nie die geringste detail nie. So baie keer wil mens handdoek ingooi oor die moeilikhede in die lewe wat mens van jou voete afslaan, die hartseer en pyn , maar ons Vader weet wat Hy vir ons beplan... Ons het geen idee van die heerlikhede wat vir ons wag as ons hierdie pad loop soos Hy van ons vra nie.


Die uur wat ons aanvanklik beplan het om in die water te spandeer... word amper twee ure. Ons wil terug hotel toe en gaan stort en aantrek en by 'n deftige hotel gaan aandete eet, maar oppad terug besluit ons die Hilton, waar ons tuis is, is heeltemal goed genoeg vir aandete. Ons is behoorlik vodde.. en Sandra sê... " wat van "room service" julle ouens?

Waardeer hierdie foto's ouens. Dit het nie maklik gekom nie.

Lief vir julle almal








'n Nuwe klein mensie!!!


Baie geluk André en Natalie en meisies Ilke en Amika en natuurlik trotste ouma Elma, met die geboorte van klein Xenia op Dinsdag 21 Augustus 2007. Sy het 'n hele 3.7 kg geweeg!! Mag haar lewe 'n groot seën wees vir almal wat met haar in aanraking kom.



Baie liefde en welkom Xenia



Charmaine