Ons klim uit die kar daar waar die sand begin en dis vrekwarm. Ek is so half spyt ek het nie die Kia om soos die ander vier by vier's tot teen die water te ry nie nie en toe onthou ek ek het in elk geval vasgesit met die Kia ook... so... dapper en stapper deur die sand met die nuwe seeskoene aan. Die liedjie van die sonbrilletjies en sonbrandolie en allerhande snaakse goedjies .... om mee te snorkel, draai in my kop. Ek het my snorkel en die bril en 'n "kick board" vir outjies van drie... en my kamera. Ek sit die snorkel in my mond en wonder hoe hou ek dit nou bo die water, toe sien ek Amelia sin sit aan die bril.. en toe verstaan ek waarvoor die rubber lissies is.

Ek kyk die see so en loop die kniehoogte branders in... hoe erg kan dit nou wees... en word van my voete afgeslaan. Ek stoei regop en word weer omgeslaan, skuur my knie nerfaf teen die rotse op die bodem, spartel regop en word weer omgeslaan. My oë brand soos vuur en ek dog... laat ek die bril opsit. Dit voel of iemand 'n pistool teen my kop druk waar die snorkel vassit. Ek verstel dit en probeer weer... daar is water in die bril... stel weer stywer. Sandra is al 'n end weg, maar ek kom nie deur die bababranders nie... my hene en kyk hoe ver lê Snoopy Eiland!!
Uiteindelik kry ek my lê op die "kick board" en begin skop.... die eiland kom nader maar dit voel of ek in die middel van die see is, ver van land van alle kante. Ek sien nie vir Amelia en Sandra nie. 

Ek sit die bril op om uit te toets, maar dit stoom toe... ek het gehoor ek moet dit met seewater uitspoel en maak so.... byt die snorkel tussen my tande vas en sit my gesig in die water... ek stik my snorkel vol water toe ek sien ek is bo op die koraalrif met die mees ongelooflike tonele .... en afgronde....onder my. Ek blaas die water uit die snorkel en sukkel met die kamera, mik so in die algemene rigting van die vissies terwyl ek my balans op die rubber dingetjie probeer hou, die snorkel tussen my tande vasbyt EN my mond toehou.

Die tonele onder my is onbeskryflik. Meeste van die tyd skarrel die visse weg vir die klik van die kamera en natuurlik my gespartel... maar wow....wow..... wow....!!! Ek soek vir Sandra en Amelia en skree vir hulle daar is visse en hulle knik net hulle koppe... klaar gesien.
Sandra skree terug 'n ou sê daar is 'n seeslang as ek 'n foto wil neem. Ek skree "nee wat... baie dankie" terug en dink hoe goed dit is dat ek die seeskoene aan het en wonder of die geel rubber "kick board" my gewig sal dra. Net vir ingeval mens vinnig uit die pad moet kom...
Ek kan nie sê ek kan snorkel nie maar ek is so baie bly ek het nie opgegee en hierdie ongelooflike belewenis gemis nie. Ons het Snoopy eiland bereik. Hier stap Amelia ewe doelgerig om aan Snoopy te raak. Ek staan daar op die eiland... mens kan nie sit nie, die rotse is SKERP... en ek dink hoe groot is ons God. As mens so bo op die branders dryf, het jy geen idee van die wonder wêreld reg onder nie. Hy ontsien nie die geringste detail nie. So baie keer wil mens handdoek ingooi oor die moeilikhede in die lewe wat mens van jou voete afslaan, die hartseer en pyn , maar ons Vader weet wat Hy vir ons beplan... Ons het geen idee van die heerlikhede wat vir ons wag as ons hierdie pad loop soos Hy van ons vra nie.
Die uur wat ons aanvanklik beplan het om in die water te spandeer... word amper twee ure. Ons wil terug hotel toe en gaan stort en aantrek en by 'n deftige hotel gaan aandete eet, maar oppad terug besluit ons die Hilton, waar ons tuis is, is heeltemal goed genoeg vir aandete. Ons is behoorlik vodde.. en Sandra sê... " wat van "room service" julle ouens?
Waardeer hierdie foto's ouens. Dit het nie maklik gekom nie.
Lief vir julle almal
Wel ek het... en ek hoop ek oorleef dit om die storie te vertel, maar soos hulle sê: "Hou die spasie dop." Hannes ek wens jy was hier om te help, maar ook miskien goed want dalk sal jy vir my lag.


