Partykeer is mens lus vir verandering, maar ek dink nie hier by my gaan dit soseer oor verandering as dat ek die vermoë het om elke oop gaatjie te vul met alles en nog wat en dan is daar net skielik op 'n dag nie meer plek nie. Dis min of meer wat met die rakkie in die badkamer gebeur het.
Tyd vir iets waarin mens dinge beter kan organiseer... toe loop ek die "rakkie trollie " raak en ek sien sommer so in die winkel al waar ek wat kan inpak.
Maar die goed kom mos in bokse...
met klomp los dele en net een enkel bladsy aanwysings waarvoor mens Wiskunde 3 nodig het... nee ek het nie eers Wiskunde 1 nie, net Statistiek, en dit tel nie.
Eerste ding is om te besluit wat is bo sodat ek onder kan begin en ek draai die eerste skroef in... halfpad... die skroef is dik en my hande sag en die skroewerdraaier vol riffies..... ek tel die skroewe in die sakkie... daar is tien... o hygend...
Ek sukkel twee skroewe onder en twee bo in en die "afdakkie" en "voetstukkie" vir die kantrakkies sit regoor mekaar... mooi... nou vir die plankies vir die kant rakkies..... maar daar is geen gaatjies nie. Ek weet wat gaan kom... ek kyk aan die ander kant... ja, daar sit die gaatjies. ALLES oordoen!! My hand palm het drie blase en dit brand. My regterhand sê vir my linkerhand: " help jy ook bietjie jong!"
Twee ure later is die rakkie so min of meer aan mekaar, want ek het nog twee klein en een dik skroef oor. Daar sit nog twee gaatjies onder maar ek het klaar die wieletjies ingedruk en kan nie die gaatjies bykom nie en kan ook nie sien dat dit regtig so nodig is nie. Twee van die dik skroewe is nie heeltemal ingedraai nie, want hulle kan nie. Ek dink ek het teen "rots" vasgeskroef, maar as mens nie te veel wikkel aan die rakkie nie, is ek seker sal dit nie te erg saakmaak nie. Nou het die linkerhand ook 'n rooi rif waar 'n blaas wil begin. Dis TWEE ure later. Ek wou ook stryk en die matte stofsuig.
Maar toe ek die rakkie klaar gepak het en plesters oor die seerplekke geplak het, is ek heel in my skik.
Nie te sleg nie of hoe?
Lief julle almal