Showing posts with label Johannesburg. Show all posts
Showing posts with label Johannesburg. Show all posts

Tuesday, December 4, 2007

Ou vriende

Nuwe vriende is silwer en oues goud... so sê die gesegde en dis so waar.Na vyf jaar kon ek weer heerlik saam met Neels en Jandre en kinders kuier. Wiehann het skaaptjops en varkribbetjie en wors gebraai vir ons en met mengelsaai en vrugteslaai en PAP en sous, was dit 'n heerlike SA kuier. Ons kan vrugeslaai maak hier, maar dis baie duur en dan smaak die mangos nie soos die wat van Natal of Nelspruit af kom nie. Ek koop eendag 'n piesang met 'n skil so taai mens moet dit omtrent afbytel... en toe is die piesang hard en frank... galbitter, net om uit te vind dis 'n Indiese piesang wat eintlik gebak moet word. 'n Ander dag het ek vir 'n appel uit die USA Dhs 6 betaal... een appel!! Dis so R11. Selfs groente is duur in die land. Dit hang af of mens "local" groentes koop, of groente uit Indië, of Holland, of USA of Lebanon of Suid Afrika. Soms, net soms... kry mens selfs gem sqaush.
Baie dankie Neels en Jandre vir die pyn en frustrasie van die hoofweg tussen Pretoria en Johannesburg aanpak vir die heerlike kuier. Ons het gesels asof daar geen tyd verloop het tussenin nie.

Saturday, December 1, 2007

Ons meisies kuier

Een van die spesiale dinge van kuier by die huis is as ons sommer so op die ingewing van die oomblik kan besluit ons gaan ontbyt eet en gelukkig werk niemand nie... ek is met vakansie en Angela het babaverlof by die huis en Lorraine is gereed om Dubai toe te kom. Sy wag net dat Roxanne haar laaste vak vir matriek skryf, en die Kollege het gesluit.... so drie geslagte van meisies kon bietjie saam kuier.


Natuurlik is die kleinste ook die een wat die kuier reël en al die aandag kry en op meeste van die foto's is. Ons het mos almal ons beurt gehad van so belangrik wees of hoe. En as daar nog 'n boetie of sussie kom, dan is dit skielik verby en moeilik om te verstaan. Alessia het so effens van 'n rustelose nag gehad en was nie lus vir enige van ons nie.


Net mamma was in tel en solank sy in Angela se arms was, was sy vol glimlaggies. Dis reg poplap. Jy mag maar so voel.


Hierdie foto's bêre mens vir die familie albums. Dis so spesiaal dat ouma en susters en dogter op een foto saam is. Dankie vir elkeen van julle en vir die tyd maak vir hierdie baie belangrike saamkuiers. Mens weet nooit wanneer dit weer kan gebeur nie. En 'n addisionel lekker was regte scones!! Ek weet hoekom my klere so styf sit na die tien dae..

Friday, November 23, 2007

Johannesburg... vreeslik maar mooi

My hele familie is nou in Johannesburg.. dit nadat ons almal in die Vrystaat gebore en getoë is. Hoe het dit gebeur?? wonder ek baie keer. Maar ja, mens gaan mos maar waar die werk en die geld is. Ek het 'n paar keer by myself sit en dink dat ek REGTIG nie in hierdie stad wil bly as mens 'n uur lank ry aan 15 kilometer nie. Dan ook nog die taxis!!! Ek en Riza kom die eerste Sondag van die kerk af en sit vas in die verkeer op die hoofweg omdat hulle mense voorkeer wat verkeersboetes het wat nie betaal is nie. Riza hou haar asem op en ek wonder so by myself hoekom... sy verdedig en sê sy KAN nie altyd binne die spoedgrens bly nie... o Meis? Maar gelukkig word ons nie afgetrek nie... phew!!
Die eerste dag het die seuns elkeen 'n YSLIKE burger geëet wat Fuddruckers 'n goeie "go" kan gee. Dit kan voordelig wees, want hulle wou die res van die dag nie weer kos sien nie.
Ek bly altyd by dieselfde gastehuis en as ek die kunstige Afrika tema so om my het, dan kan ek ook vergeet ek is eintlik in Johannesburg.
Die strate is pragtig met die Jakarandas wat nou blom. Dan verstaan ek so bietjie van mense wat die stad liefkry en bereid is om die slegte te hanteer vir die goeie en die mooie waarna mens nie te ver hoef te soek nie.