Showing posts with label Kinderskuier. Show all posts
Showing posts with label Kinderskuier. Show all posts

Wednesday, January 23, 2008

Bennihana

Nog 'n baie goeie "eet ervaring" is die Benihana restaurant waar hulle in Japanese styl die kosse op die warm plaat voor mens berei. Dis so heerlike gesonde manier van eet en geen gewonder oor hoe die kosse berei of gegeur word nie. Ons besoek die restaurant meer gereeld want die kos is regtig heerlik.
Hulle bedien eers Japanese gebraaide -uie -sop. Dan 'n slaai met 'n gemmersousie. Daarna prawns wat voor mens se oë van grys na pienk kleur en wat die sjef met groot vaardigheid skoonmaak en sny. Daarna word elkeen se voorkeure soos volgens bestelling voorberei. Vis of kreef vir party en dan steaks vir ander.
Sommige snitte is rump en ander sirloin maar die kok weet presies wat wie sin is en kry die medium of medium well ook baie goed reg, net soos mens daarvan hou. Myne het 'n teryaki sousie en is regtig vingerlek lekker. Die drankies is ook baie interessant. Warm ryswyn,... dit klink altyd vir my bietjie verdag... en Japanese ystee wat groentee en lemmetjie is, of net gewone coke en sprite. Die sjefs is baie vaardig met die mes en is nie Japanese nie, maar Fillipyne... en hy spot nogal met homself daaroor en sê dat hy dus geregtig is op foute maak.
Op die foto is Niël besig om 'n stukkie omelet in sy mond te vang... en ek probeer 'n foto neem... dit het nie gewerk nie... die foto bedoel ek.... en ook nie die vang nie... James en William het hulle kossies raakgevang, maar myne het op my bril beland. Gelukkig het niemand 'n foto daarvan geneem nie en gelukkig gooi die ou nie heeltyd kos rond nie. Mens kan rustig in jou eie tyd die kos met stokkies eet. As die rekening uiteindelik kom, is daar meestal twee ure verby. Hierdie ete was om vir Niël totsiens te sê en vir Niël en James geluk te wens met hulle grade. Maar enige verskoning om by die restaurant te eet is 'n goeie een.

Friday, November 23, 2007

Johannesburg... vreeslik maar mooi

My hele familie is nou in Johannesburg.. dit nadat ons almal in die Vrystaat gebore en getoë is. Hoe het dit gebeur?? wonder ek baie keer. Maar ja, mens gaan mos maar waar die werk en die geld is. Ek het 'n paar keer by myself sit en dink dat ek REGTIG nie in hierdie stad wil bly as mens 'n uur lank ry aan 15 kilometer nie. Dan ook nog die taxis!!! Ek en Riza kom die eerste Sondag van die kerk af en sit vas in die verkeer op die hoofweg omdat hulle mense voorkeer wat verkeersboetes het wat nie betaal is nie. Riza hou haar asem op en ek wonder so by myself hoekom... sy verdedig en sê sy KAN nie altyd binne die spoedgrens bly nie... o Meis? Maar gelukkig word ons nie afgetrek nie... phew!!
Die eerste dag het die seuns elkeen 'n YSLIKE burger geëet wat Fuddruckers 'n goeie "go" kan gee. Dit kan voordelig wees, want hulle wou die res van die dag nie weer kos sien nie.
Ek bly altyd by dieselfde gastehuis en as ek die kunstige Afrika tema so om my het, dan kan ek ook vergeet ek is eintlik in Johannesburg.
Die strate is pragtig met die Jakarandas wat nou blom. Dan verstaan ek so bietjie van mense wat die stad liefkry en bereid is om die slegte te hanteer vir die goeie en die mooie waarna mens nie te ver hoef te soek nie.

Thursday, November 15, 2007

Bietjie nuus hier van Johannesburg af

Hallo almal, Ek dink die eerste nuus wat ek wil deel is oor die honde en die babatjie.
Ek kon nie wag om die goedjies in my arms te hou en op te soen nie. Die hondjies is vreeslik oulik en spelerig en dierbaar en eintlik kleiner as wat ek gedink het hulle sou wees. Ek weet nie presies hoe groot ek hulle geskat het nie, maar ag... hulle is maar baie effens.

Maar soos regte honde speel hulle en byt mekaar se ore en krap hulle oortjies, jaag hulle stertjies
en dan gaan le hulle op 'n bondeltjie en slaap te lekker.

En natuurlik klein Alessia... Sy is pragtig en besig en wakker en baie nuuskierig. Terwyl almal kuier en lag en gesels, slaap sy net sulke kort stukkies. Hier is sy by my tannie Charmaine, wat baie suinig was om haar met iemand anders te deel... ek is mos darem 'n hele paar vashoue agter.
Ek het darem 'n foto van haar en ouboet Steyn

en mamma Angela en pappa Hannes geneem. Die dingetjie gesels al lang stuke babataal sinnetjies. Sy is 'n ou engeltjie...

Saturday, August 4, 2007

Oud en nuut

Liewe almal,



Ek het verlede keer vertel van Le Meridien en hoe bang ek is hulle besluit om te sloop. Die een ou hotel waarvan ek vertel het en wat nou gesloop is, is die Khalidya Palace. Dit was een van Wiehann se gunsteling plekke.
Hier lê die man heerlik in die son. Die grasdakkies was vir my so mooi en soos mens in die flieks sien, het die kelners bestellings kom neem vir eet- en drinkgoed. Die paleis is nou iets van die verlede, maar hier neem Wiehann foto's van Abu Dhabi mall. Dis nuut... die mall is sowat 5 jaar oud.

Die foto's wat Wiehann neem is van die straatkant maar aan die seekant van die mall het mens die pragtigste uitsig oor die swembad en strand van die Beach Rotana Hotel wat aaneen loop met die mall. Mens moet "ongelukkig" by 'n restaurant gaan sit om foto's te neem van hierdie wonderlike uitsig. Soos die goue koek by die Emirates Palace, moet mens so af en toe gaan cinnabons eet. Dis soos iemand eenkeer gesê het... "evil", maar o so lekker!!

Ek en Sandra deel 'n minibon. Dit bly ongeveer drie maande op mens se heupe. Ek het vir die res van die dag water gedrink om die soet af en deurgesluk te kry, maar dis 'n groot MOET proe.
Nog 'n ou plek waar ek en die seuns graag kuier, is die Al Dhafra restaurant.

Die foto van Wiehann is binne die restaurant geneem. Kyk die kenmerkende palmblaarmure. Die kos is heerlik en ek en Wiehnn kan ook sê moenie die kwartels eet nie en hou verby die oranje stuff op die poeding tafel, maar die Uhm Ali is HEERLIK. Dis 'n Arabiese brood poeding en al eet ek net 'n teelepel vol, skip ek dit nooit.

Toe ek 50 geword het, is hierdie ou foto van my en Riza en Wiehann geneem. Kyk hoe lyk dieselfde hoekie in die sitkamer nou.

Ek het die nuwe foto gisteraand geneem. Ek kan nie glo hoe baie die plant gegroei het in die twee jaar nie. Een van die dae sal ek van Vicky hulle se "duin in die huis" moet gaan haal om my "boom" te plant.