Showing posts with label SA. Show all posts
Showing posts with label SA. Show all posts

Tuesday, May 20, 2008

Alessia

Hoewel ek nie kleinkinders het nie, weet julle wat my bietjie ken, dat ek erg broeis is oor die kleingoed. Ons het sulke mooi foto's geneem van Alessia dat ek darem net so paartjies met julle wil deel. Sy is 'n wakker, nuuskierige en sosiale klein aspatat wat vir baie vermaak sorg. Sy is saam met almal op die stoep en kuier en gesels terwyl sy eintlik moet slapies. Hier sit sy in die skottel bo-op die eetkamertafel sodat mamma Angela haar onder beheer kan kry om te voer. Ek moet bysê dat dit nie eintlik gewerk het nie. Na ete wys sy vir my en Niël die blomme. Sy en ouma Bessie op die stoep terwyl ons wag vir koek en koffie. Riza en Alessia wys vir ons haar "love" tights. Ons geniet haar vreeslik. Een van die dae is sy hier naby en dan sal die F.R.O.G. seker gereeld die pad Dubai toe vat om te gaan kuier en bederf.

Tuesday, May 13, 2008

Kuier saam met kinders... myne en ander

As ons , of van ons, wat hier in die verre lande bly, in Suid Afrika kom, is daar defnitief twee plekke wat ek nie mis nie en dit is Ocean basket en Wimpy... daar is nie 'n plek hier wat sulke lekker ontbyte en Wimpy koffie maak nie. Ek en die kinders het heerlik gaan vis eet een aand. Die kinders selfs rou vis... suchi... en nogal vir my probeer vertel dis net groente. :-). Die fotos sommer net om ons monde te laat water... dis nou die van ons wat net een of tweekeer 'n jaar sulke vis kan gaan eet. Ons het ook een oggend gaan fliek en toe die klompie Amerikaanse studente wat op die oomblik 'n soort diensprojek doen by Riza-hulle se kerk, raakgeloop. Mens kry nou wel nie nazzo's en kaas in Suid Afrika nie, maar die springmielies was ook vir 'n verandering lekker. Na die tyd het ons toe besluit om te gaan wafels eet... by Milky Lane. Die het ons ook nie hier nie, behalwe as mens 170 km ver ry tot by Mercato mall in Dubai. Wanneer laas het ek wafels geeet? En nogal een met my gunsteling malvalekkers met klapper!!! mmmm... Ook maar goed dat ek net so nou en dan die geleenthede kry. Mens se lyf sal dit nie hou nie.
Roxanne en George het ook lekker saam gekuier vir 'n Sondagmiddagete by Angela. Die kinders kuier hier met peuselgoed voor ete ... :-o

Monday, May 5, 2008

Niel se groot dag!! Baie geluk seun!

Ek het met die grootste plesier Suid Afrika toe gegaan om Niel se gradeplegtigheid te gaan bywoon en sooo bly ek het. Ek was nie te verbaas dat Niel nie 'n pak klere aangehad het nie, want dit het ook so gegaan met die matriekafskeid. Die foto is voor die plegtigheid geneem by Unisa se wapen en teen die agtergrond van die Voortrekker Monument by Klapperkop en ai, het dit darem herinneringe teruggebring..... Terwyl ons almal ons sit kry het, het ons na wonderlike sterk klanke van die pyporrel geluister wat ook die prosessie van Akademici ingelei het. Baie indrukwekkend... ek het hoendervleis gehad. Niel se trotse oomblik breek ook uiteindelik aan. Dit was verseker nie 'n maklike aantal jare vir Niel nie, maar die meeste van die studente van Unisa studeer deeltyds onder baie moeilike omstandighede tussen werk en kinders grootmaak. Die kanselier maak spesiaal melding van die feit en bring ere aan veral die baie ma's met die volle verantwoordelikheid van 'n huishouding. Aan die einde van die seremonie maan die Kanselier die graduante om nederig te bly en dit wat hulle geleer het in diens van die gemeenskap waarvan hulle deel is, aan te wend. Daar is onder andere ook vyf doktorsgrade en 'n aantal Meestersgrade toegeken. Tenspyte van die presiesheid van 'n baie formele akademiese plegtigheid,vra die Kanselier aan die einde van die aand dat die studente hulle hoede lig in erkenning aan ouers en familie wat finansieel en emosionele ondersteuning gebied het..... en ons waai terug in trotse erkenning. So gepaste afsluiting vir 'n baie besonderese aand. Ek vertel in my volgende blog van Niel se ervaring van die geleentheid

Thursday, April 24, 2008

Dag een en twee...

En terwyl ek hier sit en skryf, is ek al besig met dag drie... die tyd gaan so vinnig verby. Dit was so lekker om die kinders weer te sien en met blomme begroet te word. Die ongemaklike sit en kannie slaap op die vliegtuig skoon vergete. Ons is sommer reguit na Petwings se kantore om vir die hondjies se vlieg te finaliseer en gesien dat hulle nie net hulle eie hokkies kry wat spesiaal vir hulle gemaak word nie, maar dat hulle ook gourmet kosse gevoer word op die vliegtuig.
Ek moes opsluit eers saam met die kinders huis toe om met die hondjies te gaan begin bond... so sê my dogter. Hulle was baie vrolik en vol dinge en probeer die kat van die kas af kyk omdat sy daar sit en eet en hulle kan nie bykom nie.
Betty dra vier of vyf nuwe klein hondjies en dis 'n goeie tyd vir die tieners om uit die huis te kom dat die mamma kan rustig raak voor die kraam. Ons het lekker saam kos gemaak en gekuier en al die honde om ons...
hier sit Jimmy onder my romp en wat julle nie kan sien nie is dat een van die Chihuahuas ook onder die romptent sit. As dag een hoofsaaklik kinders en honde was was dag twee familie en kerk. Riza lei die praise en worship... (foto's volg) Ek is nog nie heeltemal papprazzi... of mammarazzi nie, maar dis spesiaal vir DJ.
Na kerk het ons heerlik gaan eet en kuier by Angela en Hannes se huis. Hannes het die tafelgebed met sms gedoen en ons het die familie in Dubai sommer baie gemis. Hier sit ons aan die tafel voor die ete en Hannes,
die foto van Angela en Alessia is spesiaal vir jou. Ek het vir Roxanne die drukkie van jou gegee sus. Sy mis jou ook baie.
Ek het baie tyd met Alessia spandeer. Sy is agt maande oud en by dierbaar verby.
Sy het haar behoorlik verkyk aan Niël met die kamera en
by Elriza gesit en speel met die hondjie... wat ook soentjies gekry het. Ek praat sommer gou weer... intussen het ek gaan warm skoene koop want to ek vanoggend wakker word was dit 2... ja twee... (2) grade. Jinne wanneer laas het ek so koud gekry.. Ek hou julle op hoogte. Lief julle almal

Tuesday, December 4, 2007

Ou vriende

Nuwe vriende is silwer en oues goud... so sê die gesegde en dis so waar.Na vyf jaar kon ek weer heerlik saam met Neels en Jandre en kinders kuier. Wiehann het skaaptjops en varkribbetjie en wors gebraai vir ons en met mengelsaai en vrugteslaai en PAP en sous, was dit 'n heerlike SA kuier. Ons kan vrugeslaai maak hier, maar dis baie duur en dan smaak die mangos nie soos die wat van Natal of Nelspruit af kom nie. Ek koop eendag 'n piesang met 'n skil so taai mens moet dit omtrent afbytel... en toe is die piesang hard en frank... galbitter, net om uit te vind dis 'n Indiese piesang wat eintlik gebak moet word. 'n Ander dag het ek vir 'n appel uit die USA Dhs 6 betaal... een appel!! Dis so R11. Selfs groente is duur in die land. Dit hang af of mens "local" groentes koop, of groente uit Indië, of Holland, of USA of Lebanon of Suid Afrika. Soms, net soms... kry mens selfs gem sqaush.
Baie dankie Neels en Jandre vir die pyn en frustrasie van die hoofweg tussen Pretoria en Johannesburg aanpak vir die heerlike kuier. Ons het gesels asof daar geen tyd verloop het tussenin nie.

Saturday, December 1, 2007

Ons meisies kuier

Een van die spesiale dinge van kuier by die huis is as ons sommer so op die ingewing van die oomblik kan besluit ons gaan ontbyt eet en gelukkig werk niemand nie... ek is met vakansie en Angela het babaverlof by die huis en Lorraine is gereed om Dubai toe te kom. Sy wag net dat Roxanne haar laaste vak vir matriek skryf, en die Kollege het gesluit.... so drie geslagte van meisies kon bietjie saam kuier.


Natuurlik is die kleinste ook die een wat die kuier reël en al die aandag kry en op meeste van die foto's is. Ons het mos almal ons beurt gehad van so belangrik wees of hoe. En as daar nog 'n boetie of sussie kom, dan is dit skielik verby en moeilik om te verstaan. Alessia het so effens van 'n rustelose nag gehad en was nie lus vir enige van ons nie.


Net mamma was in tel en solank sy in Angela se arms was, was sy vol glimlaggies. Dis reg poplap. Jy mag maar so voel.


Hierdie foto's bêre mens vir die familie albums. Dis so spesiaal dat ouma en susters en dogter op een foto saam is. Dankie vir elkeen van julle en vir die tyd maak vir hierdie baie belangrike saamkuiers. Mens weet nooit wanneer dit weer kan gebeur nie. En 'n addisionel lekker was regte scones!! Ek weet hoekom my klere so styf sit na die tien dae..

Tuesday, November 27, 2007

Kuns eksamen

Hallo almal, Ek is terug in Abu Dhabi na 'n baie kort en besige tien dae. Maar ek het darem gesien hoe Niël se laaste Unisa kuns praktiese eksamen vorm aanneem... sien seunskind... ek glo dis die laaste eksamen. Volgende jaar kom vier ons jou "graadvang" .

Niël sny patrone uit 'n stuk plywood... met 'n figuursagie.. en die uiteindelike produk is pragtig, maar dit breek uitmekaar. Ek lê lank wakker die nag en wonder wat Niël kan doen want daar is nie tyd vir iets anders uitdink nie.. my seun werk op adrenalien en op nr 99,99 en ons almal se senuwees gee in.

Ek sien hoe hy die patroon teen iets plak en maak die voorstel van 'n perspeks agtergrond. Ek het nie die eindproduk gesien nie, maar gehoor dat die stuk nog 'n paar keer gebreek en gelas en gebreek is maar uiteindelik gehang het en ek sal foto's kry. Ek beter Niela.
Ek was ook beïndruk met die kamofleer tema en die reuse foto's wat uitgsny en teen 'n geskilderde agtergrond geplak is. Riza wou weet wat hy daarmee gaan maak na die eksamen en Niël sê hy gaan dit verbrand... so moeg kan mens raak vir sukkel. Maar Riza stel voor hy hang dit in die jeuglokaal van die kerk en so gesê so gedaan. Maar die lokaal moet nog ontwikkel word.. praat van prentjies sien wat nog in die toekoms lê.
Ek sal foto's stuur van die kuns wat hang daar in Unisa se eksamenlokaal... julle beter vir my foto's stuur kinders. Ons hou duimvas vir die uitslae Niël. Ek wens net jy het twee naweke vroeër begin werk aan die kuns. Ek het ernstig uitgemis op kuier met jou en die kosbare tye met familie wat mens mis, kry jy nooit weer terug nie.... En 'n krises soos ies wat breek kon rustiger herstel word.

En Meis, dan sal ek graag die jeuglokaal wil sien as dit ontwikkel is en die prente hang teen die muur... reg so?