Thursday, October 25, 2007

Ek is nie 'n "clown" nie... al sou ek wou

That’s not funny

Sê die ou wat “clowning” aangebied het vir my oor my poging om vloere te mop soos ‘n “clown”. Toegegee, vloere mop is nie snaaks nie. Ek dink nie dit sal my werk in die Kinderbediening regtig so sleg beïnvloed nie… of hoe?


Toe die tweede ding… “juggling”.
Hy beduie van ‘n balletjie in elke hand en tel dan een…

gooi bal nr een ooghoogte met ‘n boog voor jou oë verby… twee… gooi balletjie nr twee ooghoogte met ‘n boog voor jou oë verby

… drie…vang albei balle…

Ek gooi bal nr een …en my linkerhand los bal nr twee om bal nr een te vang en ek moet buk om bal nr twee op te tel. En weer en weer en weer en….


Die aanbieder sê ek moet by die huis oor die bed oefen dan hoef ek nie so ver te buk om die balle op te tel nie… maar ons moet net oefen… en ek oefen. Ek kom agter my regterhand is nogal oulik, maar my linkerhand het hierdie “vorentoe aangee”.


Op ‘n stadium kyk ek op en sien van die jongmense juggle al met drie balle… wanneer het die aanbieder dit gesê… maar hy kyk so in die rigting van ons ouer mense en sê ons moet maar aanhou oefen met die twee balle… ek het nog bietjie oefening nodig…ok…baie oefening nodig.



Die derde ding… balonne… julle weet daardie dun potlood


balonne wat mens glad nie opgeblaas kry voor ‘n aar in jou kop gebars het en die binnekant van jou mond geskeur het nie. Die aanbieder moes darem die meeste van ons se balonne met so klein pompie kom opblaas… wonder waar koop mens dit..


Toe moet ons ‘n hondjie maak en die ou beduie… en ek maak die draaie maar die oomlik as ek los om die volgende draai te maak… in die ballon praat ek van… dan spring die vorige draai oop… en so raak ek agter. My hond het nie ore nie… of is dit die pote.. ?


nou moet ons ‘n klein balletjie draai aan die anderkant van die ballon wat ons in die ballon indruk en dan binne in afbreek…


ek kry nie eers my vinger uit nie… en ek trek en trek en ek breek die klein balonnetjie af en ‘n stukkie van die hondjie se lyf bars.


Ek is nogal gefassineer dat net so stukkie bars… die res van die ballon is nog ok… maar die periode is verby en die aanbieder gee my sy hondjie… met ‘n meatball in sy magie.. Oulik!!!! Ek weeeet.. (My hondjie is die groene)As mens die vaardigheid kan bemeester, kan mens vir die kinders wys van hoe Jona eers in die skip




en daarna in die vis se maag beland.

Uiteindelik spoeg die vis Jona uit.
Dan bars mens wettiglik die stukkie ballon waar Jona in is.

Ek dink nie “clowining” is een van my vaardighede nie.. Dalk is die aanbieder reg… “it is not funny…”

Die foto is van 'n groep Arabiese jongmense wat die "clowning" kursus kom doen het. Dit bly vir my 'n groot wonder as Arabiere tot bekering kom. Hierdie twee wys die grimering van die "clowns". Soos julle seker weet moet mens ook jou eie "clown" uitdink. Ek wonder hoe ek daarmee sou vaar?




Daar is darem ‘n toepassing vir al die dinge. Klik op die “link” na die Abu Dhabi kindergroep http://www.adkindergroep.blogspot.com/ as julle wil weet wat mens met al die nuwe vaardighede kan doen… Ek het sommer baie nuwe respek vir clowns gekry. Dis harde werk ouens

Sunday, October 21, 2007

Nooit te oud om te leer nie

Van 12-15 Oktober het ek vir die eerste keer in my lewe 'n konferensie vir Kinderbediening bygewoon en ek het begin Sondagskool hou toe Wiehann 4 jaar oud was. Dis nou 22 jaar gelede.Die beste van die konferensie is dat dit so absoluut Internasionaal is. Luister hierna... dis onder die dak van 'n Switserse vereniging/maatskappy met 'n Franse naam... Le grain de blé, en word gereël vanuit Lebanon deur Arabiere... die aanbieders was meestal van Engeland en Skotland, twee van hulle is in Amerika gebore.Dis bygewoon deur 250 mense en as julle na die foto's kyk, sal julle sien dat dit lyk of ons iewers in Asië is. Ons was drie Suid Afrikaners en het lekker Afrikaans met mekaar gepraat. Net in ons groep van Abu Dhabi was daar bv Indiërs,Fillipyne, 'n Amerikaner en 'n vrou wat Russies praat. Nie van Rusland nie. Haar naam is Adriana. Van ons drie Suid Afrikaners is een kleurling. Lekkerbont ... en ek het ook agter gekom die Indiërs is uit verskillende klasse. Sommige meer ordentlik as ander... skuus daarvoor.'n Hele klompie kerke was verteenwoordig. Ek kan nou nie regtig vertel watter almal nie, nie omdat dit 'n geheim is nie, maar omdat ek nie weet nie. Ek kan sê dat die Afrikaanse kerk in Dubai verteenwoordig was, dieArabiese gemeente van Jebel Ali, die Katolieke kerke van Dubai en Abu Dhabi en ECC (Evangelical Community Church) in Jebel Ali, Dubai en Abu Dhabi.
Ons kon kies van die volgende werkswinkels: Ventoloquism (buikspraak),puppetry (poppespel klink nie so reg nie), clowning, praise and worship,Keep Fit (gedink jy sou baie daarvan hou meis), tricks, story telling, drama en hi-tech. Ons kon net drie kies en ek het drama, praise en worship en keep fit gekies, maar op die ou end clowning, story telling en praise en worship gedoen. Ek het een werkswinkel van tricks en een van keep fit bygewoon. So oor die loop van tyd sal ek julle vertel van elke werkswinkel,want elkeen het nogal sy eie storie. Ek weet bv ek sal nie 'n goeie clown wees nie. Ek het dit eintlik vermoed. As julle na die werkswinkels kyk, sal julle ook besef dat om met kinders te werk in die mense se oë deurlopend pret moet wees. Dit is pret, maar harde werk. Ons vergeet mos maar so langs die pad hoe om kinders te wees. Ek was sooooo moeg, maar so opgewonde oor alles. Ek sien uit om alles met julle te deel.

Saturday, October 20, 2007

It is your birthday Sean

***SEAN***



Wishing you a wonderful birthday with lots of nice things to make it a very special day.


May the new year be filled with joy and blessings


Charmaine

Friday, October 19, 2007

Oop ogies

Ons babahonde se ogies is oop.
Ek is so gelukkig om die een te hê wat baie dapper... en honger is.
Gedryf deur 'n magie wat gor, het hy dit uit sy veilige bokskamer gewaag om sy ma te gaan soek.
Gelukkig het hy nie te ver geloop voor sy mamma hom raakgeloop het nie.
Sy voer en lek en troos maar ewe geduldig. Is hulle nie te pragtig nie!!
Die jongste boetie wat die meeste soos Didi lyk is nou gekies en hy sal een van die dae 'n huis hê.
Die oudste boetie het nog nie 'n huis nie en Riza lyk nie te gretig om vir hom huis te kry nie. Intussen kry hulle sommer baie drukkies en soentjies van hulle ounooi.... en mamma Beth.

Thursday, October 18, 2007

Om vir Dee 'n pilletjie te gee

My Dee kat, soos baie van julle weet, het kroniese rhenitis... dis seker nie reg gespel nie, maar nou ja, dis nie waaroor die storie gaan nie. Soms gaan dit beter as ander kere en ek en die veearts probeer hom net gesond en aan die gang hou. Dit gaan goed, moet ek ook nou bysê. Die ou eet en slaap en speel en klim in die middel van die nag oor my as ek net aan die slaap geraak het en alles...
Maar so het ek hom verlede week weer by die veearts en ons praat oor die medikasie. Ek vertel hom dat Dee my haat as ek vir hom medisyne gee, en hy gee vir Dee lewergegeurde pilletjies wat veronderstel is om "smaaklik" te wees. Maar ek vermoed dis omtrent so smaaklik soos die koubare Vit C wat mens se kiewe vir 'n week op 'n knop trek. Ek het een keer pille by die ander veearts gekry vir Dee. Ek het my ook moeg gesukkel om dit vir hom in te gee en eendag sit ek dit op die kombuiskas neer en Dee spring op en EET dit...so, ek sit die pilletjie ewe hoopvol vir Dee op die kas neer en hy lek nogal daaraan. Sal dit nou nie gaaf wees as hy die piletjie eet nie, dink ek, maar die hoop beskaam..
Plan nr 2. Ek vou Dee in 'n handoek toe en sukkel vreeslik om sy bekkie oop te kry, en ek kry dit soortvan reg, en gooi die pilletjie in sy keel af. Hy spring af en laat 'n bloedsteep op my arm... die pilletjie lê op die bank. Ek probeer weer... nou is daar 'n bloedstreep oor die ander arm en die pilletjie is sopnat en lê weer op die bank.

Dee is passief aggressief... hy swiep swiep sy stert en gaan sit en sulk voor die venster. Hy roer nie eers sy ore toe ek hom roep nie en kyk nie om nie... heeltemal doof befoeterd.

Ek moet winkel toe, so ek besluit ek sal droëwors koop en die pilletjie daarin sit. So gesê so gemaak, maar Dee ruik ruik net aan die droeëwors. (Hy dood oor droeëwors.) Normaalweg as ek die pakkie in die kombuis oopmaak kom Dee gly gly om die hoek om te kom bedel.
Ok, plan nr vier ... ek druk die pilletjie fyn en jinne dit stink... ek begin verstaan wat Dee se probleem is. Ek maak die wors fyn en rol die pilletjiepoeier binne in toe. Dee gee net 'n sug. Hy ruik dit sommer op 'n afstand. Dit was nie so goeie plan nie. Ek probeer vrede maak met 'n skoon stukkie droëwors. Hy stel nie belang nie. Hy kom lê nie eers op my skoot soos altyd nie.
Plan nr vyf: Sandra kom iets haal en ek gee vir haar tee en Dee en die handdoek en die pilletjie. Sy tel Dee op, draai hom toe, maak sy bekkie oop en gooi die pilletjie agter in sy keel en siedaar... en Dee het stilstuipe. Hy steur hom nie aan ons nie en gewoonlik is hy nogal baie prominent deel van die geselskap.
Teen die aand hoop ek alles is vergete, maar Dee gaan lê in die hoekie op die bank en nie bo op my soos gewoonlik nie. Selfs toe ek bed toe gaan steur hy hom nie. En vir twee dae eet Dee NIKS. En hoekom kommer ek daaroor? Want die veearts sê hy het 'n halwe kg verloor die afgelope jaar en ek moet hom bederf dat hy dit kan optel... waarmee? Hy eet nie sagte kos nie en nou wil hy nie meer droeëwors hê nie. En Riza waarmee gaan ons hom nou uit jou kamer lok?

Nou vra ek raad... hoe gee mens vir jou kat 'n pilletjie?

Wednesday, October 10, 2007

Baba honde seuntjies

Ons het meisie mensebabas en seuntjie honde babas en as ek iets oor die meisies sê dan kan ek nie van die seuntjies vergeet nie.
Die goetertjies is nou 'n week oud en word baie gou groot. Beth tel mooi gewig op en haar pelsie blink, so als wel.Net pa Tavid wat so bietjie verleë lyk. Hy mag nie in die boks by ma en die babas nie. Foetog. Riza vertel darem sy gee so bietjie ekstra aandag aan hom. Yes I know DJ, problems hey :-)
Die een met die kolletjie op die kop is MYNE (baie dankie DJ en Riza) en sy naam is Didi. Hy is 'n monster, sê ounooi Riza. Hy skree die hardste, eet die meeste en loop sommer agter Beth aan aan sy haar draaitjies loop.
Hier is Beth besig om haar oudste se doek om te ruil. Die arme ou staan omtrent op sy kop.
Sommer net lekker om te kan sê dit gaan goed met die hondegesinnetjie. Riza kan nie wag dat hulle ogies oopgaan nie en ek vermoed sy weet nie wat wag as die kleuters begin rondhardloop nie, want Sandra gee raad en sê Riza moet solank 'n campcot gaan soek vir daardie fase... of 'n playpen...

Monday, October 8, 2007

Pappas en babas, ooms, tannies, en sussies

Ons twee nuwe meisie babas is nou al 5-6 weke oud. Ek het nie foto's van klein Xenia geplaas nie,



maar hier is die klein pop by haar tannie Erika en pappa Andre


en sussies Ilke en Amica.

Xenia beteken "hopitable, friendly, kind, caring..." soos Elriza gesê het, 'n regte ou dogterjie. Ek wag nou vir foto's van die gesiggie en die ogies en die glimlag... ja, eintlik sou ek haar net 'n ou drukkie wou gee. Elma sê sy lag al vir hulle.
En hier is ons klein Alessia.... en soos haar naam sê is sy besig om almal se harte te wen.
Hier is sy saam met haar pappa
en oom Sean... en vas aan die slaap.. en met oop ogies vol verwondering. Lorraine sê sy kan nie daar wegbly nie en Niël sê sy het haartjies swart soos roet en 'n mondjie rooi soos bloed... ons eie klein Sneeuwitjie.. of Sleeping Beauty. Nes ons wil.

Hier is 'n bederf video'tjie wat ek van Lorraine gekry het. Wat sal ons sê? Alessia begin vroeg oefen om te kruip... een beentjie werk mooi saam, die ander voetjie klou vir die vale...

Geniet die klein mensies en die vreugde wat hulle bring.

Lief julle almal