Friday, October 5, 2007

Wanneer geen nuus nie goeie nuus is nie

Ons weet die spreekwoord sê geen nuus is goeie nuus, maar dis nie altyd waar nie. As julle tussen die lyne van die vorige post gelees het, sal julle besef dat DJ en Riza en die geen kontak wat amper twee dae geduur het, nie goed was nie. DJ sou nie die ongeluk sonder Vader se genade en beskerming oorleef het nie. Riza kan nie kontak maak nie, want daar is nie genoeg geld op haar foon vir 'n oproep nie en dis nag, haar ma slaap en kannie help nie. Eunice het my probeer bel, maar ek was in die middel van 'n onderhoudsessie en kon nie antwoord nie. DJ en Riza was dus nie regtig gereed vir die volgende groot eis, die geboorte van Beth se eerste werpseltjie nie. Meer as dit, moes hulle ook groot teleurstellings verwerk.

Ek praat met Wiehann want die man is stil, en besig om sy bes te doen om sy doelwit vir die maand te bereik. Dit is 'n nuwe area en dit nie so maklik nie. En naweke wil mens mos ontspan.

Willemien skryf nie meer nie, want daar is te veel eise en seer om te verwerk. Jy is baie in my gedagtes...


Ek hoor nie van Niël so gereeld soos ek wil nie, want hy reis vir werk. Baie spanning omdat die Unisa kuns lê en wag by die huis, en wanneer rus mens.

Hannes ek sou so graag meer van julle ook wou hoor. Ek weet daar is spanning oor die werk saam met die heerlike besig wees van 'n baba in die huis.

Lorraine is besig met ma se woonstel en Roxanne skryf matriek eksamen en die spanning kan maar hoog loop. Julle is so in my gedagtes


Elma stuur nie haar gereelde weeklikse briefie en nuus nie, want haar vriendin se man is dood en sy gaan ondersteun by die begrafnis.

Adelle skryf nie want sy het 'n operasie gehad. Ek dink aan jou Adelle.

Ina is siek en al die mails wat ek stuur kom terug met daardie boodskap. Ek weet nie of jy die blog lees nie Ina, maar ek dink aan jou en bid vir jou.

Hoef ek meer te sê?

Maar Elma het vir my die mooi mail gestuur en ek deel dit graag met julle almal.

One day a mother died. And on that clear, cold morning, in the warmth of her bedroom, the daughter was struck with the pain of learning that sometimes there isn't any more. No more hugs, no more lucky moments to celebrate together, no more phone calls just to chat, No more "just one minute." Sometimes, what we care about the most goes away. never to return before we can say good-bye, Say "I Love You." So while we have it . . it's best we love it . . And care for it and fix it when it's broken and take good care of it when it's sick. This is true for marriage .... and friendships .. And children with bad report cards; And dogs with bad hips; And aging parents and grandparents We keep them because they are worth it, Because we cherish them! Some things we keep -- like a best friend who moved away or a classmate we grew up with. There are just some things that make us happy, No matter what. Life is important, and so are the people we know . And so, we keep them close!

DJ het eenkeer 'n mail gestuur wat sê "if the Devil can't make you bad, he will make you busy". Soms moet ons maar net "time out" neem, want dit kom nie na ons toe nie, gaan sit en kontak maak en iemand se hand vat, dan is die pad nie so moeilik en alleen nie.

Lief julle almal

Thursday, October 4, 2007

Jy is 50!!!!

LORRAINE



Baie geluk met jou 50ste verjaarsdag my sus. Ek hoop die volgende half eeu gaan vol heerlike verassings en vreugde wees. Mag jy Vader se vrede elke dag ervaar en daar 'n lig op jou pad skyn. Hê 'n wonderlike dag!!

Baie liefde

Jou Sus

Monday, October 1, 2007

Babas!!

Die dag wat Tavid en Lady Beth se babas besluit om te kom, is ook n dag na DJ se ernstige motorongeluk (waar hy onder Vader se genade nie ernstige beseer is nie) en die dag wat die Vodacom stelsels oppak en Riza en DJ nie kontak kan hê nie. DJ wil graag ondersteun en Pete leen hom sy T-phone met GPRS/Edge Card (dankie vir die Hot Spots - waarvan ek geen idee het nie) en ouma en oupa is gereed om te help met die kleinkinders se geboorte.

Toe Pete van die hospitaal af kom nadat hy die foon vir DJ geneem het, wou almal weet hoe dit met hom gaan en Pete sê vir Eunice "DJ is having babies". Die tweeling het dadelik die konneksie gemaak van babas en hospitaal, want hulle mamma gaan ook 'n baba hê en was baie opgewonde om vir DJ in die hospitaal te gaan kuier om die babas te gaan sien... :-) Ek hoop DJ het toe vir hulle foto's kon wys. Ek wil graag wil hoor wat die twee manne gesê het.

Ek het gister vertel dat Lady Beth so teen middagete in haar kraamboks gaan klim het en na amper 'n uur, verskyn 'n pootjie. Arme Beth, bruggeboorte. Maar dit gaan goed en die eerste reuntjie word gebore. Hy lyk soos pappa Tavid met die swart streep op die ruggie en Beth hou hom styf vas en lek hom totdat hy ernstig begin protesteer.

Na omtrent nog 45 minute kom nommer twee, koppie eerste. Hy het baie wit oor die lyfie en 'n kolletjie op sy kop. Die mamma hanteer die kleintjies baie goed en die twee boeties lê styf teen mekaar teen Beth se lyfie. Nr drie is oppad. Daar gebeur niks vir 'n hele lang ruk... te lank... die kleintjie sit vas en Riza moet help. Dis nog 'n reuntjie, maar hy is dood. Groot hartseer en trane, maar DJ ondersteun en Riza kan nie nou ingee nie want nr vier is oppad.


Weer voetjie eerste, hy skop en Riza gee kans dat Beth haar werk doen, maar dit neem te lank en die voetjie skop nie meer nie... Riza moet help en dis nog 'n reuntjie, maar hy lê doodstil. DJ gee raad en ondersteun en Riza vryf en daar is 'n skree... hy leef.


'n Baie moeë mamma Beth neem oor en doen haar lekwerk. Riza sorg dat die laaste van die nageboortes uit is en maak seker Beth en die kleintjies is rustig. Dis meer as vyf ure later.

Tavid het ook ingeloer en langs Riza gesit en alles gade geslaan. Hy het vir almal en alles geknor wat naby die Beth en die kleintjies kom. 'n Trotse en baie beskermende pappa.


Die storie is nog nie klaar nie want toe ek gister oggend "inloer", hoor ek dat mamma Beth en aldrie kleintjies by Riza op die bed geslaap het... kan jy nou meer

Gelukkig is die Vodacomstelsels teen die aand ook weer herstel. Eind goed als goed.

Friday, September 28, 2007

Tavid en Beth

Die tweetjies wag vir hulle vier nuwe babatjies wat gebore is op 27 September en julle sal soos ek, moet wag vir die foto's. Lady Beth is baie groot en ongemaklik en lê lekker op die naat van haar ruggie op haar ma se knieë. Sy en Tavid sit op die kussing voor die verwarmer en sy kry 'n soentjie.
Die kraamkamer is ook gereed. Riza vertel dat sy aanvanklik niks van die "kraamboks" wou weet nie. Riza het 'n beentjie binne in gesit vir Beth en sy het ingesluit en die beentjie gegryp en laat spat. Maar die afgelope week was sy gereeld in die boks (Beth, nie Riza nie) om te sien of alles reg en en gistermiddag so teen middagete het sy gaan lê om te kraam.. Baie slim vir 'n eerste keer mamma en so jong hondjie.

Thursday, September 27, 2007

Iftar

Iftar, soos julle seker weet, is die tyd van die dag tydens Ramadan wanneer die mense die vas breek en vreeslik aan die eet gaan. Dis nie veronderstel om so te wees nie... die groot eet bedoel ek, maar nou ja, ons almal doen baie dinge wat ons nie veronderstel is om te doen nie. Maak nie saak of ons Moslem of Christen is nie.

Ek moet ook net eers kla oor Ramadan. Mens mag nie kougom kou of water drink of eet en natuurlik dat ook nie tee en koffie nie, van die son opkom in die oggend tot die son sak in die aand. Dit geld natuurlik nie vir as ek terug is by die huis nie. Dan maak ek soos ek wil. Ons kombuis by die kantor se deur is toe, maar nie gesluit nie en ek voel soos 'n koshuiskind wat kondensmelk steel as ek daar insluip en saggies die ketel kook vir 'n koppie tee, so ek hou maar uit. En weet julle dat mens kan tronk toe gaan as hulle jou vang een van die reëls breek in die publiek? Al die lekker koffiedrink as mens gaan inkopies doen of 'n koeldrank in die kar drink van die winkel af oppad huis toe, is uit!! Tot Ramadan verby is. En dit hou nog aan tot middel Oktober... ai tog.
Moet julle so bietjie van die interessante van Iftar vertel. Ek sit by die Dolfyn fontein op die Cornish en

wag vir die kinders van die kindergroep vir ons eerste byeenkoms van die jaar.

Dis doodstil in die park, want die mense is besig om te bid by die huis. Terwyl ek wag hou daar 'n motor stil en ek waai, want ek dog dis van ons kinders, maar toe klim so jong Morokaanse meisie uit en kom bied my so soet eetdingetjie aan. Ons is altwee taai van die stroop en sy skeur die helfte van my nat jammerlappie af om haar hande af te vee. Ons kommunikeer met uhm? en Oh!... want ons verstaan mekaar nie, maar sy het in die gees van Ramadan uitgereik na my. Seker gewonder wat doen die arme vrou so alleen op haar matjie in die park.

Maar ons het ook 'n deftige hotel Iftar gehou by die Hilton saam met die vrouens van die omgeegroep. Ons was te veel vir 'n jong Arabiese egpaar met 'n baba. Hulle het die kelner gevra of hulle maar by 'n ander tafel kan gaan sit.. Ja, ek verstaan, want ons spul vrouens kan kekkel en Emily het ook ewe vriendelik op haar toonties gaan staan om na die baba in die stootwaentjie te loer. Die mense mag hulle nie besmet deur kontak te maak met ons Westerlinge nie. En ek HET myself mooi aangetrek vir die okkasie... en my hande gewas.

Ons het heerlik geeët en gekuier. As dit Iftar is, is Ramadan nie so sleg nie.

Ek wonder net oor die waarde van die vas as mens met tronkstraf gedreig word as mens die reëls sou oortree. Wat sou mens nou aan wie bewys?

Saturday, September 22, 2007

Geen verskonings

Ek het al soveel keer foto's gewys van die wonderlike mooi tuine en plante en malls en dinge wat mens heeltemal kan laat vergeet dat jy eintlik in die woestyn is.... tot mens uitstap buite toe... maar die punt wat ek wil maak is dat hierdie land het my geleer dat niks 'n goed genoeg verskoning is om nie die mens te word wat Vader ons geskape het om te wees nie. Daar is soveel bewyse van hoe mense die ontmoontlike oorkom in hierdie land. Ek deel so paar met julle.

Mens sou dink dat dit 'n goed genoeg verskoning is om nie pogings aan te wend om tuin te maak waar daar net rotse en klip is nie, en meer nog, waar die temperature maklik bo 50grade C klim in die somer ... maar nie in Al Ain op Jebel Hafeet nie. Die ou Sheikh het net eendag gesê hy wil gras hê en die mense moes plan sien. Die eerste foto is hoe die berg lyk

en die tweede foto is van 'n deel waar hulle begin het om gras te plant.
Vicky en Greg hoe gaan dit met julle grasplantery?


Mense sou ook as geldige verskoning kon gebruik dat dit VREESLIK warm is en daar geen parkering by die Moskee is nie en dit heeltemal onmoontlik is om te gaan bid, maar in die land is daardie verskoning onder die mat ingevee. Mens val behoorlik oor die Moskees. Ek wens ek kan vir julle uitvind hoeveel Moskees daar in die UAE is en ek dink ons ore sal toeslaan. Net in die blok waar ek bly is daar vier waarvan ek weet, want nou die dag toe ons in een van die klein straatjies ry opsoek na Ramadan tente vir foto's, het ons klein Moskeetjies agter mure sien wegkruip. Bid sal hierdie mense bid!!! Geen verskonings.
Die moskee voor die gebou waar ek werk
in die oase in Al Ain

op dieselfde pad tussen Fudjeirah is daar 'n kleintjie en 'n grote

die kleinste oudste enetjie in Fudjeirah
Die een in Dibba

As jy drome het, kan dit waar word, mits dit ook Vader se plan vir jou lewe is. Niks is onmootlik nie... glo my. Ek sien dit elke dag in die land om my. Dis genoeg om mens jou verskonings te laat sluk. Of hoe?

Lief julle

Wednesday, September 19, 2007

Einde beteken 'n nuwe begin

Ek het die week die mooiste mail van Niël ontvang oor die lente in Johannesburg. Te midde van al die beton en teer en taxis en toeters, staan die bome die stad vol. Stil getuies van baie dinge oor 'n paar honderd jaar. En nes mens dink die bome is dood, dan is daar die wonderlike bewyse van lewe in bloeisels en botsels. Ja seunskind, dit laat mens weet dat Vader onveranderd is en dat Hy oor die kleinste dingetjie beheer het en altyd teenwoordig is. Wat ons ookal doen.


Dinge kom tot 'n einde Ek het so paar voorbeelde
My Dee kat het weereens my nuwe skoene opgeeët. Dis nie die eerste keer dat ek 'n paar skoene met rubber sole so weggooi nie. Die eerste paar het dit nie eers uit die inkopiesak gemaak nie. Dee het dit sommer binne in die sak gaan stukkend byt.

Ek het nou 'n besluit geneem dat rubber skoene nie meer 'n opsie is nie. Ek het die seeskoene wat in elk geval die sand baie beter buite hou. En Dee eet hulle nie.

My Weeping Union het dit toe nie gemaak nie en hieroor is my hart regtig seer.

Maar toe kry ek twee mooi pienk rose persent en toe ek die knoppe afbreek vir droog, sien ek die uitloopsels. Sou ek uiteindelik 'n pienk roosboom aan die groei kon kry? Of 'n patat?

Kyk hoe gaan die son onder oor die see hier in Abu Dhabi. Ja ouens, dit is see. Die woestyn uitgawe van see het nie branders nie, maar BAIE meer sout!
Elke dag kom tot 'n einde, maar dit beteken ook dat 'n nuwe dag gaan begin. en met elke nuwe dag kom die geleentheid om nie gister se foute te herhaal nie. Daar is dae wanneer ek voel... "sak son, sak!!!" Ek doen my bes dat die son nie opkom oor nog so dag nie. Is dit wat die Skrif sê: '"Moenie laat die son sak oor ons verskille nie?"

Lief julle almal