Friday, January 11, 2008

Gold class

Mens kan so meer af as toe mensself bederf met 'n fliek in "gold class" en dan op die heerlike gemaklike stoel aan die slaap raak en 'n stuk van die fliek mis. Die kaartjies is Dhs100 stuk en Niël vra of dit 'n ete insluit... :-) nee, maar die kelner kom neem mens se bestelling vir eetgoed en kom bedien dit by die sitplek. Ons het gereken om nazo's met kaassous te eet, maar hulle het spesiaal vir gold class hierdie bord met nie net nazo's en kaas nie, maar ook tamatie en advokado en allerhande ander lekker goedjies wat mens nie in die donker kan sien of identifiseer nie, behalwe as mens perongeluk 'n chilli raakbyt. :-o Vir my persoonlik is dit 'n groot luukse maar groot mors van geld want ek KANNIE my oë oophou as ek eers op hierdie sagte seemsleer stoel my sit-lê gekry het nie.

Wednesday, January 9, 2008

Die Moskee

Van ek hier in Abu Dhabi gekom het.... en lank voor dit, was hulle besig om aan die moskee... die vierde grootste in die wêreld en wat die naam van die vorige Shiekh, Zayed bin Sultan Al Nahyan dra, te bou en ek het baie dae gewonder wat vat so lank.

In hierdie tye sal mens 'n konstruksie perseel sien die een dag en 'n maand of so later, staan daar 'n gebou. Toe vind ons uit dat daar nou besoekers toegelaat word en ons spring in ons sheilas. Ons moet lang mou lang rokke/rompe dra en al ons hare moet bedek wees en dan natuurlik kaalvoet... Maar dis reg. Niël was net so opgewonde om die moskee van nader te gaan bekyk, maar jinne ouens, niks kon ons voorberei op wat vir ons gewag het nie.

Hierdie is die baie indrukwekkende ingang en geen manier om 'n foto te neem wat alles inpas nie. Elke sentimeter van die moskee is met marmer bedek.

Daar is marmer blomme ingelê in die mosaïek en marmer op die vloere... of die binnehof dan.

Daar is ook reliëfwerk teen die mure en hierdie pragtige pilare met die blommetjies wat in die pilaar ingelê is.

Die mat in die hoof bidlokaal, beslaan twee rugbyvelde en is die grootste ter wêreld.

Daar is 'n paar van hierdie reuse kandelare en dis heeltemal onmoontlik om dit in 'n foto vas te vang. Dit is net eenvoudig onbeskryflik.

Die houtpanele is hier en daar teen van die mure en sal dalk ook simboliek hê en die blomme wat in die houtpaneel ingelê is, is perlemoen.
In die middel van die hoofbidlokaal is kolomme pilare wat so vier vier bymekaar staan

met hierdie pragtige geel blommotief in die middel. Dis waar die ouens die Koran kan sit en lees.

Daar is ook hierdie "swembaddens" om die moskee en ek het gewonder of dit vir voetewas sou wees??

Die mense is steeds besig om die mosiëk in die binnehof te lê.

En buite is die tuine onder konstruksie. Sandra se navorsing sê dat 40,000 mense in die binnehof geakommodeer kan word en 5000 in die hoofbidlokaal... wow!! Klik op die link na Sandra se blog. Sy het 'n klomp baie interessante statistiek oor die moskee.

Die gedagtes wat by my opgekom het is dat ons as Christene nogal nie sulke kerke meer bou nie. Dawid wou so graag vir God 'n tempel bou om Hom te eer en onthou God se antwoord? Die aarde is die voetbank van sy voete. Hoe sal ons vir Hom 'n huis kan bou..... maar as ons as mense instaat is om soveel prag en praal te skep op aarde dink net hoe die stad van goud, die nuwe Jerusalem sal wees!

Monday, January 7, 2008

Piekniek in die park

Dit is Niël se laaste oggend hier in Abu Dhabi en terwyl hy regmaak om op die vliegtuig te klim later vandag, deel ek een van ons Abu Dhabi winteraande met julle. Daar is nog 'n paar stories en foto's wat ek sal plaas al is Niël dan al weer terug in Johannesburg. Ons eintlike plan was om iets te koop om te eet in die park langs die cornish en dan 'n end langs die see af te stap. Maar as mens partykeer 'n halfuur lank om en om 'n plek gery en parkeerplek gesoek het en dan vasgevang raak in verwonderling oor al die duur en mooi goeters as mens 'n toilet gaan soek in 'n soort luukse uithang winkel vir die rykes onder die woonstelblok langs Pizza hut, dan voel mens amper asof jy genoeg "fun" gehad het vir een dag.Ek het foto's geneem van hoe die son ondergaan. Kyk hoe mooi is die lug en hoe weerkaats die son se goue strale van hierdie gebou langs die cornish. Dit lyk of daar 'n vuur brand in die middel van die fontein.... en eendag as ek groot is en meer soos 'n regte fotograaf met die kamera om my nek kan loop, dan wil ek 'n kamera hê wat die waterdruppels kan vasvang. Intussen moet mens maar verbeeling ook gebruik.Niël het al ons kos mooi uitgepak en ons is reg vir die fees. Ons het toe nie langs die cornish afgestap nie, maar huis toe gegaan vir 'n lekker koppie tee en 'n mooi dvd. Lief julle almal...

Friday, January 4, 2008

Oujaarsdag in Abu Dhabi

Ek en Niël besluit toe om die oujaar rustig alleen saam af te sluit
en so is ons na dieselfde restaurant as waar ek en jy verlede jaar was Riza... die Royal Orchid. Die restaurant bedien Thai-, Chinese-, en Mongolian kosse, maar vir Kersdag en Nuwe jaar het hulle 'n buffet wat so iets van alles insluit.
Ons kon kies tussen alkohol vrye wit wyn en rooi wyn maar toe kom sê hulle vir ons hulle is uit witwyn. (Nou moet ek eers 'n nuwejaarsdag storie so tussenin gooi.... die mense aan die tafel langs ons sin by die Meat and Co in Dubai, waar ons 'n laat middagete gaan eet het op nuwejaarsdag, bestel "three cheeses" bord saam met koffie en die kelner, 'n Suid Afrikaanse swart man uit Johannesburg, sê vir die mense " no, don't order the three cheeses because we only have two cheeses left") en hoe klink tempura groente en chilli prawns, mango slaai en springrolls, of gekrummelde hoenderborsie fillet?
Dan eend met lietjies en tender loin met vars groenpepersous, of hoender met gemmer en hamour... dis vis.... met so soet suur degie.... bedien op "fried rice" of gestoomde witrys. Daar was ook gestoomde groente en die wonderlikste "crisp spinach". (Dis 'n resep wat ek graag sou wou hê.)
En dan eksotiese vrugte en mango mouse, dadelrolletjies met sjokolade sous! Iemand al ooit Thai jellie geproe? Baie eienaardige stukkies deurskynende jellie wat saam met vrugte in so waterige, maar baie lekker sousie, dryf. Ek hoef nie te sê ons het eintlik bietjie te veel geeët nie nê?
Ons besluit dus om nie so dadelik huis toe te gaan nie en gaan maak 'n draai by die pretpark by Marina mall. Ons sien sommer dadelik geleenthied om vanuit die groot wiel dalkies fotos van Abu Dhabi te neem... waarvoor my kamera eintlik te basies is.
Niël se foto's is bietjie beter, maar kyk net die mall, Abu Dhabi cornish... die Breakwater cafe en ver op die horison die Emirates Palace hotel.... maak sulke skrefies oë. Ons het ook spookasem geeët, ek weet, op ons vol mae, maar mens kan mos nie "rides" doen soos by die Bloemfonteinse skou uit my skooldae... en nie spookasem eet nie. Baie lekker, vol, taai en opwindende afsluiting van die jaar 2007.

Tuesday, January 1, 2008

Die Emirates Palace hotel

Mens kan nie besoekers hê en hulle nie die paleis hotel gaan wys nie.
Dis darem net die heerlikste luukste ervaring om koek met goue vlokkies op te eet met 'n silwer vurkie en met 'n damas linne servet mens se mond af te vee. My en Niël se tee en een stukkie koek, het meer gekos as ons altwee se middagetes paar uur later, maar op die stadium laat hulle nog besoekers toe sonder dat dit ons geld kos. Selfs 'n besoek aan die badkamers is 'n ervaring en uit die aard van die saak het mens nou nie foto's nie, maar Niël het met so geammuseerde uitdrukking uit die badkamer gekom en gesê mens moet net keer of die ouens droog meer as mens se hande af... Niël het die foto's geneem en ons deel dit graag met julle.
Die beste manier om 'n foto te hê van die hele hotel is om die skildery af te neem wat in een van die gange hang. Die foto is baie donker... ongelukkig. Self die matte met 'n nag - en dag toneel van die paleis is te groot vir die kamara se lens.
Ek wonder of hierdie kersboom dalk die grootste in Abu Dhabi was die jaar? Die baie goud in die portale (binnehowe sou mens kon sê) van die hotel, laat so oranje gloed op die foto's, of so dink ek maar. Oubaas is ek reg?
Hierdie is 'n soort Gazebo... sou mens so iets 'n naam soos Gazebo kon gee? Waarvoor hulle die plek gebruik weet ek nie. Dit lyk vir my of mens 'n nuwe jaarsdans of onthaal hier kan hou.
Niël het ook baie mooi foto's van Abu Dhabi cornish geneem uit die hotel se vensters
en pragtige foto's van die buitekant van die hotel en fonteine en tuine... geniet. Ons het. Lief julle almal.

Sunday, December 30, 2007

Nog bietjie nuus oor Niël se kuier

Die nuus was maar stadig so oor die naweek, want ek was totaal sonder internet nadat my dial up uiteindelik nou iets van die verlede is en ek by die geledere van die "cable" konneksies aangesluit het en nou sommer permanent aanlyn is. Ons het Kersdag gevier ouens... en die groot buffet gaan eet by die Beech hotel. Ek sal dalkies apart daarvan vertel, maar net as dit miskien klink of alles oor kos gaan, vertel ek eers van Al Ain

Ons is vroeg oggend al deur om in die hotel op die berg, die Mirage, te gaan eet, maar was te laat vir die buffet. Nogtans 'n heerlik ontbyt gehad wat gehou het tot koffietyd. Ons is die berg op tot bo, mens doen dit so, maar kon nie regtig foto' s neem nie omdat die lug te vol stof was en dit was KOUD op die berg!! Ons het vinnig 'n draai gemaak by die plek waar die BAIE warm water uit die berg kom maar kon nie foto's neem nie omdat daar Arabiese vrouens was. Niël het sy voete in die baie warm water gehad. Ek moet tog uitving hoeveel grade die water is, maar glo my, dis te warm om in te bad.

Ek het darem 'n mooi foto kon neem van die uitsig op die berg met die fontein en groen grasperke op die voorgrond.
Daarna na die Palace museum. Daar is soveel slaapkamers en elke slaapkamer het sy sitkamer gedeelte.

Dan ook 'n koffiekamer en ouens....

ek het die kombuis gesien waar die m.... groot potte waarvan ek julle lank terug vertel het, op die houtvure staan. Mens sit nie die potte op 'n stoof nie, weet ek nou.

Die Sheikh se eerste Jeep staan voor die paleis.

Die banke in die privaat skoolkamer waar die seuns geleer is om te lees lyk vreeslik hard en ongemaklik... soos skoolbanke behoort te wees. Die wag by die hek het graag vir ons posseer vir 'n foto.

Ons is ook deur die oase en Annie en Sandra, die keer het ek die regte hek en ingang gevind. Ons is by die Al Ain museum en fort ook in en in teenstelling met die gras en plaveisel in die paleis musem, is hier nog regtig sand soos dit moes wees. Die palmtakkamers lyk ook soos dit toe gelyk het. Ons het probeer foto's neem van die foto's oor hoe Abu Dbabi in die sestigs gelyk het. Kan mens die transformasie glo!!

Na die besoek aan die museum waar Niël regte Arabiese koffie kon drink en in 'n regte Arabiese tent kon sit, was ons baie reg vir lekker koffie in die Rotana hotel.
Kyk die mooie kersversierings.
Laaste foto's oppad terug van die woestyn. Al Ain is altyd 'n baie interessante plek vir besoekers en selfs vir my elke keer 'n plesier.

Wednesday, December 26, 2007

Niël is hier!!!

Ek het Niël gister op die lughawe gaan haal en die vliegtuig was nie te laat nie. Niël was maar taamlik vodde en het net gebad en toe gesê ons moet maar gaan inkopies doen en speel, want as hy aan die slaap raak kry ek hom nie weer wakker nie. So is ons twee Al Whada mall toe. Riza, die mall is nou so mooi, dalk sal hy Marina mall nou top in jou aansien. En Wiehann, jy moet kom kyk.
Elke mall het nou een van hierdie reuse kersbome. Niël is verdwerg aan die onderpunt van die boom... kyk mooi.
By een van die "allerhande stuff" winkels, staan hierdie ou butler. Niël haal 'n brosjure uit die skinkbord en die butler begin so bewe... hy sit toe sommer die brosjure weer terug... ek het so gelag.
Ons het bietjie kersinkopies gedoen en toe huis toe gekom en terwyl Niël geskenke toedraai, het ek aandete gemaak.


Ons het by Sandra se huis Nativity story gaan kyk. Dis 'n wonderlike fliek wat oukersaand baie spesiaal gemaak het. Marine en Emily was ook by ons en die klein meis het soos altyd, vir groot pret gesorg. Welkom seunskind! Dis lekker om jou hier te hê.