Wednesday, July 30, 2008

Liedjie van lank lank gelede

Die woorde van die liedjie op die silly video'tjie kliek hier om te sien is nerens ander beskikbaar as in my kop nie en nee, ek het dit nie geskryf nie. Ek ONTHOU dit van my Sub A jaar af... amper 'n halfeeu, regtig ek is ernstig, gelede, toe ek in Truida Kestel Meisieskool in Bethlehem in die goeie Vrystaaat begin skoolgaan het. Ons het 'n koormeester gehad wat of by Truida Kestel skoolgehou het, of die skool net gehelp het met musiek, kan daardie detail nie meer onthou nie. Sy was Nonna Theron en sy het 'n revue vir die skool gedoen en al die musiek self geskryf vir al die kinders van Sub A tot St 5.... en die choreografie gedoen. 'n Ongelooflike talentvolle vrou... Sien die prentjie.... dogtertjies met bont dogtertjie rokkies aan huppel tussen 'n klomp blommetjies deur wat vooroorgebuig sit met hulle blomgesiggies op hulle skote. Die kindertjies buk by elke blommetjie en huppel dan verder terwyl hulle sing:



Dis lentetyd kom uit kom uit liewe kleine blommetjies. Dit duur so lank en ons is bang jul kom nie kleine blommetjies.


Dan lig die blommeties hulle koppies op en sing:


Ons kom ons kom wees nie so dom liewe kleine kindertjies. Dis nie meer lank en ons kom aan... ons kom tog kleine kindertjies.


Dan eindig die storie waar die dogtertjies en blommetjies handjies vat en saam huppel en sing dat die lente met ons is... oulik ne? Ek wonder of daar iemand is wat hierdie blog lees wat ook daarvan onthou. Ek was 'n blommetjie met sulke groen kleertjies aan en blomblaartjie om my gesig wat met 'n rekkie agter my kop vasgemaak het en my hare so getrek het...



Ek onthou ook die revue vir van die ouer kinders... wou so graag groot wees, want hulle het 'n hen en eiers en meel en melk en ek weet nie wat alles gehad nie en die hennetjie sing... kekeleke kekeleke ek het 'n eier geleeeee ens ens... en dan sing die koei en die hen en die koringaar elkeen hulle eie liedjie en dit kan ek ongelukkig nie meer onthou nie, maar op die ou end sing hulle ook almal saam.... is dit wat jul wil he om soetkoek van te bak, neem dit met jul gemak tralalalalalala :-0 .... kan mens nie maar weer klein wees nie?

Friday, July 25, 2008

Hallo en totsiens

Alle dinge kom tot 'n einde weet ons almal en deel daarvan is dat as een ding verby is, is dit die begin van 'n volgende. Die dag toe ek Riza groet aan die einde van haar vakansie, hoor ek ook ek is uiteindelik, na etlike maande se wag, oorgeplaas van die streekkantoor na hoofkantoor se bemarkings afdeling.Ek het mooi totsiens se geskenke ontvang. Met hierdie oorlosie aan sal ek moet gaan opera of ballet kyk of hoe? Ek het ook vouchers persent gekry waarmee ek die stoomyster, wat soos 'n alien lyk, gekoop het. En is ek in my skik.. dis nou 'n luukse wat ek nie uit my eie sak sal koop nie. Die hondjies hol vir hom weg... en so van hulle gepraat, ek moes hulle vier dae lank sonder die besige skepseltjies klaarkom terwyl ek kursus by die akademie in Sjarjah bygewoon het. Terwyl ek daar was, kon ek bietjie saam met Hannes en Angela en Alessia kuier. So terwyl daar niks op my blog aangegaan het nie, was ek besig met allerhande nuwe en lekker dinge. Terug by die huis is Taffee en Didi hulle besige oulike self. Hulle maak planne om die yaskasdiertjies af te haal, want alles in die huis is hulle sin..Dankie Sandra en Nelmari dat julle so mooi na Taffee en Didi gekyk en vir Dee kom kuier en kosgegee het en vir Angela en Riza vir die mooi sms'e so op die eerste dag by die nuwe afdeling. Hoe sal ons sonder mekaar deur al die dinge kom.

Sunday, July 20, 2008

Waag dit om anders te wees.

Ek weet ek het al geskryf oor die groot trok en die Reenboog sheikh se motor museum, maar toe ons almal nou die ander dag daar was het ek met ander oe na die dinge om my gekyk. Die sheikh moet 'n baie interessante mens weesen hy het verseker ook die regte vrou gekry wat die andersheid baie duidelik net so geniet. Sy ry met 'n pink Range Rover rond en ek kan met eerlikheid se dat ek nog nerens ander so iets gesien het nie. Sy het 'n paar jaar terug vir haar man vir sy verjaarsdag agt Mercedes' e gegee.... AGT... spesiaal vir hom laat maak. Ja ek weet... ek Die sheikh het die YSLIKE trok laat bou en die enorme aarbol karavaan... wat sou hy gedink het... Die karavaan het blykbaar agt kamers.. en die trok het met die karavaan tot daar by die museum gery. Wat my nog meer fassineer van die Reenboog sheikh is dat die Arabiere nie individualiteit aanmoedig nie. Almal dra dieselfde wit rokke en hoofbedekkings en moenie my verkeerd verstaaan nie, hulle is erg trots daaarop, maar dis dieselfde en hulle se ook dat dit is om ongelykhede uit te skakel. So sal julle met my saamstem dat dit geen klein dingetjie is om so absoluut anders te wees nie. Die kersie op die koek is dat die Sheikh nie 'n sent toegang vra om na die versameling te kyk nie.

Monday, July 14, 2008

Hier kom die somer die son...

So se die liedjie en in Suid Afrika beteken dit klim uit die winterkokon en voel die son op jou lyf, maar in die land beteken dit ... hardloop en kruip weg en maak die deure toe en sit aan die lugreelings... maar die kinders kuier en wil graag in die see swem. Ek moet julle vertel dat die seewater nou tussen 30-32 grade is. Die Al Raha strand is seker een van die mooistes wat ek gesien het met die pragtigste swembad en die see sommer net so naby. Maar dit kos klomp geld en daarom besluit ons om maar so lank moontlik te vertoef en waarde vir ons geld te kry. Dis elke sent... of fil werd. Dit kan ek julle se. Kyk die swembad en die klein kiosk waar mens kan gaan vrugtesap drink. Dis baie stil soos julle kan sien, want dis WARM. Die kinders het die kans om op die geel piesang... of lyk dit nie vir julle meer soos 'n potlood nie... te gaan ry. Hulle is vol pret. Ons hoor hulle het drie keer afgeval.. twee keer aspris, want William is erg ondeund en eenkeer per ongeluk want Riza gooi haar lyf na die verkeerde kant toe. Hulle lyk in elk geval baie gelukkig toe hulle terug is by die beginpunt. Klik op die link om die video te sien wat Sandra geneem het van die finale inkom...of afval... :-)http://tussen-die-duine.blogspot.com/2008/07/pret-in-die-water.html

Ons twee ou tannies daarenteen (skuus maat... jy is nie so oud nie) het 'n paar dae lank moes koes vir die son op ons tamatierooi skouers. Maar weet julle dat hierdie son mens regtig bruin brand?

Thursday, July 10, 2008

Ons gaan stap

Mens kan heerlik stap op die Abu Dhabi cornish... so al met die see langs... pragtig geplavei. Nou is daar ook 'n nuwe Abu Dhabi strand... beach... en ons lees op die borde langs die pad dat die strand geopen gaan word met die langste lint in die wereld. So besluit ons ons wil die nuwe strand gaan sien, want daar is ook glo winkeltjies... koffiewinkels en roomysstalletjies ... klink wonderlik reg met my. Dis baie warm hier ouens.. dit moet ek net eers vertel. Die sewe uur die aand temperature is maklik 40. Dan is die humiditeit ook baie hoog, 90-100%. Net die inligting sodat julle verstaan van die stap. Sandra stel voor ons parkeer by die Hilton hotel se verste punt... en stap tot by die strand ontwikkeling. Ek meet die afstand so in my gedagtes en dink dis nogals ver, maar ons maak so. Mens kan mos maar omdraai as mens so sou voel. Die ongeluk is dat mens eintlik mos eers op die pad terug voel dat die omdraai dalkies vroeer moes gebeur het. Net so tien minute na ons begin stap het, wil Elriza en Leane hule voete natmaak. Kyk hoe wasem die kamera se lens toe.. Die strand is pragtig ontwikkel. Ek het probeer fotos neem van die sambrele op strand... daar is ook grasperke met nog sambrele... Die ou fonteine wat nog altyd deel van die cornish was is steeds daar en net so pragtig. Ek weet sommige fotos is nie so duidelik nie maar as dit julle nuuskierig maak is dit goed. Ek sal moed bymekaar skep om hierdie mooie strand en see waaroor Elriza so sit en uitkyk, in die dag te gaan afneem. 30 mninute nadat ons begin stap het, is ek dood dors. Ek weet daar was altyd vending masjiene met water en koeldrank en om elke nuwe draai dink ek ons sal water kry. Die masjiene is weg... en toe ons uiteindelik die deel bereik waar die winkeltjies is... is dit toe. Ek kon nie fotos neem nie want teen die tyd wat ons daar gekom het, was dit te donker en ek is nog nie so goed met die kamera nie. Daar is mense binne en in een van die koffiewinkels sit die mense en proe hulle eie koffie... maar nognie vir die publiek nie, ook nie vir dors stappers nie... Ek besef eintlik ek is in die moeilikhied en die terugstap is soos mens altyd die ouens in grappies sien... voel of ons onsself sleep terug na die karre toe. Ek en Riza hardloop mekaar amper disnis om eerste by die waterbottel in die kombuis te wees toe ons twee uur later by die huis kom ... ai wat sal mens nog aan jouself doen?

Sunday, July 6, 2008

Ons verstom ons aan die Moskee

Dis nou so lekker dat mens so apmer naby mekaar bly so ver van die huis af. Die familie wil graag die moskee sien en ek vind uit dat mens so mooi tussen bidtye kan gaan en ek klim op die internet om die bidtye uit te vind en kom op 'n webwerf af wat vertel van bidtye en kleredrag. Mens ... veral vrouens, moet goed toe wees... langmoue tot by die polse en lang klere tot op die enkels plus die scarf oor die kop en ek laat Hannes en Lorraine weet, maar daar gekom staan Lorraine en Angela in hulle Abajas. Ek erken hulle amper nie. En ek en Elriza word ook uitgerus... of toegerus. So onthou maar vir die wat die moskee wil besoek... koop maar jou eie Abaja of wees reg om daar een te dra. Hannes neem fotos en Angela sit haar arm om haar man se lyf... die "poliesman" kom se vir haar ... "no touching... and cover your hair" Angela is heel verlee en kom waarsku ons om ons hare onder die serpe in te kry en ons doen dit maar ewe gehoorsaam. Mens het mos nie lus om in die moeilikheid te wees nie. Ons verkyk ons nogtans en weereens aan hierdie pragtige plek. Kyk hierdie soliede glas deur... die pilare... marmerinsetsels... die torings en tapyt... die grootste in die wereld wat twee jaar lank deur 1200 Iranese vrouens geweef is en
Alessia het nie 'n saak met enige daarvan nie.. sy kruip op die mat rond... kan julle dink hoe sy eendag vir haar kinders die dinge kan vertel. Of dalk sal ons vertel en sy sal die foto's wys..

Friday, July 4, 2008

Niel verjaar vandag!!


Baie geluk met jou verjaarsdag my seunskind. Ek hoop dis 'n wonderlike dag en baie besondere en mooi jaar vir jou. Vader se rykste seen op jou spesiale dag. Ons dink aan jou.




Baie liefde




Mam en Riza