Tuesday, May 27, 2008

So bietjie oor my werk

Ek praat baie min oor wat ek hier by die kantoor doen en gedink ek vertel julle so die een en ander.... ek bied gereeld en vir verskillende afdelings werkswinkel aan en die keer het Finansies my gevra om iets oor Motivering te doen. Dit was nogal 'n uitdaging, want wat sê mens 'n dag lank vir mense oor motivering. Ek het op die ou end drie groepe oor drie dae gehad en ons het heerlik gesels oor dinge wat mense motiveer, wat mense se eie interne bron van motivering is en wat die effek of bydra is wat ons dan maak.Mens kan sê dat motivering die suurstof, grond en water is wat 'n boom laat groei en dat die boom se takke elke faset van elkeen se lewe voorstel... Uiteindelik dra ons sade en vrugte wat ander voed.. of skade aandoen... sommige sade en vrugte is giftig en sommige takke en blare vol dorings en dinge... en dan het die boom ook kwaste wat vertel van moeilike tye. As die boom skade oorleef, kan so kwas later op sy eie manier ook nuttig wees. Aan die einde van die werkswinkels is ek spesiaal na die afdeling ontbied vir 'n sak vol allerhande goetertjies en onder andere ook 'n t hemp wat deur die groep geteken is. Ek deel hierdie met julle omdat die groep tot foto's geneem en aangestuur het. Julle weet mos ek is nie sterk op foto's nie... maar as ander dit vir my doen het ek geen verskoning om dit nie met julle te deel nie. Hier is ek en my sak goeters... Ek het 'n koffiebeker en drie penne met die Etisalat wapen op, sleutelhouer... nog 'n t hemp en selfs 'n bal vir die honde... Ek vertel julle in die volgende blog die een en ander oor die mense op die fotos.

Tuesday, May 20, 2008

Alessia

Hoewel ek nie kleinkinders het nie, weet julle wat my bietjie ken, dat ek erg broeis is oor die kleingoed. Ons het sulke mooi foto's geneem van Alessia dat ek darem net so paartjies met julle wil deel. Sy is 'n wakker, nuuskierige en sosiale klein aspatat wat vir baie vermaak sorg. Sy is saam met almal op die stoep en kuier en gesels terwyl sy eintlik moet slapies. Hier sit sy in die skottel bo-op die eetkamertafel sodat mamma Angela haar onder beheer kan kry om te voer. Ek moet bysê dat dit nie eintlik gewerk het nie. Na ete wys sy vir my en Niël die blomme. Sy en ouma Bessie op die stoep terwyl ons wag vir koek en koffie. Riza en Alessia wys vir ons haar "love" tights. Ons geniet haar vreeslik. Een van die dae is sy hier naby en dan sal die F.R.O.G. seker gereeld die pad Dubai toe vat om te gaan kuier en bederf.

Friday, May 16, 2008

Die honde se dag uit

In plaas daarvan om die hondjies te neem om in die park te gaan stap in die hitte het ons dit goed gedink om hulle see toe te neem om in die lekker louwarm seewater te gaan swem en geswem het hulle... tot ons almal se groot plesier. (Kliek op die pyltjie links om video te sien)


Taffee begin sommer al swem voor sy pootjies water raak en kan hy wikkel...

Didi swem selfs na my toe en die twee is al agter my aan. Wil so graag opgetel word.

Wat is lekkerder as om die sand vir 'n handdoek te gebruik. Ek vermoed die sout is dalk ook 'n lastigheid, maar hulle het elkeen 'n lekker bad gekry terug by die huis, en nee, die swemmery het hlle nie vaak gemaak nie, net honger en daarna was hulle eers vol lewe. Ons sal dit beslis weer doen, maar dalkies moet ek net eers 'n soort plastiek "cover" kry vir F.R.O.G Sy het ook 'n bad na die see uitstappie nodig gehad.

Tuesday, May 13, 2008

Kuier saam met kinders... myne en ander

As ons , of van ons, wat hier in die verre lande bly, in Suid Afrika kom, is daar defnitief twee plekke wat ek nie mis nie en dit is Ocean basket en Wimpy... daar is nie 'n plek hier wat sulke lekker ontbyte en Wimpy koffie maak nie. Ek en die kinders het heerlik gaan vis eet een aand. Die kinders selfs rou vis... suchi... en nogal vir my probeer vertel dis net groente. :-). Die fotos sommer net om ons monde te laat water... dis nou die van ons wat net een of tweekeer 'n jaar sulke vis kan gaan eet. Ons het ook een oggend gaan fliek en toe die klompie Amerikaanse studente wat op die oomblik 'n soort diensprojek doen by Riza-hulle se kerk, raakgeloop. Mens kry nou wel nie nazzo's en kaas in Suid Afrika nie, maar die springmielies was ook vir 'n verandering lekker. Na die tyd het ons toe besluit om te gaan wafels eet... by Milky Lane. Die het ons ook nie hier nie, behalwe as mens 170 km ver ry tot by Mercato mall in Dubai. Wanneer laas het ek wafels geeet? En nogal een met my gunsteling malvalekkers met klapper!!! mmmm... Ook maar goed dat ek net so nou en dan die geleenthede kry. Mens se lyf sal dit nie hou nie.
Roxanne en George het ook lekker saam gekuier vir 'n Sondagmiddagete by Angela. Die kinders kuier hier met peuselgoed voor ete ... :-o

Thursday, May 8, 2008

Niël se terugvoer

Die aand na die gradeplegtigheid het ons by Moyo gaan eet. As ek nou oulik was met die fotonemery, kon ek daaraan gedink het om foto's van die restaurant te neem om met julle te deel... maar ek dink altyd agterna eers daaraan.

Die restaurant het 'n Afrika atmosfeer met heerlike potjie kos, baie goeie gebraaide vis, groente soos groenbone, patats en soetwortels. Dan ook malvapoeding en roomys, cream caramel en sjokolademoes... baie lekker. Ek sou nogal nie twintig of dertig jaar terug gesê het "ons het na goeie Afrika musiek geluister" nie, maar ons het. Daar is ook jong meisies wat Afrika danse uitvoer.
Mens kan 'n kombers kry om oor jou skouers te hang vir die koue en ook 'n geverfde patroon op die wang of voorkop.
Die aand was aan Niël opgedra en in sy toespraak het hy gesê dat hy vir die eerste keer van hy begin swot het na hy skool verlaat het, besef het wat die waarde van 'n graad is. Hy neem ter harte dat die Kanselier sê die graad is nie vir jou eie eer of om hoogmoedig oor te raak nie, maar jou instaat te stel om in diens te wees in die omgewing waarin hy hom bevind. Niël is positief geinspireer deur die mense wat nooit ophou leer nie en voel dat hy volgende jaar vir sy Meestergraad sal inskryf...net sodat hy weer deel kan wees van so spesiale seremonie.... :-) en miskien sal hy dan 'n pak klere dra, maar miskien ook nie. Hy het weereens sy hoed gelig vir die ondersteuning wat hy ontvang het... dalk sal hy in sy kommentaar in sy kleurvolle taal vertel wat hy daardie laaste dag ervaar het. Nogmaals baie geluk vir die groot vasbyt. Dis was alles die moeite werd. Die lewenslesse geleer is net soveel werd as die graad. Knap gedaan!

Monday, May 5, 2008

Niel se groot dag!! Baie geluk seun!

Ek het met die grootste plesier Suid Afrika toe gegaan om Niel se gradeplegtigheid te gaan bywoon en sooo bly ek het. Ek was nie te verbaas dat Niel nie 'n pak klere aangehad het nie, want dit het ook so gegaan met die matriekafskeid. Die foto is voor die plegtigheid geneem by Unisa se wapen en teen die agtergrond van die Voortrekker Monument by Klapperkop en ai, het dit darem herinneringe teruggebring..... Terwyl ons almal ons sit kry het, het ons na wonderlike sterk klanke van die pyporrel geluister wat ook die prosessie van Akademici ingelei het. Baie indrukwekkend... ek het hoendervleis gehad. Niel se trotse oomblik breek ook uiteindelik aan. Dit was verseker nie 'n maklike aantal jare vir Niel nie, maar die meeste van die studente van Unisa studeer deeltyds onder baie moeilike omstandighede tussen werk en kinders grootmaak. Die kanselier maak spesiaal melding van die feit en bring ere aan veral die baie ma's met die volle verantwoordelikheid van 'n huishouding. Aan die einde van die seremonie maan die Kanselier die graduante om nederig te bly en dit wat hulle geleer het in diens van die gemeenskap waarvan hulle deel is, aan te wend. Daar is onder andere ook vyf doktorsgrade en 'n aantal Meestersgrade toegeken. Tenspyte van die presiesheid van 'n baie formele akademiese plegtigheid,vra die Kanselier aan die einde van die aand dat die studente hulle hoede lig in erkenning aan ouers en familie wat finansieel en emosionele ondersteuning gebied het..... en ons waai terug in trotse erkenning. So gepaste afsluiting vir 'n baie besonderese aand. Ek vertel in my volgende blog van Niel se ervaring van die geleentheid

Friday, May 2, 2008

So op die laaste dag van April

As dit darem nou nie absoluut puik uitgewerk het nie. Ek het in 'n vorige blog vertel dat Betty vier of vyf kleintjies dra en eergister het ek toe so teen vyfuur (drie uur SA tyd) 'n sms van Riza ontvang dat Betty se water gebreek het.Die eerste klein "cow"- boy... nie my naam nie, dis wat Riza en DJ hom genoem het, is nie te lank daarna nie gebore. Pragtig.. swart en wit. Soos 'n klein koei... sien waar die naam vandaan kom? :-) 'n rukkie later die groot vreugde... 'n swart dogtertjie. Dis Betty se eerste meisietjie. Die vorige werpseltjie was almal seuntjies. Dan weer die bietjie hartseer ... die derde enetjie is dood. "Hy was nie "klaar" nie mam..." is Riza se verduideliking. En Betty gaan haal hom toe Riza hom buite die boks neersit.Sy kan nie anvaar hy is dood nie..ai, siestog...Dan 'n langerige stilte en nog 'n seuntjie, 'n klein raasbek wat dadelik wil eet... Dan weer 'n lang lang breuk, maar net voor ek kon bekommerd raak, is nog 'n seuntjie gebore... baie donkerbruin. Dit het alles baie vinniger gegaan as die vorige keer en hierdie... so verneem ek, is Betty en Tavid se laaste werpseltjie. Nuus oor die pappa is dat hy heeltyd langs die boks gesit het om naby Betty te wees. Ek moes aan die kant vir Taffee en Didi vertel hulle het drie nuwe boeties en 'n sussie gekry. En die nuus aaan die anderkant is dat Riza Betty se enigste dogterjie gaan hou. Dit lyk my die sage van hierdie familietjie is nog lank nie klaar nie. Ons sien uit om gereeld foto's en "updates" te kry van die pragtige vier "kleingoed". Net so terloops.. Taffee en Didi doen uitstekend en die mamma en pappa aan die ander kant, kan al hulle aandag aan die nuwe kleingoed gee. Baie geluk!!!