Friday, May 2, 2008

So op die laaste dag van April

As dit darem nou nie absoluut puik uitgewerk het nie. Ek het in 'n vorige blog vertel dat Betty vier of vyf kleintjies dra en eergister het ek toe so teen vyfuur (drie uur SA tyd) 'n sms van Riza ontvang dat Betty se water gebreek het.Die eerste klein "cow"- boy... nie my naam nie, dis wat Riza en DJ hom genoem het, is nie te lank daarna nie gebore. Pragtig.. swart en wit. Soos 'n klein koei... sien waar die naam vandaan kom? :-) 'n rukkie later die groot vreugde... 'n swart dogtertjie. Dis Betty se eerste meisietjie. Die vorige werpseltjie was almal seuntjies. Dan weer die bietjie hartseer ... die derde enetjie is dood. "Hy was nie "klaar" nie mam..." is Riza se verduideliking. En Betty gaan haal hom toe Riza hom buite die boks neersit.Sy kan nie anvaar hy is dood nie..ai, siestog...Dan 'n langerige stilte en nog 'n seuntjie, 'n klein raasbek wat dadelik wil eet... Dan weer 'n lang lang breuk, maar net voor ek kon bekommerd raak, is nog 'n seuntjie gebore... baie donkerbruin. Dit het alles baie vinniger gegaan as die vorige keer en hierdie... so verneem ek, is Betty en Tavid se laaste werpseltjie. Nuus oor die pappa is dat hy heeltyd langs die boks gesit het om naby Betty te wees. Ek moes aan die kant vir Taffee en Didi vertel hulle het drie nuwe boeties en 'n sussie gekry. En die nuus aaan die anderkant is dat Riza Betty se enigste dogterjie gaan hou. Dit lyk my die sage van hierdie familietjie is nog lank nie klaar nie. Ons sien uit om gereeld foto's en "updates" te kry van die pragtige vier "kleingoed". Net so terloops.. Taffee en Didi doen uitstekend en die mamma en pappa aan die ander kant, kan al hulle aandag aan die nuwe kleingoed gee. Baie geluk!!!

Thursday, May 1, 2008

Ons het iets om te vertel

Sou Didi en Taffee kon praat, sou hulle sekerlik kon vertel dat gister een vaan die vreemdste en opwindendste en angstigste dae was wat hule ooit beleef het. Hulle het gisteroggend soos gewoonlik wakker geword en ons ounooi Riza se ore gebyt en hare getrek en oom Jimmy gaan pla buite en voor die son mooi oor die boomtoppe loer, het die geel bakkie van Petwings stilgehou om hulle te kom haal en gereed te kry vir die vlug Abu Dhabi toe. Daar is met trane van hulle afskeid geneem voor hulle in die hokkies wat spesiaal vir hulle gemaak is..... en hulle name ophet, gelaai om eers kennels toe te gaan. Ek was maar bekommerd, maar die drywer se naam is Marius... baie volkseie...en hy verduidelik dat hulle lekker groot hokke met gras water en kos en 24 uur toesig het voor hulle moet lughawe toe drie uur gistermiddag. Ai tog... lang lang wag.. Ek sit teen half nege by die hek waarvandaan ons opklim en kyk deur die venster hoe hulle sulke reuse wit staal ... kan hout ook wees, maar ek glo nie... in die ruim inlaai en weer uitlaai en inlaai. Ek sien dis vir diere met die lug gate en tralies en so en ek kommer oor die twee klein mannetjies. Toe ons uiteindelik 'n uur later as wat ons moes op die vliegtuig klim, hoor ek hulle laai Buffels!!! Jinne... wat dink julle het die twee baie klein hondjies daarvan gedink? Maar hulle kom uiteindelik teen twaalfuur hier by hulle nuwe huis aan onder die toesig van die Amerikaanse veearts wat hulle deur die doane en ek weet nie wat als geneem het nieHulle is VOL lewe en piepie oral. Riza se reaksie is... ag oulik!! Sy is net so verlig hulle is hier en veilig en in een stuk. Ek is seker hulle ook, want dit voel toe ook of 'n klip van my skouers af rol. Ek gee nie eers baie om om agter hulle aan te hardloop met 'n lappie en skoonmaak goed nie. Maar ek is winkel toe en die eerste ding wat ek koop is pet repelent. Sal julle vertel of die werk... en speelgoed en kosbakkies en leibande en en slaapplek ens... hier is hulle... by my op die bank... en baie nuuskierig oor die speelgoed... maar uiteindelik meer geinterreseerd om op my skoot te slaap. Ek hou julle graag op hoogte van al die dingetjies... of die toilet training werk en of hulle met Dee vrede maak...

Thursday, April 24, 2008

Dag een en twee...

En terwyl ek hier sit en skryf, is ek al besig met dag drie... die tyd gaan so vinnig verby. Dit was so lekker om die kinders weer te sien en met blomme begroet te word. Die ongemaklike sit en kannie slaap op die vliegtuig skoon vergete. Ons is sommer reguit na Petwings se kantore om vir die hondjies se vlieg te finaliseer en gesien dat hulle nie net hulle eie hokkies kry wat spesiaal vir hulle gemaak word nie, maar dat hulle ook gourmet kosse gevoer word op die vliegtuig.
Ek moes opsluit eers saam met die kinders huis toe om met die hondjies te gaan begin bond... so sê my dogter. Hulle was baie vrolik en vol dinge en probeer die kat van die kas af kyk omdat sy daar sit en eet en hulle kan nie bykom nie.
Betty dra vier of vyf nuwe klein hondjies en dis 'n goeie tyd vir die tieners om uit die huis te kom dat die mamma kan rustig raak voor die kraam. Ons het lekker saam kos gemaak en gekuier en al die honde om ons...
hier sit Jimmy onder my romp en wat julle nie kan sien nie is dat een van die Chihuahuas ook onder die romptent sit. As dag een hoofsaaklik kinders en honde was was dag twee familie en kerk. Riza lei die praise en worship... (foto's volg) Ek is nog nie heeltemal papprazzi... of mammarazzi nie, maar dis spesiaal vir DJ.
Na kerk het ons heerlik gaan eet en kuier by Angela en Hannes se huis. Hannes het die tafelgebed met sms gedoen en ons het die familie in Dubai sommer baie gemis. Hier sit ons aan die tafel voor die ete en Hannes,
die foto van Angela en Alessia is spesiaal vir jou. Ek het vir Roxanne die drukkie van jou gegee sus. Sy mis jou ook baie.
Ek het baie tyd met Alessia spandeer. Sy is agt maande oud en by dierbaar verby.
Sy het haar behoorlik verkyk aan Niël met die kamera en
by Elriza gesit en speel met die hondjie... wat ook soentjies gekry het. Ek praat sommer gou weer... intussen het ek gaan warm skoene koop want to ek vanoggend wakker word was dit 2... ja twee... (2) grade. Jinne wanneer laas het ek so koud gekry.. Ek hou julle op hoogte. Lief julle almal

Friday, April 18, 2008

Kuier in Dubai

Ek het die afgelope week 'n kursus bygewoon in Dubai... change management... want niks is mos so seker soos verandering nie en in Dubai is alles gedurig aan die verander. Hannes het gisteraand sy brawe nuwe "perd" opgesaal om van Dubai af tot amper in Sharjah te ry om vir my te kom kuier by die akademie. Ons besluit om iewers te gaan eet en ek dink ek weet waar daar plek is en ons durf die verkeer aan.
Die plek is nie waar ek gedink het nie maar Hannes beindruk my met " o, ek weet waar ons is" en "kom ons gaan Festival city toe". Hy is nog net 'n paar weke hier en ek.... sal liewer nie se nie.. en ek verdwaal nog steeds. Die terugkom was nie so maklik nie want ons kry nie die tonnel terug se opening nie. Ja ek weet hoe dit kink en ons het omtrent op 'n ekspedisie gegaan om weer die akademie te kry.
Ek het so ruk terug vir Sean en Hannes gaan kuier, voor Lorraine terug was... ek kyk net die pragtige uitsig uit die woonstel.
Hannes het die mooi foto in Madinat Jumeirah souk geneem waar ons gaan eet het. Ek dog ek deel ook sommer met julle die nuwe Chinese eetplek in die Al Wahda mall hier in Abu Dahbi waar ons vanaand gaan eet het voor ek more op die vliegtuig klim om vir agt dae in Suid Afrika te gaan kuier. Ek gaan my bes doen om nuus en foto's te stuur van my kuier en Niel se gradeplegtigheid.
Dee was so bly ek is terug.. hy pas my omtrent op... hy le sommer net hier by my in die studeerkamer... nou gaan die ounooi alweer more weg en as ek terugkom, kom Taffee en Didi ook saam. Ek dink ek gaan dan heelwat te vertelle he. Nog meer goeie nuus oor die honde kinders later... met foto's.. belowe. Ek en my kamera is nog nie heeltemal so heeltyd saam nie.

Friday, April 11, 2008

Siek dierekinders.

My Dee kat het mos die ewige groot nies en soms raak dit baie erg. So neem ek hom weereens Veearts toe en hy word opgeneem... kwotasie... DHS3000. Dis omtrent R6000 en ja, ek snak na my asem en verduidelik dat ek baie lief is vir hom en graag hom gesond wil hê maar dis 'n straatkat! En die veearts sê sy sal eers die basiese doen... dan later sien wat nog nodig is... ja asseblief. Sy ounooi is nie 'n miljoener nie.As ek bel om te hoor hoe dit met hom gaan... word ek deurgesit na die saal toe en dan praat ek met die saalsuster wat vertel dat hy goed doen en reeds sy tweede neusspoeling gehad het ens. Na twee dae kom hy huis toe met antibiotika en hy is sommer baie beter. Hier sit meneer op die bank en lek die pootjie waar die naald vir die narkose in was... siestog... En by die Elriza word Tavid ook in die hospitaal opgeneem met 'n erge ontsteekte magie... "hy het maar 'n sensitiewe magie ma"... sê sy ounooi Elriza. Na drie dae is hy ook darem weer beter en kom met 'n verband huis toe. Maer... maar beter. Kyk hierdie ogies... anders as Dee wat hom nogal nie aan kameras steur nie, is Tavid glad nie mal oor kameras nie. Hoop die diere bly nou gesond. Ek dink aan mediese fonds vir hulle almal maar 'n voorlopige kwotasie hier in die land se paaiement is genoeg vir 'n nuwe kar....

Sunday, April 6, 2008

Mens ken nie altyd die hele storie nie

En toe word ek weer na 'n troue uitgenooi en die keer is dit na 'n senior tegnikus wat van Pakistan kom se dogter se troue. Anders as die Arabiese troue wat ek bygewoon het, is die mense nie heeltemal... opsigtelik... ryk nie en die troue BAIE minder spandabel. Die onthaal was in 'n klein banketsaal in 'n hotel wat ek nog nooit voorheen raakgesien het nie.
Dis oud en eenvoudig en daar is blomme... op 'n klein tafeltjie met 'n pienk en 'n geel lap, staan die kunsruikertjie van pienk en geel rose met goue randjies en als. Daar is ook 'n bank met 'n rooi lap oor en agter die bank teen die pienkerige gordyne hang een string rooi plastiek blomme en een string oranje. Ek wonder of ek dit nie vir hulle moet afhaal nie... Ek verstaan die bloome later toe die bruid ingestap kom met haar rooi en oranje rok. Die rok is vol blinkertjies en dit lyk swaar...
Sy gaan sit op die bank met die rooi lap en haar susters weerskante van haar in hulle pers uitrustings en pers oorbelle... dis baie kleurvol... baie erg... . Anders as die Arabiese troue waar die bruid eers teen amper twaalfuur aangekom het, is die bruid al 8h20 daar... Die uitnodiging sê 8h00 maar ons is net omtrent tien mense, die bruid se ma en twee susters en broer (net daar toegelaat omdat hy vir die gaste sê waarheen om te gaan.... want die mans is in 'n ander vertek) ingesluit. Die bruid se gesiggie is so ernstig en sy sit met afgeslane oë dat ek regtig vir haar baie jammer voel. Dit lyk nie of sy wil trou nie.Daar is ook nie mense nie . Moet sê dat daar tien minute later gereeld mense begin inkom het, totdat die twee sussies opspring en klein bordtjies met rooi en wit roosblare gryp en na die deur toe gaan... 'n soort erewag vorm. Hulle strooi van die roosblare op die vloer vir die skoonma en skoonsussie wat aankom... in die lewe... Maar die bruid kyk skaars na hulle en ek dink so by myself dat ek ook bietjie dikbek sou wees as hulle vir ander mense roosblare strooi en nie vir my nie... as ek nou die bruid sou wees.
Sy is ook nie vreeslik bly oor die gaste wat inkom nie, maar iets moois gebeur.... 'n ouerige Pakistaniese vrou kom in... en glimlag vir almal en stap na die bruid en praat saggies met haar. Sy lig die bruid se ken en kyk in haar oê... ek kry trane in my oë. Ek het lankal gedink sy het 'n drukkie nodig. Ek is dood dors, maar dis half tien voor ons uiteindelik kan gaan eet. Die kos het heeltyd daar gestaan en nee, ek weet nie waarom mens nie maar vroeër kon eet nie. Die kos is gewoon drie slaaie, drie soorte vleis, twee soorte rys en twee soorte nagereg. Geen oordaad, geen vermorsing op versierings nie... mens drink sommer die keoldrank so uit die blikkie, hoewel ek later ontdek dat daar wel regte glase op die tafel is vir water wat mens sou kon gebruik. Ek het 'n fout gemaak om nie 'n persent saam te neem nie. By die Arabiese troue het hulle ons vertel die bruid hanteer nie geskenke op die troue nie, so toe dog ek dit sou dieselfde wees. Dit fassineer my ook dat die geskenke mooi toegedraai is maar in die plastieksakke van die plekke waar hulle gekoop is op die tafel staan... soos kruideniers... dit lyk nie mooi nie. Ek vind later uit die bruid en haar bruidegom het mekaar in 2006 ontmoet en van mekaar gehou... Die families het gereken dis ok dat hulle trou. Hulle het albei IT geswot en tot die troue mekaar nie eintlik weer gesien nie. Die families is verlangs verwant. Die paartjie gaan Londen toe oor drie dae... vertel die vrou wat langs my sit, maar ek vind later uit dat die bruid 'n maand moet wag vir haar visa om in Londen te kan bly en werk en dus is die bruidegom sonder sy bruid weg. Die bruidegom se ouers woon in Londen waar die pa 'n groot elfvertrek huis het, word ek vertel. Die paartjie gaan eers daar bly todat die pa later vir sy seun 'n huis sal bou... ai tog... ek wonder of die bruid ooit weer sal glimlag... en intussen soek ek vir haar 'n geskenk. Iets moois wat haar sal laat glimlag...

Friday, April 4, 2008

Jy verjaar!!!


Baie geluk met jou verjaarsdag Elma. Ek hoop dis 'n pragtige dag en wonderlike jaar vir jou. Jy moet die dag en die bederf geniet. Vader se rykste seën vir jou en joune.


Baie liefde