Wednesday, January 30, 2008

Die babas word so gou groot

Ek het al 'n ruk terug hierdie pragtige foto'tjies van Alessia gekry en die klein meis is nou al weer 'n maand ouer. So, voor sy begin loop, kyk net hoe dierbaar kostelik is sy.
Sy is baie verbaal, sê ouma Bessie, en laat almal die heeltyd presies weet waarvan sy hou en nie en gesels sommer tussenin ook. Wonder of sy eendag in die politiek sal ingaan en ons President word. Nog 'n lagbek is klein Nicholas. Eunice skryf dat hy vir alles en almal lag en dat sy twee ouboeties baie oulik is met hom en uit hulle pad gaan om in haar pad te wees as sy met Nicholas werk... :-) Hierdie kleinman in nog nie drie maande oud nie en kyk net hoe wakker en vol pret is die gesiggie. David en Steven word so mooi groot. Is dit nie twee "handsome" manne nie?

Monday, January 28, 2008

Kyk die honde"babas"

Die twee mannetjies is nou nie meer babas nie, hoewel Riza sê dat hulle steeds loop of hulle doeke aanhet. Elma, jy het gevra wanneer kom hulle, teen einde Februarie behoort hulle by my te wees.Ek kan nie meer wag nie en Nelmari het allerhande planne met hulle as die nuwe mascots vir die "Lions". Nee nie die Lions van Gauteng nie, die AISA Lions van Abu Dhabi. Ek kan net sien dat ons groot pret gaan hê. Is dit nie twee wakker stout gesiggies nie... En instaan ounooi Riza sê hulle is 'n handvol, maar wil ook nie te veel kere hoor dat hulle tydjie saam met haar nou einde se kant toe staan nie. Jy sal maar net baie moet kom kuier meis. Abu Dhabi gaan dalk nooit weer dieselfde wees nie ... en my woonstel tien teen een ook nie... vermoed ek.

Wednesday, January 23, 2008

Bennihana

Nog 'n baie goeie "eet ervaring" is die Benihana restaurant waar hulle in Japanese styl die kosse op die warm plaat voor mens berei. Dis so heerlike gesonde manier van eet en geen gewonder oor hoe die kosse berei of gegeur word nie. Ons besoek die restaurant meer gereeld want die kos is regtig heerlik.
Hulle bedien eers Japanese gebraaide -uie -sop. Dan 'n slaai met 'n gemmersousie. Daarna prawns wat voor mens se oë van grys na pienk kleur en wat die sjef met groot vaardigheid skoonmaak en sny. Daarna word elkeen se voorkeure soos volgens bestelling voorberei. Vis of kreef vir party en dan steaks vir ander.
Sommige snitte is rump en ander sirloin maar die kok weet presies wat wie sin is en kry die medium of medium well ook baie goed reg, net soos mens daarvan hou. Myne het 'n teryaki sousie en is regtig vingerlek lekker. Die drankies is ook baie interessant. Warm ryswyn,... dit klink altyd vir my bietjie verdag... en Japanese ystee wat groentee en lemmetjie is, of net gewone coke en sprite. Die sjefs is baie vaardig met die mes en is nie Japanese nie, maar Fillipyne... en hy spot nogal met homself daaroor en sê dat hy dus geregtig is op foute maak.
Op die foto is Niël besig om 'n stukkie omelet in sy mond te vang... en ek probeer 'n foto neem... dit het nie gewerk nie... die foto bedoel ek.... en ook nie die vang nie... James en William het hulle kossies raakgevang, maar myne het op my bril beland. Gelukkig het niemand 'n foto daarvan geneem nie en gelukkig gooi die ou nie heeltyd kos rond nie. Mens kan rustig in jou eie tyd die kos met stokkies eet. As die rekening uiteindelik kom, is daar meestal twee ure verby. Hierdie ete was om vir Niël totsiens te sê en vir Niël en James geluk te wens met hulle grade. Maar enige verskoning om by die restaurant te eet is 'n goeie een.

Sunday, January 20, 2008

Dit REëN!!!!

Ek was Sondagoggend so teleurgesteld toe ek buite kom en ek sien alles is nat en ek het die reën gemis, maar die wolke het gebly ... hoewel dit die res van die dag nie gereën het nie..... nie waarvan ek weet nie. Mens hoor mos nie donderslae en sulke goed hier nie. Maandagoggend, toe ek buite kom, drup dit saggies. Ag ek was so in my skik. Julle het geen idee hoe opgewonde mens raak as die reën eenmaal 'n jaar hier val nie. Oppad Mafraq toe, het dit al harder gereën, opgehou en oppad terug kantoor toe... so hard gereën dat ek nie die karre so dertig meter voor my kon sien nie. Die middag het ek hierdie foto van my woonstel se balkon geneem. Kyk hoe grys is die lug, maar dit het gelyk of dit wil ooptrek. Dis baie lekker skoon en vars al het die helikopters 'n paar keer oor ons koppe gevlieg oppad na ongelukstonele. Kan julle julle voorstel hoe glad die paaie is na 'n jaar se droogte en saampak van olie? Die mense kry nie baie oefening in reën bestuur nie. Daar was selfs op die intranet 'n "powerpoint presentation" oor hoe mens op nat paaie bestuur. Nog 'n dag later... jinne ouens, ons het amper weggespoel in hierdie land. Dinsdagaand het ek uitgegaan om te gaan vleis koop en kyk hoe staan die F.R.O.G met haar voetjies tot by haar knieë in die water. Die klein buurman het ewe vriendelik vir my geglimlag. Dit is die "parkeer swembad" voor die woonstel. Dit het blykbaar tien jaar gelede laas so gereën in hierdie woestyn. Woensdagoggend is ek in gietende reën Akademie toe in Dubai. Dit was 'n nagmerrierit so in die donker met die water wat oor die paaie stroom. Die skole in Dubai en van die skole in Abu Dhabi het gesluit. In Dubai is 1200 ongelukke aangemeld in die paar dae. Ek was in nood toe ek in Dubai aankom, maar gelukkig het dit toe opgehou reën deur die dag en het ek en F.R.O.G relatief droogvoets by die huis aangekom... oorstromings in die woestyn... nou het ek alles beleef!!!

Tuesday, January 15, 2008

Die Reënboog sheikh se motormuseum

Vyf en 'n bietjie jare terug, was ons eenmaal by die museum so ent buite Abu Dhabi op 'n moeilike plek waarheen mens maklik kan verdwaal... Ons was daar toe Annie en Corli hier was en ek het my so verstom aan al die veranderinge en die motors daar dat ek Niël net moes neem. Ons het in 'n sandstorm ingery wat ook nogal 'n ervaring was en ek moes mooi ry om seker te maak ek is op die regte pad.
Daar gekom... ek was so trots op myself, het ons gaan broodjies eet en die land se beroemde vrugtesap drink
in die Jeep
en ook foto's van die woestyn uit die Jeep se venster geneem.








Niël is halpad oppad na die museum deur die kameelman opgelaai. Ek het gelukkig 'n verskoning gehad waarom ek nie op die kameel kan ry nie, want ek het 'n romp aangehad. Ek kan mos nie vir die mense nee sê nie.
Hierdie swart gevaarte is 'n soort "huisie langs die water" waar ek dink die sheikh in tuisgegaan het vir visvang. Moenie die storie aan die koerante verkoop nie. Ek het dit self opgemaak, maar dit het langs die water by die hawe gestaan... daar waar die werf is waar hulle die dohws bou.





Die aardbol is 'n reuse karavaan waarin daar agt kamers en ander vertrekke is word ek vertel, maar kon dit nog nooit van binne sien nie

Die massiewe trok was die enigste voertuig wat in die piramide was toe ek die eerste keer daar was. Nou is die plek pragtig omskep in 'n baie indrukwekkende museum vir al die reënboog sheikh se voertuie. (Hy het juis sy naam gekry weens sy liefde vir kleur en ek reken voertuie.)


Hy bv eenkeer sewe Mercedes'e by sy vrou gekry vir sy verjaarsdag in sewe verskillende kleure, spesiaal vir die Sheikh gemaak.


Tot die sitplekke is die kleur van die motor.


Die agtste motor is in al die ander sewe kleure.



Voor die deur van die museum staan nog 'n Mercedes op hierdie WIELE... En ek dink mens kan seker diep in die woestyn inry met die motor. Ek het so een nodig want 'n vier by vier kry my nie deur die sand nie.Toe ek en Niël so halfpad deur die museum is kom se die ou wat verantwoordelik is om die motors skoon te hou dat die museum eintlik toe is weens die sandstorm wat woed. Ons moes onderdeur die staaldeur kruip, maar die glasdeur was oop... ek vra toe maar mooi ekskuus en hy sê dis reg, ons kan maar klaarkyk... ek is bly ons het nie verniet gery nie. Dit sou 'n groot teleurstelling wees.



Wat dink julle van hierdie besienswaardigheid? Wiehann, Niël is oortuig dat jy verseker die plek moet kom sien.... ek sien uit om dit vir jou te gaan wys. En ek dink ek sal die plek weer kry.

Friday, January 11, 2008

Gold class

Mens kan so meer af as toe mensself bederf met 'n fliek in "gold class" en dan op die heerlike gemaklike stoel aan die slaap raak en 'n stuk van die fliek mis. Die kaartjies is Dhs100 stuk en Niël vra of dit 'n ete insluit... :-) nee, maar die kelner kom neem mens se bestelling vir eetgoed en kom bedien dit by die sitplek. Ons het gereken om nazo's met kaassous te eet, maar hulle het spesiaal vir gold class hierdie bord met nie net nazo's en kaas nie, maar ook tamatie en advokado en allerhande ander lekker goedjies wat mens nie in die donker kan sien of identifiseer nie, behalwe as mens perongeluk 'n chilli raakbyt. :-o Vir my persoonlik is dit 'n groot luukse maar groot mors van geld want ek KANNIE my oë oophou as ek eers op hierdie sagte seemsleer stoel my sit-lê gekry het nie.

Wednesday, January 9, 2008

Die Moskee

Van ek hier in Abu Dhabi gekom het.... en lank voor dit, was hulle besig om aan die moskee... die vierde grootste in die wêreld en wat die naam van die vorige Shiekh, Zayed bin Sultan Al Nahyan dra, te bou en ek het baie dae gewonder wat vat so lank.

In hierdie tye sal mens 'n konstruksie perseel sien die een dag en 'n maand of so later, staan daar 'n gebou. Toe vind ons uit dat daar nou besoekers toegelaat word en ons spring in ons sheilas. Ons moet lang mou lang rokke/rompe dra en al ons hare moet bedek wees en dan natuurlik kaalvoet... Maar dis reg. Niël was net so opgewonde om die moskee van nader te gaan bekyk, maar jinne ouens, niks kon ons voorberei op wat vir ons gewag het nie.

Hierdie is die baie indrukwekkende ingang en geen manier om 'n foto te neem wat alles inpas nie. Elke sentimeter van die moskee is met marmer bedek.

Daar is marmer blomme ingelê in die mosaïek en marmer op die vloere... of die binnehof dan.

Daar is ook reliëfwerk teen die mure en hierdie pragtige pilare met die blommetjies wat in die pilaar ingelê is.

Die mat in die hoof bidlokaal, beslaan twee rugbyvelde en is die grootste ter wêreld.

Daar is 'n paar van hierdie reuse kandelare en dis heeltemal onmoontlik om dit in 'n foto vas te vang. Dit is net eenvoudig onbeskryflik.

Die houtpanele is hier en daar teen van die mure en sal dalk ook simboliek hê en die blomme wat in die houtpaneel ingelê is, is perlemoen.
In die middel van die hoofbidlokaal is kolomme pilare wat so vier vier bymekaar staan

met hierdie pragtige geel blommotief in die middel. Dis waar die ouens die Koran kan sit en lees.

Daar is ook hierdie "swembaddens" om die moskee en ek het gewonder of dit vir voetewas sou wees??

Die mense is steeds besig om die mosiëk in die binnehof te lê.

En buite is die tuine onder konstruksie. Sandra se navorsing sê dat 40,000 mense in die binnehof geakommodeer kan word en 5000 in die hoofbidlokaal... wow!! Klik op die link na Sandra se blog. Sy het 'n klomp baie interessante statistiek oor die moskee.

Die gedagtes wat by my opgekom het is dat ons as Christene nogal nie sulke kerke meer bou nie. Dawid wou so graag vir God 'n tempel bou om Hom te eer en onthou God se antwoord? Die aarde is die voetbank van sy voete. Hoe sal ons vir Hom 'n huis kan bou..... maar as ons as mense instaat is om soveel prag en praal te skep op aarde dink net hoe die stad van goud, die nuwe Jerusalem sal wees!