Thursday, April 24, 2008

Dag een en twee...

En terwyl ek hier sit en skryf, is ek al besig met dag drie... die tyd gaan so vinnig verby. Dit was so lekker om die kinders weer te sien en met blomme begroet te word. Die ongemaklike sit en kannie slaap op die vliegtuig skoon vergete. Ons is sommer reguit na Petwings se kantore om vir die hondjies se vlieg te finaliseer en gesien dat hulle nie net hulle eie hokkies kry wat spesiaal vir hulle gemaak word nie, maar dat hulle ook gourmet kosse gevoer word op die vliegtuig.
Ek moes opsluit eers saam met die kinders huis toe om met die hondjies te gaan begin bond... so sê my dogter. Hulle was baie vrolik en vol dinge en probeer die kat van die kas af kyk omdat sy daar sit en eet en hulle kan nie bykom nie.
Betty dra vier of vyf nuwe klein hondjies en dis 'n goeie tyd vir die tieners om uit die huis te kom dat die mamma kan rustig raak voor die kraam. Ons het lekker saam kos gemaak en gekuier en al die honde om ons...
hier sit Jimmy onder my romp en wat julle nie kan sien nie is dat een van die Chihuahuas ook onder die romptent sit. As dag een hoofsaaklik kinders en honde was was dag twee familie en kerk. Riza lei die praise en worship... (foto's volg) Ek is nog nie heeltemal papprazzi... of mammarazzi nie, maar dis spesiaal vir DJ.
Na kerk het ons heerlik gaan eet en kuier by Angela en Hannes se huis. Hannes het die tafelgebed met sms gedoen en ons het die familie in Dubai sommer baie gemis. Hier sit ons aan die tafel voor die ete en Hannes,
die foto van Angela en Alessia is spesiaal vir jou. Ek het vir Roxanne die drukkie van jou gegee sus. Sy mis jou ook baie.
Ek het baie tyd met Alessia spandeer. Sy is agt maande oud en by dierbaar verby.
Sy het haar behoorlik verkyk aan Niël met die kamera en
by Elriza gesit en speel met die hondjie... wat ook soentjies gekry het. Ek praat sommer gou weer... intussen het ek gaan warm skoene koop want to ek vanoggend wakker word was dit 2... ja twee... (2) grade. Jinne wanneer laas het ek so koud gekry.. Ek hou julle op hoogte. Lief julle almal

Friday, April 18, 2008

Kuier in Dubai

Ek het die afgelope week 'n kursus bygewoon in Dubai... change management... want niks is mos so seker soos verandering nie en in Dubai is alles gedurig aan die verander. Hannes het gisteraand sy brawe nuwe "perd" opgesaal om van Dubai af tot amper in Sharjah te ry om vir my te kom kuier by die akademie. Ons besluit om iewers te gaan eet en ek dink ek weet waar daar plek is en ons durf die verkeer aan.
Die plek is nie waar ek gedink het nie maar Hannes beindruk my met " o, ek weet waar ons is" en "kom ons gaan Festival city toe". Hy is nog net 'n paar weke hier en ek.... sal liewer nie se nie.. en ek verdwaal nog steeds. Die terugkom was nie so maklik nie want ons kry nie die tonnel terug se opening nie. Ja ek weet hoe dit kink en ons het omtrent op 'n ekspedisie gegaan om weer die akademie te kry.
Ek het so ruk terug vir Sean en Hannes gaan kuier, voor Lorraine terug was... ek kyk net die pragtige uitsig uit die woonstel.
Hannes het die mooi foto in Madinat Jumeirah souk geneem waar ons gaan eet het. Ek dog ek deel ook sommer met julle die nuwe Chinese eetplek in die Al Wahda mall hier in Abu Dahbi waar ons vanaand gaan eet het voor ek more op die vliegtuig klim om vir agt dae in Suid Afrika te gaan kuier. Ek gaan my bes doen om nuus en foto's te stuur van my kuier en Niel se gradeplegtigheid.
Dee was so bly ek is terug.. hy pas my omtrent op... hy le sommer net hier by my in die studeerkamer... nou gaan die ounooi alweer more weg en as ek terugkom, kom Taffee en Didi ook saam. Ek dink ek gaan dan heelwat te vertelle he. Nog meer goeie nuus oor die honde kinders later... met foto's.. belowe. Ek en my kamera is nog nie heeltemal so heeltyd saam nie.

Friday, April 11, 2008

Siek dierekinders.

My Dee kat het mos die ewige groot nies en soms raak dit baie erg. So neem ek hom weereens Veearts toe en hy word opgeneem... kwotasie... DHS3000. Dis omtrent R6000 en ja, ek snak na my asem en verduidelik dat ek baie lief is vir hom en graag hom gesond wil hê maar dis 'n straatkat! En die veearts sê sy sal eers die basiese doen... dan later sien wat nog nodig is... ja asseblief. Sy ounooi is nie 'n miljoener nie.As ek bel om te hoor hoe dit met hom gaan... word ek deurgesit na die saal toe en dan praat ek met die saalsuster wat vertel dat hy goed doen en reeds sy tweede neusspoeling gehad het ens. Na twee dae kom hy huis toe met antibiotika en hy is sommer baie beter. Hier sit meneer op die bank en lek die pootjie waar die naald vir die narkose in was... siestog... En by die Elriza word Tavid ook in die hospitaal opgeneem met 'n erge ontsteekte magie... "hy het maar 'n sensitiewe magie ma"... sê sy ounooi Elriza. Na drie dae is hy ook darem weer beter en kom met 'n verband huis toe. Maer... maar beter. Kyk hierdie ogies... anders as Dee wat hom nogal nie aan kameras steur nie, is Tavid glad nie mal oor kameras nie. Hoop die diere bly nou gesond. Ek dink aan mediese fonds vir hulle almal maar 'n voorlopige kwotasie hier in die land se paaiement is genoeg vir 'n nuwe kar....

Sunday, April 6, 2008

Mens ken nie altyd die hele storie nie

En toe word ek weer na 'n troue uitgenooi en die keer is dit na 'n senior tegnikus wat van Pakistan kom se dogter se troue. Anders as die Arabiese troue wat ek bygewoon het, is die mense nie heeltemal... opsigtelik... ryk nie en die troue BAIE minder spandabel. Die onthaal was in 'n klein banketsaal in 'n hotel wat ek nog nooit voorheen raakgesien het nie.
Dis oud en eenvoudig en daar is blomme... op 'n klein tafeltjie met 'n pienk en 'n geel lap, staan die kunsruikertjie van pienk en geel rose met goue randjies en als. Daar is ook 'n bank met 'n rooi lap oor en agter die bank teen die pienkerige gordyne hang een string rooi plastiek blomme en een string oranje. Ek wonder of ek dit nie vir hulle moet afhaal nie... Ek verstaan die bloome later toe die bruid ingestap kom met haar rooi en oranje rok. Die rok is vol blinkertjies en dit lyk swaar...
Sy gaan sit op die bank met die rooi lap en haar susters weerskante van haar in hulle pers uitrustings en pers oorbelle... dis baie kleurvol... baie erg... . Anders as die Arabiese troue waar die bruid eers teen amper twaalfuur aangekom het, is die bruid al 8h20 daar... Die uitnodiging sê 8h00 maar ons is net omtrent tien mense, die bruid se ma en twee susters en broer (net daar toegelaat omdat hy vir die gaste sê waarheen om te gaan.... want die mans is in 'n ander vertek) ingesluit. Die bruid se gesiggie is so ernstig en sy sit met afgeslane oë dat ek regtig vir haar baie jammer voel. Dit lyk nie of sy wil trou nie.Daar is ook nie mense nie . Moet sê dat daar tien minute later gereeld mense begin inkom het, totdat die twee sussies opspring en klein bordtjies met rooi en wit roosblare gryp en na die deur toe gaan... 'n soort erewag vorm. Hulle strooi van die roosblare op die vloer vir die skoonma en skoonsussie wat aankom... in die lewe... Maar die bruid kyk skaars na hulle en ek dink so by myself dat ek ook bietjie dikbek sou wees as hulle vir ander mense roosblare strooi en nie vir my nie... as ek nou die bruid sou wees.
Sy is ook nie vreeslik bly oor die gaste wat inkom nie, maar iets moois gebeur.... 'n ouerige Pakistaniese vrou kom in... en glimlag vir almal en stap na die bruid en praat saggies met haar. Sy lig die bruid se ken en kyk in haar oê... ek kry trane in my oë. Ek het lankal gedink sy het 'n drukkie nodig. Ek is dood dors, maar dis half tien voor ons uiteindelik kan gaan eet. Die kos het heeltyd daar gestaan en nee, ek weet nie waarom mens nie maar vroeër kon eet nie. Die kos is gewoon drie slaaie, drie soorte vleis, twee soorte rys en twee soorte nagereg. Geen oordaad, geen vermorsing op versierings nie... mens drink sommer die keoldrank so uit die blikkie, hoewel ek later ontdek dat daar wel regte glase op die tafel is vir water wat mens sou kon gebruik. Ek het 'n fout gemaak om nie 'n persent saam te neem nie. By die Arabiese troue het hulle ons vertel die bruid hanteer nie geskenke op die troue nie, so toe dog ek dit sou dieselfde wees. Dit fassineer my ook dat die geskenke mooi toegedraai is maar in die plastieksakke van die plekke waar hulle gekoop is op die tafel staan... soos kruideniers... dit lyk nie mooi nie. Ek vind later uit die bruid en haar bruidegom het mekaar in 2006 ontmoet en van mekaar gehou... Die families het gereken dis ok dat hulle trou. Hulle het albei IT geswot en tot die troue mekaar nie eintlik weer gesien nie. Die families is verlangs verwant. Die paartjie gaan Londen toe oor drie dae... vertel die vrou wat langs my sit, maar ek vind later uit dat die bruid 'n maand moet wag vir haar visa om in Londen te kan bly en werk en dus is die bruidegom sonder sy bruid weg. Die bruidegom se ouers woon in Londen waar die pa 'n groot elfvertrek huis het, word ek vertel. Die paartjie gaan eers daar bly todat die pa later vir sy seun 'n huis sal bou... ai tog... ek wonder of die bruid ooit weer sal glimlag... en intussen soek ek vir haar 'n geskenk. Iets moois wat haar sal laat glimlag...

Friday, April 4, 2008

Jy verjaar!!!


Baie geluk met jou verjaarsdag Elma. Ek hoop dis 'n pragtige dag en wonderlike jaar vir jou. Jy moet die dag en die bederf geniet. Vader se rykste seën vir jou en joune.


Baie liefde

Monday, March 31, 2008

'n Nuwe park in Abu Dhabi

Daar is nou weer 'n nuwe plek wat mens kan gaan besoek as hier mense kuier, maar ek reken nogal nie dat die park in die somer sal oopwees nie, want toe ons Vrydag die wind trotseer en in die al hoër temperature wat ons begin beleef die park gaan besoek, het ek gevoel dis amper klaar te warm om die hengse end van die hek na die museum/restaurante/ akwarium te stap... Ons het in elk geval soos kleintjies "gehardloop" ... nie regtig HARDLOOP nie... om op die treintjie te klim wat reg om die park ry met die doel om soveel moontlik met so min moontlik effort te doen. Ek het net weer besef die mense doen nogal niks in kleinmaat nie en dit voel vir my so onderbenut. As ons so amfitiater in Suid Afrika kon hê... dink net.. en kyk die pragtige tuine en grasperke. Daar is natuurlik ook die dele wat wys dis eintlik woestyn en sien hoe elke palmboom sy eie klein sproeiertjie het. Dis "lewensnoodsaaklik" vir die plante en bome in die land, maar wat mens waardeer is dat hulle geen moeite.. of koste ontsien om dit mooi te maak nie. Die speelpark vir die kinders en pragtige fonteine is alles bewys daarvan. Ek het die akwarium baie geniet. Kyk hierdie mooiste vissies... ok, party is minder mooi, maar hierdie "lelike" ou het so mooi "gepose" vir 'n foto. Daar is 'n "heritage" museum, maar die is toe. Nie seker waarvoor nie, maar die voeltjies maak solank nes en die twee perde kry taamlik aandag. Die ou soek net water... kan verstaan. Teen die tyd was ek ook lekker dors. Ongelukkig was die restarant toe ook toe. Eendag as ons weer gaan, sal die Marina museum dalk ook oop wees... en die restaurant... en dalk sal mens met 'n bootjie op die grag om die mooi gebou en onderdeur hierdie hout dhow kan vaar.

Saturday, March 22, 2008

Die storie van wag

Toe Niël Desember hier gekuier het, het hy 'n paar aande so op die mat gesit en teken met pastelle en verf met akriel. Dit het my laat dink aan die matriek portefeulje vir die kunseksamen toe jy ook so op die mat die een ding na die ander sit en teken en opskeur en weer teken het. Die prent van die souk is met pastelle gedoen en het ook amper in die asblik beland...
Nie ek nie, Niël. Die ander prent is Ragab wat by die venster met die rooi tou sit en wag dat Joshua Jerigo moet kom verower en haar wegneem uit haar lewe van sonde en vernedering. Die prente het lank gelê want julle weet mos hoe kan mens soms planne maak om iets te doen en dan nie daarby uitkom nie.
Maar ek het dit laat raam en kyk hoe mooi... toe kom die volgende probleem... waar gaan ek hulle hang. Voor ek by ophang van die prente kon uitkom, moes ek eers 'n ander sakie afhandel. Ek dink al 'n hele ruk aan 'n kas vir al die Kindergroep goeters, want elke Vrydag en Maandagaand voor kindergroep soek ek deur drie verskillende sakke en die laaie in die sitkamer en die boekrak in die eetkamer en die rakkie in die studeerkamer om alles bymekaar te kry. Toe begin ek 'n kas soek... en daar is 'n prentjie in my kop, maar die kas om die prentjie te pas ontwyk my. Eie aan my aard het ek ongeduldig begin voel en allerhande opsies oorweeg en myself daarmee probeer versoen, maar uiteindelik tog die wilde perde van iets dadelik te wil hê onder beheer gekry en gewag. En ek is so bly, want toe ek verlede naweek by die stoor naby Mina mall kom, waar ek baie van my houtmeubels gekoop het, sien ek dadelik die kas raak en die prentjie pas.
Toe moes ek wag dat die kas eergister agfelewer word, maar toe die kas op sy plek staan, kry die prente ook sommer plek. Gedink ek deel dit met julle. Baie dankie Niël, die prente lyk pragtig.