Tuesday, August 14, 2007

Ek en F.R.O.G by die kantoor


F.R.O.G, vir almal wat nog nie weet nie, is my nuwe klein Honda Jazz en die naam staan vir
Fully Relay On God.




F.R.O.G se parkeerplek in die parkeer garage.... waarvoor ek eindeloos dankbaar is, het die mooiste uitsig oor die Moskee en die tuine en as sy haar ogies skrefies maak, dan sien sy ook die Cultural foundation.


Dis wonderlik dat my kar nie in hierdie ontsagtike son staan die HELE dag soos so baie ander mense se karre nie.


My kantoor het ook geskuif van die 12 de vloer, waar ek 'n "glashok" of soos die mense dit noem, 'n cubicle gehad het, na die 15de vloer waar ek tussen al die senior Ingeniers sit in 'n lekker, meer privaat "kantoor".

Ek het drie telefone, maar eerlik.... ek weet nie om die een in die hoek te gebruik nie, al staan my naam daarop. Wat maak mens in elk geval met drie telefone???


Langs my kantoor is 'n klein "sitkamer" met 'n TV waar mense kan sit en wag vir 'n afspraak.

Daar is 21 verdiepings/levels in die gebou. Ek werk meestal op my eie vloer, maar ook elders, afhangende van die groep waarmee ek werk. Dis hoe "my" klaskamer lyk.
Alles is oopplan, ruim en pragtig. Meer as driekwart van die "mure" van die gebou is glas en mens kan van die boonste vloere af die see reg rondom Abu Dbahi sien lê. Ek kan nie nou fotos neem daarvan nie, want die humuditeit is so hoog dat die uitsig baie swak is. Dit lyk meestal in die somer of daar een of ander storm dreig, maar dis wensdenkery. Ons kry net stofstorms die tyd van die jaar.


Ek dink baie aan Psalm 16:6 Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval..... en tot ek weer eendag in my eie mooi land kan wees geniet ek regtig die groot bederf.

Monday, August 13, 2007

Ek is "ouma"

DJ noem my al lankal grandma "C", maar dis omdat hy so trots was op Pete en Nice se tweeling en dat hy hulle oom gaan wees en ek opgemerk het dat ek soos 'n ouma voel. Nou is hy uncle DJ en ek is grandma "C". Hy en Riza het darem gesorg dat ek die titel waardig is....

Ek het twee kleinkinders.









Tavid was eerste. Op hierdie einste rekenaar het ek en Riza na sy eerste foto's gekyk ... net na Riza 'n haarsny gehad het. Sy het so ernstige boodskap ontvang dat sy moet huis toe kom en kom "mail" lees en sy was maar stil, want met DJ weet mens nooit! Sy blindederm bars sommer op 'n kamp...

Sy moes 'n baba kom kies...

Tavid was op Valentynsdag nog te jonk om 'n geskenk te wees, maar met die hulp van die teler was hy oud en oulik genoeg om 'n kaartjie te wees. Ek weet nie baie mense het al so 'n oulike valentynskaartjie gekry nie en ek is seker DJ en Riza sal nie omgee om dit met ons te deel nie.






En toe word die mannetjie groter en natuurlik moes ek al sy foto's sien.





Tavid het te veel van sy mamma se aandag gevra en DJ het begin bekommerd raak dat hy in die mandjie sal moet slaap eendag... en toe kom Lady Beth. Ook die klein merrie se eerste foto het op die rekenaar verskyn.







En toe word sy ook groter.


Kyk hoe lyk hulle nou.


Hulle is altyd saam en ek dink DJ is nou veilig. Tavid en Beth sal seker in hulle mandjie slaap as jy hulle mooi vra uncle DJ.

Dj en Riza het groot planne en Tavid en Lady Beth het 'n geheimpie wat ek later met julle sal deel. Hang af....

Maar vir DJ en Riza is my gebed steeds: Phil 1:9,10 " And this is my prayer: that your love may abound more in more in knowledge and depth of insight, so you may be abe to discern what is best and may be pure and blameless untill the day of Christ."

Thursday, August 9, 2007

Jou verjaarsdag!!!


Hannes,

Baie baie geluk met jou verjaarsdag vandag. Mag dit 'n dag vol vreugde en 'n jaar vol voorspoed, seën en vrede wees.

Baie liefde
Jou Ous

Belê in mense

Hallo almal,


Toe ek 5 jaar gelede hier gekom het, was een van die moeilikste dinge vir my om skielik binneshuis te wees. Ek het in Junie hier aangeland, vol somer geslaan en baie gou besef ek kan nie buite leef soos ons gewoond is om in Suid Afrika te doen nie. Nie in die somer nie.... Die enigste ding wat ek kon doen, was om so gou moontlik vir my plante te gaan koop.Ek kan lang stories oor my plante vertel, maar die mooiste van almal was 'n "weeping union". Almal het opmerkings gemaak oor hom. Toe begin die katte sy blare eet.... verlede jaar Desember, het ek besluit om die plant in "pleegsorg" te plaas omdat hy so mishandel word. So sit ek hom buite op die balkonnetjietjie...tjie... wat ek daarmee wil sê is dat ek nou nie eintlik op my stukkie balkon kan kuier nie.... toe vergeet ek van hom.


Ek onthou nou die dag met 'n skok van my plant en kyk net hoe lyk hy nou!!!!!






Die res van my plante lyk nie so nie... sien?

Dit het my laat dink aan so baie Suid Afrikaners wat nou oral oorsee is en die enigste manier waarop ons met ons mense en geliefdes en vriende kan kontak hou, is met email en sms en nou ook hierdie wonderlike blog ding. Soos ek met my plant gedoen het, raak ons mense wat hulle families verlaat soms vergete en dan gebeur hierdie ding wat met my plant gebeur het, met ons binnestes. Ons raak net belangrik vir onsself en vergeet dat sonder water (kontak) gaan die verhouding dood al is ons hoe lief vir die plant (persoon). Soms hoef mens nie eers in die buiteland te wees nie. Mense woon in dieselfde stad en maak nie kontak met mekaar nie. Ek het nou die ander dag met 'n pa gepraat wat sê sy seun het tweejaar laas met hom gepraat....


Ek lees vanoggend hierdie stukkie waarheid raak. Dis deur Rick Warren geskryf:



"You’ve probably heard the expression -- “You can’t take it with you”—but the Bible says you can send it on ahead, by investing in people! The Bible teaches, “By doing this they will be storing up real treasure for themselves in heaven—it is the only safe investment for eternity! And they will be living a fruitful Christian life down here as well.” (1 Timothy 6:19, LB)


Ek weet nie of julle dit raaklees nie... maar ek sien as ons in mekaar belê maak ons vir ons 'n skat in die Hemel bymekaar...






Terwyl die mail nou so op 'n ernstige trant is, sluit ek 'n paar foto's in van die baie geharde palms wat nou 'n knou kry in die ongelooflike hitte wat ons hier beleef. Dit herhinner my aan die swaar wat ook soms sy merk op ons los.
En toe sien ek hierdie bome raak... die blare is, anders as wat mens van plante wat hier in die woestyn oorleef verwag, nie hard en grof nie, maar wonderlik sag. Mens kry sulke mense ook... Watter storie sou mens oor hulle kon vertel?


My "weeping union" is nou in intensiewe sorg. Ek sal julle op hoogte hou van sy vordering. Dalk sal hy met die ekstra kontak en liefde dit tog maak.


Wees goed vir mekaar en moenie kontak "lig" ag nie.

Tuesday, August 7, 2007

Katte, honde, leeus en kinders

Hallo almal,


Ons het ook diere en kindertjies in die land... tot leeus!!!! en ek het 'n blou tandmerk op my been om dit te bewys.
Niël, my oudste, sal hierdie mail nogal geniet, want hy het diere in die sak... of het hulle hom in die sak? Hier is hy met Tavid .....in sy sak ....en met Nala by die dam.....wat sê sy vir jou seun? en soentjie van Jimmy.


Een van die Suid Afrikaanse vrouens wat hier is, werk vir die Sheikh en "bestuur" sy diere. Ons loop haar in die winkel raak en sy is haastig, want sy sê sy het twee leeutjies in die kar... ja ek weet. Ons het haar ook nie geglo nie, maar toe sê sy, "kom kyk".
Hierdie twee bly in haar villa, in haar kamer en slaap in die campcot. Aanvanklik was hulle maar baie skrikkerig vir ons, maar toe hulle ons gewoond raak, kon ons foto's neem en aan hulle vat. Dit was so wonderlik!!!
Die dogtetjie wat hier onder die tafel sit, het die mooiste wakker ogies en sy is ook die meer ekstrovert. Haar boetie is meer versigtig, baie ondeund en toe William vir Mercedes, die dogterjie, op die skoot vashou het hy ook nader gekom en William met sy poot gekrap om hom ook op te tel. Oulik... ek stem saam, maar wil ek hulle in die huis... in my kamer hê? Ek dink nie so nie. Ronel het haar hande vol met die twee en slaap amper niks en kan nêrens gaan nie. En sy sê hulle eet alles wat hulle in die hande kry. Die twee het nounet begin vleis eet en moet nog so maand by haar bly voor hulle reg is vir die "plaas". Op die oomblik is dit te warm. Maar Ronel vertel dat al die diere se hokke lugversorg is. Ek belowe ons sal gaan kyk en ek sal foto's neem. Ek het intussen my eie "leeu" en ons twee doen alles saam... in die badkamer...
dan in die kombuis, waar hy sy eie glas het en wat ek altyd moet vol hou met yskoue water. Hy drink nie kraanwater nie, maar ek kan verstaan. Ek bad op die oomblik in die water uit die koue kraan. Ek draai nie eers die warm krane oop nie. Praat van sonverwarming....
En dan slaap hy onder andere ook in die wasgoedmandjie.
Mens sien orals in die mall die klein Arabiertjies met hulle Katooras en gister het ek moed bymekaar geskraap en die klein patroon se pa gevra of ek maar 'n foto mag nee. Die mannetjie se naam is Ghaith. Hy het eers sy stokkie heen en weer geswaai en gelyk of hy wil wegkruip, maar toe ontspan hy en "pose" so mooi vir die foto. Julle moet hierdie goeterjies sien as hulle nog doek dra met die lang wit rokke....


Ek gesels gou weer. Hou die blinkkant bo










Saturday, August 4, 2007

Oud en nuut

Liewe almal,



Ek het verlede keer vertel van Le Meridien en hoe bang ek is hulle besluit om te sloop. Die een ou hotel waarvan ek vertel het en wat nou gesloop is, is die Khalidya Palace. Dit was een van Wiehann se gunsteling plekke.
Hier lê die man heerlik in die son. Die grasdakkies was vir my so mooi en soos mens in die flieks sien, het die kelners bestellings kom neem vir eet- en drinkgoed. Die paleis is nou iets van die verlede, maar hier neem Wiehann foto's van Abu Dhabi mall. Dis nuut... die mall is sowat 5 jaar oud.

Die foto's wat Wiehann neem is van die straatkant maar aan die seekant van die mall het mens die pragtigste uitsig oor die swembad en strand van die Beach Rotana Hotel wat aaneen loop met die mall. Mens moet "ongelukkig" by 'n restaurant gaan sit om foto's te neem van hierdie wonderlike uitsig. Soos die goue koek by die Emirates Palace, moet mens so af en toe gaan cinnabons eet. Dis soos iemand eenkeer gesê het... "evil", maar o so lekker!!

Ek en Sandra deel 'n minibon. Dit bly ongeveer drie maande op mens se heupe. Ek het vir die res van die dag water gedrink om die soet af en deurgesluk te kry, maar dis 'n groot MOET proe.
Nog 'n ou plek waar ek en die seuns graag kuier, is die Al Dhafra restaurant.

Die foto van Wiehann is binne die restaurant geneem. Kyk die kenmerkende palmblaarmure. Die kos is heerlik en ek en Wiehnn kan ook sê moenie die kwartels eet nie en hou verby die oranje stuff op die poeding tafel, maar die Uhm Ali is HEERLIK. Dis 'n Arabiese brood poeding en al eet ek net 'n teelepel vol, skip ek dit nooit.

Toe ek 50 geword het, is hierdie ou foto van my en Riza en Wiehann geneem. Kyk hoe lyk dieselfde hoekie in die sitkamer nou.

Ek het die nuwe foto gisteraand geneem. Ek kan nie glo hoe baie die plant gegroei het in die twee jaar nie. Een van die dae sal ek van Vicky hulle se "duin in die huis" moet gaan haal om my "boom" te plant.

Wednesday, August 1, 2007

Le Meridien

Ons het middagete by Le Meridien gaan eet. Dit was al so amper by middagete verby met die vol oggend wat ons gehad het en ons was goed honger en dors. Die koek by die Emirates Paleis en vrugtesap by die Cultural Village het net so klein gaatjie volgemaak.
Daar is 'n hele klomp hotelle in Abu Dhabi en tenminste drie van die lekkerste en mooiste plekke om te swem was by hotelle wat tot op die grond afgebreek en oorgebou is. Mens kom net eendag daar dan is die hekke toe en die mense vertel die plek word gesloop. Waarom nou die lang storie? Wel, Le Meridien is een van die ou hotelle wat die maatjie is van die geslooptes en dit maak my heel senuweeagtig, want dis sooooo mooi plek. Ek lief die groen tuine en bome en voor ek hier kom bly het, toe ek nog net in Abu Dhabi kom kuier het, was Meridien al 'n favorite. Kyk die babakatte wat ook hier bly... is dit nie opvreetbaar dierbaar nie!!
Ek het baie herhinneringe en stories vandag. My eerste ervaring van Meridien is 'n besoek saam met vyf ander dames... en toe was ons almal sewe jaar jonger, aan 'n Lebanese restaurant waar hulle ook belly dancing doen. Ek het my verkyk aan die bak met "slaai" wat hulle voor ons neergesit het... 'n hele heel slaaikop, heel tamaties en heel komkommers. Dit was doodstil om die tafel soos ons gedink het wat om daarmee te maak... toe Bets so ewe droog opmerk dat ons 'n messie moet vra dan maak ons maar ons eie slaai. Ek kan nie onthou wat ons op die ou end gedoen het nie, maar ek weet wel dat die Belly dancer mens so nader hark met haar stokkie en dan moet mens saam met haar dans. So sit ek niksvemoedend en kyk want meisies dans mos nie met meisies nie... en hier hark sy my nader.... jinne!!! 'n Ander herhinnering aan daardie aand was die rou lewer wat hulle as voorgereg bedien. Nie gemaal en vol kruie nie ouens,... net 'n stuk rou lewer wat die ou op die plank by die tafel sny en wat mens dan net so saam met die slaai en brood eet. Ons het uit die aard van die saak dit baie hartlik van die hand gewys. Ek kan die storie vertel omdat die ou wat by die tafel langs ons gesit dit met soveel smaak geeët het. JUK!!!



Buiten die Bellydans restaurant is daar ook 'n paar ander, maar onder andere Chi-Chi's. Dis 'n Mexikaanse restaurant wat ook spare ribs bedien. Dis waar ek en Amelia en Sandra gaan middagete eet het. Nee ons het toe nie die ribs geeët nie. Een van die redes vir die besoek aan die Chi Chi's is natuurlik die uitsig oor die strandjie, die hawe en die eilande om Abu Dhabi. Chi's is altyd op die lys van plekke om te besoek as hier kuiermense is.

Die hotel het 'n wonderlike spa waar hulle allerhande behandelings doen. Lorraine en Elriza het ervaring onder andere van die modderbaddens. Ons was al 'n paar keer in die Turkse baddens en soos julle seker weet het die verskillende baddens verskillende temperature... die warmste bad is 38 grade en daarna kan mens, as jy taai is, in 'n yskoue bad gaan klim..... ek is nie so taai of stupid nie en ek het nie gedink enige iemand anders is nie. So dare ek Elriza vir Dhs100 om in die yskoue bad te klim en toe doen sy dit!!! Duur dare... ek sal dit nie weer doen nie. Ons het ook Elriza se 21 ste verjaarsdag ontbyt by die hotel geeët. DJ het vir haar 'n ruiker rooi rose daar laat aflewer. Die bloemis moes 'n baie goeie verduideliking gekry het van hoe Elriza lyk en meer, en gehoor het hoe belangrik die bos blomme is, want toe sy haar staan kry na sy uit die motor geklim het, toe is die ou by met die bos blomme. Ek sien nog die totale verbaaste uitdrukking op Elriza se gesiggie.... Ek dink dit gee julle so klein bietjie van 'n idee van hoe jammer dit sal wees as die mooi plek gesloop moet word want as enige een van julle kom kuier, sal ek julle graag soontoe neem.


Groetnis