Thursday, December 20, 2007

Dis jou verjaarsdag!!

Baie geluk met jou verjaarsdag Eunice. Ek hoop dis 'n wonderlike dag vol heerlike vreugde en vrede en dat dit die hele jaar by jou sal bly.
Die allermooiste wense vir jou vir die jaar wat voorlê. Hier is 'n mooi bos blomme vir jou. Ek hoop
jy word lekker bederf en dat jy Vader se liefde sal voel vandag en elke dag .
Baie liefde
Charmaine

Tuesday, December 18, 2007

Niël se kuns...

Baie dankie vir die foto's wat ek uiteindelik gekry het seunskind. Ek deel dit graag met almal. Niël sê hy wag nog vir die uitslae, maar Unisa het hom gebel en aangebied om een van sy werke vir hulle kunsversameling te koop. Baie geluk Niël. Ek hoop nie dis dieselfde stuk wat Riza gevra het vir die kerk se jeuglokaal nie. :-) Ek is so bly die baie broos patroon het gehou en gehang!!
Ek bel toe vir Niël en vra wat beteken al die werke en hy stuur vir my 'n verduideliking maar Ek kan nie die goed oopkry nie. Nou gee ek terugvoer soos ek by Niël gehoor het en as dit verkeerd is seunskind, kan jy op die blog vir almal reghelp.

Die tema is kamofleur, maar dit gaan oor dinge wat deel is van almal en wat of in die ouerhuis (daarom die muurpapier) deel van ons gemaak word, of vanuit ons se direkte omgewing... die land. Die bottels bevat "ingelegte" handtekens... Dit verteenwoordig Jesus, vriendskappe en ander dinge wat ek nie kan onthou nie. Ons leef lewens en mense sien uiterlik die tien persent van hoe ons reageer en optree, maar 90 persent is onder die oppervlak onlosmaaklik deel van wie ons is.
So leef ons in 'n land vol geweld... die stuk met die pistool.. en dis ook die stuk wat die kunsgallery by Niël wil koop. Dis alles so waar Niël en ek is beïndruk, maar ons kan vashou aan die wete dat wanneer ons Jesus Koning maak van ons lewens, maak Hy alles nuut en dan maak die dinge om ons nie saak nie. Hy sê ons sal moeilikheid hê in die wêreld, maar om nie te kommer nie, want Hy het die wêreld oorwin.

Tuesday, December 11, 2007

Jesus is beter as Santa Claus

Na aanleiding van my vorige post, stuur Riza toe vir my hierdie baie pragtige stuk oor Jesus en Santa en ek deel dit graag met julle. Ek vertaal dit en dis nie deur my uitgedink nie. Dis met volle erkenning aan die persoon wat die stuk geskryf het met so mooi seëngroet daarby.
Jesus is beter as Santa


Santa bly in die Noordpool, Jesus is oral. Santa ry in 'n slee, Jesus ry op die wind en loop op water. Santa kom net eenkeer 'n jaar, Jesus is altyd en alomteenwoordig. Santa maak mens se kerskouse vol goetertjies, Jesus voorsien in elke behoefte. Santa klim ongenooid deur jou skoorsteen, Jesus staan by die deur van jou hart en klop.. en maak Sy woning in jou hart. Mens moet in die ry staan om Santa te sien, Jesus is so naby soos die noem van Sy Naam. Santa laat jou op sy skoot sit, Jesus gee jou rus in Sy arms. Santa weet nie wat is jou naam nie. Al wat hy kan sê is "hallo klein meis/ meneertjie, wat is jou naam?"Jesus het jou naam geken voor jy gebore is. Hy ken nie net jou naam nie, maar ook jou adres. Hy ken ons verlede en ons toekoms, Hy weet selfs hoeveel hare op ons koppe is. Santa het 'n jelliepensie, Jesus het 'n hart VOL liefde... Hy IS liefde. Al wat Santa bied is ho.. ho... ho... , Jesus bied "hope, health and help. " Santa sê: "Moenie huil nie", Jesus sê: "Werp al jou bekommernisse op My, want Ek sorg vir jou."
Santa se helpertjies maak nuwe speelgoed, Jesus gee nuwe lewe, maak stukkende harte heel, herstel gebroke huise en bou vir ons 'n paleis in Sy koninkryk. Santa laat jou glimlag, maar Jesus gee vreugde wat jou sterk maak. Terwyl Santa geskenke onder die boom pak, het Jesus vir ons aan die kruishout gesterf. Dit is teen die tyd seker baie duidelik dat daar werklik geen vergelyking is tussen Santa en Jesus nie. Kom ons sit Christus terug in Kersfees. Hy is steeds die REDE vir Kersfees.
En toe kry ek ook hierdie pragtige foto's van drie klein engeltjies daar ver in Johannesburg. Ousus Amika, ondeunde Ilke en baba engel, Xenia.

Saturday, December 8, 2007

Kersfees kom

In die land kom Kersfees ook en so met die eerste oogopslag lyk dit dieselfde. Die winkels is vol kersversierings en mens kan kersbome en kerskaartjies koop en alles.


Die verskil is dat die boodskap in die versierings en die kerskaartjies nie Jesus is nie, maar Santa Claus.
Die strate en geboue is pragtig versier,

maar dit is vir die land se nasionale dag op 2 Desember, nie kersfees nie...
maar dit is nogtans so feestelik.

Die kindergroep by ECC sluit af, nie omdat die kinders se jaar verby is nie, maar omdat hulle begin eksamen skryf. Elize Kruis het vir ons handwerk kom doen en as jy terug dink na lank lank lank gelede Niël, toe ek en jy ons eerste groot provinsiekamp saamgedoen het en jy handwerk gedoen het, sal jy onthou dat die tannie dit vir jou aangebied het.

Ons het die aand so geniet. Nou het ek ook 'n kerskous... nog nooit een gehad nie.

Ons berei voor vir 'n Internasionale kerssangdiens by ECC

en ja, in Suid Afrika het ons ook kerssangdiens gehad, maar hier trek Suid Afrikaners en vriende saam want ons families sit baie ver en ons gaan nie na die familie toe nie, want kersfees is nie vakansie nie. Inteendeel, alles in die land tel nou eers spoed op. Baie van ons, ek ook, sien darem met groot verwagting uit na kuiers van familie van die huis af.

Ons vier kersfees en ons toets ons harte vir die ware boodskap van kersfees.

Tuesday, December 4, 2007

Ou vriende

Nuwe vriende is silwer en oues goud... so sê die gesegde en dis so waar.Na vyf jaar kon ek weer heerlik saam met Neels en Jandre en kinders kuier. Wiehann het skaaptjops en varkribbetjie en wors gebraai vir ons en met mengelsaai en vrugteslaai en PAP en sous, was dit 'n heerlike SA kuier. Ons kan vrugeslaai maak hier, maar dis baie duur en dan smaak die mangos nie soos die wat van Natal of Nelspruit af kom nie. Ek koop eendag 'n piesang met 'n skil so taai mens moet dit omtrent afbytel... en toe is die piesang hard en frank... galbitter, net om uit te vind dis 'n Indiese piesang wat eintlik gebak moet word. 'n Ander dag het ek vir 'n appel uit die USA Dhs 6 betaal... een appel!! Dis so R11. Selfs groente is duur in die land. Dit hang af of mens "local" groentes koop, of groente uit Indië, of Holland, of USA of Lebanon of Suid Afrika. Soms, net soms... kry mens selfs gem sqaush.
Baie dankie Neels en Jandre vir die pyn en frustrasie van die hoofweg tussen Pretoria en Johannesburg aanpak vir die heerlike kuier. Ons het gesels asof daar geen tyd verloop het tussenin nie.

Saturday, December 1, 2007

Ons meisies kuier

Een van die spesiale dinge van kuier by die huis is as ons sommer so op die ingewing van die oomblik kan besluit ons gaan ontbyt eet en gelukkig werk niemand nie... ek is met vakansie en Angela het babaverlof by die huis en Lorraine is gereed om Dubai toe te kom. Sy wag net dat Roxanne haar laaste vak vir matriek skryf, en die Kollege het gesluit.... so drie geslagte van meisies kon bietjie saam kuier.


Natuurlik is die kleinste ook die een wat die kuier reël en al die aandag kry en op meeste van die foto's is. Ons het mos almal ons beurt gehad van so belangrik wees of hoe. En as daar nog 'n boetie of sussie kom, dan is dit skielik verby en moeilik om te verstaan. Alessia het so effens van 'n rustelose nag gehad en was nie lus vir enige van ons nie.


Net mamma was in tel en solank sy in Angela se arms was, was sy vol glimlaggies. Dis reg poplap. Jy mag maar so voel.


Hierdie foto's bêre mens vir die familie albums. Dis so spesiaal dat ouma en susters en dogter op een foto saam is. Dankie vir elkeen van julle en vir die tyd maak vir hierdie baie belangrike saamkuiers. Mens weet nooit wanneer dit weer kan gebeur nie. En 'n addisionel lekker was regte scones!! Ek weet hoekom my klere so styf sit na die tien dae..

Thursday, November 29, 2007

Die kinders speel

Die klein hondjies het vir ure se pret gesorg. Riza en DJ besluit die "kleingoed" moet elkeen 'n speelding kry en dit moet by hulle persoonlikhede pas. Ons gaan ruil Niël se korreltjie loodverf om vir verf wat glad is en Riza sien die sagte speelgoed. Dit neem lank om met sms saam met DJ te besluit wat elkeen moet kry. So kry Pancho die sagte beertjie en Taffy die leeu en Diddi die kameelperd.Maar by die huis, besluit pappa Tavid hy moet elke speelding eers uittoets

en mamma Beth help met die goedkeuring
en almal word toegelaat om saam te speel.Dit lyk of die kameelperd die grootste aftrek kry,
maar Diddi kry op die ou end die leeu beet en gaan lê onder die bed daarmee. Hierdie honde gesinnetjie is opvreetbaar oulik. Tavid en Beth is sulke oulike ouers en kry baie liefies van ounooi Riza. Hulle gebruik ook die tydjie om mekaar so bietjie te liefkoos. Is dit nie pragtig nie. Pancho moet een van die dae na sy nuwe huis toe gaan. Ek weet... my hart wil namens Riza en die res van die gesinnetjie breek, maar dis mos maar hoe dit is. Ons bid dat hy na 'n liefdevolle huis toe gaan en sal sorg vir groot pret.