Tuesday, November 27, 2007

Kuns eksamen

Hallo almal, Ek is terug in Abu Dhabi na 'n baie kort en besige tien dae. Maar ek het darem gesien hoe Niël se laaste Unisa kuns praktiese eksamen vorm aanneem... sien seunskind... ek glo dis die laaste eksamen. Volgende jaar kom vier ons jou "graadvang" .

Niël sny patrone uit 'n stuk plywood... met 'n figuursagie.. en die uiteindelike produk is pragtig, maar dit breek uitmekaar. Ek lê lank wakker die nag en wonder wat Niël kan doen want daar is nie tyd vir iets anders uitdink nie.. my seun werk op adrenalien en op nr 99,99 en ons almal se senuwees gee in.

Ek sien hoe hy die patroon teen iets plak en maak die voorstel van 'n perspeks agtergrond. Ek het nie die eindproduk gesien nie, maar gehoor dat die stuk nog 'n paar keer gebreek en gelas en gebreek is maar uiteindelik gehang het en ek sal foto's kry. Ek beter Niela.
Ek was ook beïndruk met die kamofleer tema en die reuse foto's wat uitgsny en teen 'n geskilderde agtergrond geplak is. Riza wou weet wat hy daarmee gaan maak na die eksamen en Niël sê hy gaan dit verbrand... so moeg kan mens raak vir sukkel. Maar Riza stel voor hy hang dit in die jeuglokaal van die kerk en so gesê so gedaan. Maar die lokaal moet nog ontwikkel word.. praat van prentjies sien wat nog in die toekoms lê.
Ek sal foto's stuur van die kuns wat hang daar in Unisa se eksamenlokaal... julle beter vir my foto's stuur kinders. Ons hou duimvas vir die uitslae Niël. Ek wens net jy het twee naweke vroeër begin werk aan die kuns. Ek het ernstig uitgemis op kuier met jou en die kosbare tye met familie wat mens mis, kry jy nooit weer terug nie.... En 'n krises soos ies wat breek kon rustiger herstel word.

En Meis, dan sal ek graag die jeuglokaal wil sien as dit ontwikkel is en die prente hang teen die muur... reg so?

Sunday, November 25, 2007

'n Splinternuwe baba seuntjie

Welkom Nicholas Phillip Brooke.Die klein man moes eers Kersfees gekom het en toe kies hy sy eie datum en besluit op 19 November. Hy weeg 3,7 kg... yslik groot en reg om met die twee boeties te speel. Kyk hoe absoluut pragtig is die seun.
Die boeties het Kersvaderpakke gekry omdat hulle Kersvader speel in die skool se opvoering. En hulle het vir Kersvader by die mall vertel hy hoef vir hulle niks te gee nie want hulle kry 'n boetie by ma en pa vir Kersfees. Daarom die kerspakke om die nuwe boetie te gaan verwelkom in die hospitaal sien.
Pete sê Nicholas gaan nog vir baie verassings sorg, so ons hou ons reg. Nicholas Phillip beteken "Victory of the people / Lover of Horses" . Baie geluk Pete en Eunice en Steven en David!! Baie liefde en Vader se rykste seën vir julle.

Friday, November 23, 2007

Johannesburg... vreeslik maar mooi

My hele familie is nou in Johannesburg.. dit nadat ons almal in die Vrystaat gebore en getoë is. Hoe het dit gebeur?? wonder ek baie keer. Maar ja, mens gaan mos maar waar die werk en die geld is. Ek het 'n paar keer by myself sit en dink dat ek REGTIG nie in hierdie stad wil bly as mens 'n uur lank ry aan 15 kilometer nie. Dan ook nog die taxis!!! Ek en Riza kom die eerste Sondag van die kerk af en sit vas in die verkeer op die hoofweg omdat hulle mense voorkeer wat verkeersboetes het wat nie betaal is nie. Riza hou haar asem op en ek wonder so by myself hoekom... sy verdedig en sê sy KAN nie altyd binne die spoedgrens bly nie... o Meis? Maar gelukkig word ons nie afgetrek nie... phew!!
Die eerste dag het die seuns elkeen 'n YSLIKE burger geëet wat Fuddruckers 'n goeie "go" kan gee. Dit kan voordelig wees, want hulle wou die res van die dag nie weer kos sien nie.
Ek bly altyd by dieselfde gastehuis en as ek die kunstige Afrika tema so om my het, dan kan ek ook vergeet ek is eintlik in Johannesburg.
Die strate is pragtig met die Jakarandas wat nou blom. Dan verstaan ek so bietjie van mense wat die stad liefkry en bereid is om die slegte te hanteer vir die goeie en die mooie waarna mens nie te ver hoef te soek nie.

Sunday, November 18, 2007

Roomys vir ontbyt

As julle wonder of ek lekker kuier, ja, ek doen. Mens kan mos nie kla as jy vir jou verjaarsdag 'n lekker Wimpy ontbyt kan eet en Wimpy koffie drink...sommer 'n groot koppie vol ..en dan roomys kry vir 'n "geluk met jou verjaarsdag" nie.
Kyk ek deel darem mooi met Elriza ook. My verjaarsdag het Sondag al begin met 'n lekker ete saam met die familie.

Hier is ma en Elriza,
en Elriza saam met my ma se niggie Elizabeth, wat net so agt of nege jaar ouer as ek is en wat ek presies 25 jaar laas gesien het.

Niel bekyk die pragtig gedekte tafel. Dit was so heerlike feestelike ete. Dankie so baie Lorraine en Angela vir al die reelings en die groot bederf. Dis heerlik om na vyf jaar weer 'n verjaarsdag by die huis te vier.

Ek het wonderlike geskenke gekry... iets vir die siel... musiek, 'n gedig, 'n boek, en dan vir die plesier... sjokolade en nougat... en vir die lyf, heerlike rome, bederf sjampoo en alles... en dan die twee goetertjies... hulle wou eintlik net mekaar se strikke afbyt. Ek sien so uit om hulle huis toe te bring, maar die veearts se eers teen einde Februarie volgende jaar. Dan is al die ente en toetse afgehandel. Ai, hoe gaan ek uithou tot dan? Riza is baie bly.

Thursday, November 15, 2007

Bietjie nuus hier van Johannesburg af

Hallo almal, Ek dink die eerste nuus wat ek wil deel is oor die honde en die babatjie.
Ek kon nie wag om die goedjies in my arms te hou en op te soen nie. Die hondjies is vreeslik oulik en spelerig en dierbaar en eintlik kleiner as wat ek gedink het hulle sou wees. Ek weet nie presies hoe groot ek hulle geskat het nie, maar ag... hulle is maar baie effens.

Maar soos regte honde speel hulle en byt mekaar se ore en krap hulle oortjies, jaag hulle stertjies
en dan gaan le hulle op 'n bondeltjie en slaap te lekker.

En natuurlik klein Alessia... Sy is pragtig en besig en wakker en baie nuuskierig. Terwyl almal kuier en lag en gesels, slaap sy net sulke kort stukkies. Hier is sy by my tannie Charmaine, wat baie suinig was om haar met iemand anders te deel... ek is mos darem 'n hele paar vashoue agter.
Ek het darem 'n foto van haar en ouboet Steyn

en mamma Angela en pappa Hannes geneem. Die dingetjie gesels al lang stuke babataal sinnetjies. Sy is 'n ou engeltjie...

Sunday, November 11, 2007

Tyd vir niks

Die tyd ding is iets wat kort kort opspring... of die heeltyd by ons is. Ons is almal so besig en ons weet soms nie of dit die regte dinge is nie, want waarom maak dit ons so gedaan. Vader se juk is sag en die las wat Hy op ons lê is lig, so waarom voel dit soms of die wêreld op mens se skouers rus? As gedagtes soos hierdie by my opkom, dan word dit meeste van die tyd sterker gemaak. Vicky skryf 'n brief en sê...."ja DJ het gesê die duiwel maak mens besig nê! Dit maak my bang, want hoekom is ek dan heeltyd so besig en alewig moeg…maar die ergste, is ek met die regte dinge besig?" En ek wonder of jy my gedagtes lees Vicky?

Dan begin ek met 'n nuwe Bybelstudie en Anne Graham sê in haar openings gedeelte dat sy so besig geraak het met die dinge van die Here dat sy nie meer tyd gehad het om haar Bybel te lees nie en toe sy uiteindelik daarvoor begin tyd maak, kry sy al die antwoorde op haar vrae. Die Bybelstudie se naam is "Just give me Jesus", en dit is ook die versugting van my hart. In dieselfde week ontvang ons 'n brief van DJ en hy skryf oor die "first spiritual flaw". Ek het sy toestemming om te deel wat hy geskryf het en hoop dat dit vir almal wat die lees, soveel sin sal maak soos vir my. DJ sê dat ons weet God het 'n wonderlike plan vir ons lewens... Jeremia 29:11, maar dan gebeur die volgende; God het ons lief en MENSE het 'n wonderlike plan vir ons lewens. As ons proaktief wil beheer neem oor ons tyd en lewens moet ons eerstens ontslae raak van die "obvious" tydstelers en dan leer om nee te sê vir mense wat ons by te veel goeie dinge wil betrek. Om vir mense te kan nee sê moet ons eers bepaal wat God se prioriteite vir die seisoen van ons lewe waarin ons onsself bevind is. DJ sê: "Good is the worst enemy of God's best" . Dis nodig om nee te sê omdat dit nooit moontlik sal wees om strategies te belê in wat God se beste vir ons lewe is as ons tyd opgeslurp word deur "goeie aktiwiteite, wat selfs ons werk vir die kerk, kan insluit nie.


Om nee te sê is nie net 'n goeie idee nie, maar 'n noodsaaklikheid. Ons moet vir onsself die volgende vra;

1. tot watter mate ly ons aan die siekte om ander tevrede te stel en

2. wie probeer ons tevrede stel en

3. wat dink God daarvan?

Dankie DJ, vir al die wysheid wat ek met ander kan deel. My plan van aksie is om 'n lys te maak en dit in gebed na Pa toe te neem sodat Hy vir my kan sê waarmee ek tyd mors en waarmee ek Hom eer. Sou ons dit met mekaar kon deel?
Ek gaan nou in Suid Afrika wees van 10-20 November en daar mag dalk so bietjie van 'n "blogstilte" daal. Ek sal wel probeer om so een of twee keer "huisnuus" te stuur.

Thursday, November 8, 2007

Arabiese troue en die "fun" vooraf

Ek word toe uitgenooi na 'n baie oulike kollega, saam met wie ek nou al 'n hele ruk werk, se troue. Ek wil baie graag gaan, maar nie alleen nie en ek vra of Sandra kan saamkom. Dis reg so , sê hulle... hulle neem almal hulle susters en vriendinne saam. Hoe begroot mens vir so troue ouens? en ek vra wat trek mens aan... en die antwoord is "party dress" "shoe lace" bandjies en "slits"... alles is geoorloof. Dis reg so maar ek weet ek is in die moeilikheid want ek besit nie 'n "party dress "nie. En so sak ek en Sandra op die malls toe en SOEK.... Dis nie dat daar nie "party dresses" in die land is nie. Mens kry hulle in die helderste van helder pienk en skreeu blou en giggel groen. Ons loop van winkel tot winkel en soek soos "kraaie vir die blinkgoed"... sê Sandra... Uiteindelik kom ons by 'n winkel met die naam van Aftershock... mens wonder of jy dit moet waag, maar ons is desperaat. Ek sien sagter blou, silwergrys, koperbruin en wow, dit lyk beter... dis eintlik pragtig.. Die top is duurder as wat my hele troue gekos het, maar ek pas aan want ek is desperaat... en dit sit STYF. Ek dink aan Wiehann se opmerking toe hy agt jaar oud was en die Juffrou vir hom 'n klein t hemp bestel vir die revue... Wiehan het so oor sy lyf gevat en gesê " killer t-shirt" Ek vra vir die verkoopdametjietjietjie of daar nie 'n groter nommer is nie en sy sê nee op 'n manier wat sê "gaan soek op 'n ander plek" en ons doen so..Op die ou end koop ek 'n swart romp en DUUR sykouse. Ai tog, mens moenie die winkels vertrou wat nie pryse op hulle goed het nie... Ek sluk amper my kleintongetjie in toe die verkoopsdame dit lui, maar daar staan ander mense ook so, ek voel nie ek kan vir haar sê sy moet lekker wees as sy dink ek gaan soveel betaal vir sykouse nie... en ek betaal dit...... ek leen op die ou end 'n top en Sandra dra haar swart romp en koop 'n top en so is ons uit ons helder dag klere in ons swart aandklere terwyl die Arabiere uit hulle swart dag klere in hulle helder blink aandklere klim. Ek erken nie die meisies in hulle aandklere nie en my kop werk oortyd om iets bekends aan die gesigte te soek. Die transformasie is ongelooflik. Ek sou so graag vir julle wou foto's neem, maar dis nie geoorloof nie. Ek weet nie hoekom nie, want niemand sal enige iemand op die foto's erken nie. Ek sien hoeveel lyf baie van die Arabiese vrouens wegsteek onder die swart Abajas. Hulle lywe is gegiet in die aandklere... "killer dresses" sou dit raak beskryf. Oor die troue self kan ek net sê dat ek vir BAIE te veel ure na die afgrysklikste musiek geluister het en nes ek dink iets het vreeslik verkeerd gegaan met die cd dan sien ek hoe sing van die mense saam... die musiek klink of iemand in vreeslike pyn verkeer... soos wanneer mens iemand se hand in die kluisdeur toegemaak het. Moet my nie eers vra van die volume nie. Geen vorm van kommunikasie is moontlik nie. En die eetgoed? Baie interessant en 'n aanhoudende stroom. Eers slaaie en hamouse, daar is baie soorte het ek nou agtergekom... en dan soetgoed tussenin, sjokolade, vye met neute, dadels met neute en soet taai bruin stuff met neute. Vrugtesap, zatar tee, chai tee... nee, nie die soort wat ons ken nie, dis swart en soet... en gaskoeldrank en soet tee met melk en safraan, dis baie lekker... en natuurlik Arabiese koffie wat soos medisyne smaak. Dan die hoofgeregte, RYS en vleis.. en neute en noedels en nog RYS. Dan die nageregte, koek en nog sjokolade en daai geel poeding met die soet sousie? Daarna baklava en nog sjokolade.. en toe kom sulke klein koppetjies met geel stuff wat soos dun vla lyk en bruinerige korreltjies wat soos sago lyk en ek proe en dit smaak bietjie soos dun vla en ek drink dit op. Sandra wil nie hare hê nie en ek drink hare ook. Tussen twee snitte musiek vra ek Hessa wat dit is en sy sê dis baie goeie medisyne vir vrugbaarheid en menstruasie en maag en sy wys met sterk handbewegings dat dit ALLES wat verkeerd is in jou liggaam uitwerk buite toe.... oeps. Die bruid kom toe eers twintig oor elf daar aan. Dis eintlik 'n baster fotosessie en dit voel my al seshonderd gaste het saam met haar posseer vir foto's ... Die bruid sit op haar bankie op die verhoog. Sy is spierwit gegrimeer en kan skaars haar oë oopkry so swaar is haar ooggrimering. As ek nie geweet het wie sy is nie, sou ek haar ook nie herken het nie. Wat sing Randall... witgepoeier en rooi gepaint en kyk hoe lyk sy nou! Tien oor twaalf kom haar bruidegom saam met haar pa en broers en skoonpa en swaers en hy, die bruidegom vryf sy neus teen hare... hulle sê nie 'n woord nie, sit saam op die bankie en toe nog foto's. Uiteindelik kan ons huis toe gaan. Ek is moeg en vol en baie dronk van die oorverdowende musiek.... ek ruik soos wierook en soek water...